Anna-Mart van der Merwe verskyn in 2007 op SARIE se voor- blad met haar grys hare
FOTO Leana Clunies-Ross

Anna-Mart van der Merwe verskyn in 2007 op SARIE se voor- blad met haar grys hare FOTO Leana Clunies-Ross

Skoonheidstories

Vyf interessante feite oor natuurlike grys hare

Grys hare is een van die grootste haartendense van die laaste jare! Jonger vroue dra grys hare trots as ’n sexy bykomstigheid. Vroue wat hul natuurlike grys hare laat uitgroei, het besluit ouderdom is ’n ingesteldheid; die kleur van jou hare is nie ’n weerspieëling van jou ouderdom nie. Veral húlle inspireer ons!

Hieroor gaan Vir Altyd: Sterre vertel

Hiér is ’n paar interessante feite om te weet van ’n natuurlike grys kroon:

1. Klein selle aan die onderkant van jou kopvel se epidermis, genaamd melanosiete, is verantwoordelik vir die kleurpigmente in jou hare. Soos ons ouer word, begin dié selle al hoe minder doeltreffend werk totdat dit heeltemal ophou om kleurpigmente te vervaardig.

2. Jou gene bepaal wanneer die proses van grysword begin. “Mense met ’n ligte velkleur is geneig om vroeër grys te word as dié met ’n donker velkleur. Rooikoppe word ook gewoonlik vroeër grys as mense met baie donker hare, soos Asiërs,” sê Anabel Kingsley, direkteur van kommunikasie vir die Philip Kingsley-handelsmerk en dogter van die bekende trigoloog Philip Kingsley. Hoewel die rede hiervoor nog ’n raaisel is, vermoed trigoloë dat die hoeveelheid melanien wat natuurlik deur jou vel vervaardig word ’n rol speel.

3. Al ooit gewonder hoekom sommiges spierwit hare het en ander met sogenaamde sout-en-peper hare pronk? Hare wat die meeste van hul kleurpigmente verloor het is grys, terwyl wit hare alle kleurpigmente verloor het, sê Trevenen Bam, plaaslike konsulterende trigoloog vir Philip Kingsley in Suid-Afrika.

“Mense met ’n ligte velkleur is geneig om vroeër grys te word as dié met ’n donker velkleur. Rooikoppe word ook gewoonlik vroeër grys as mense met baie donker hare, soos Asiërs.”

4. Grys hare voel gewoonlik growwer omdat die haarkutikels (die buitenste deel) dunner is, wat veroorsaak dat jou hare vinniger bros en droog word. Die kopvel se natuurlike vervaardiging van olie begin ook afneem teen die tyd dat jy begin grys word, sê Trevenen.

5. Hou jou grys hare gesond en blink deur hare weekliks met ’n bevogtigingsmasker te behandel. “Omdat grys hare minder of geen melanien bevat nie, kan dit ook baie maklik deur die son se UV-strale beskadig word,” sê Anabel. Gebruik daarom daagliks ’n produk wat hare teen sonskade beskerm. Vermy hare wat vaal en geel lyk deur ’n silwer of perskleurige sjampoe en opknapper te gebruik.

Jackie Burger, stylikoon en eienaar van die opskiet-stylsalon Salon 58 FOTO: Verskaf deur Kiehl's SA

Jackie Burger, stylikoon en eienaar van die opskiet-stylsalon Salon 58, laat groei al sedert haar laat 30’s haar grys hare uit. FOTO: Verskaf deur Kiehl’s SA

Waarheid of ’n mite?

Die bekende Franse koningin Marie Antoinette het glo die oggend van haar onthofing weens spanning met spierwit hare verskyn nadat sy die nag in die tronk deurgebring het. Volgens Trevenen is dié verskynsel byna onmoontlik omdat hare nie van kleur kan verander nie, maar wit of grys uitgroei. Sommige trigoloë vermoed sy het nog altyd wit hare gehad en het bloot net nie haar pruik gedra nie.

Supermodelle verklap hulle slaap soms met grimering aan – lees meer!

Probeer dié produkte vir grys hare:

  1. Schwarzkopf Gliss Serum Deep-Repair Intensive Recovery Mask (R90)
  2. Davines Alchemic Silver Shampoo (R220) en Conditioner (R305). By uitsoeksalonne
  3. Moroccanoil Styling Gel Strong (R250). By uitsoeksalonne
  4. Dove Intensive Repair Shampoo en Conditioner (R43 elk vir 200 ml)
  5. John Frieda Full Repair Repairing Oil Elixir (R110). By Clicks
  6. Philip Kingsley Daily Damage Defence Conditioning Spray (R600). By uitsoekwinkels van Edgars
  7. Kérastase Chronologiste Revitalizing Shampoo (R305) en Conditioning Masque (R1 000). By uitsoeksalonne

 

Grys – nog nooit so sterk, só sexy!