Skoonheidstories

5 mooiste maniere met oogomlyner

Ons is mal oor oogomlyner! Jy’t nie veel meer as maskara en oogomlyner nodig om ’n sexy en afgeronde grimeervoorkoms te skep nie. Boonop is daar soveel verskillende maniere om oogomlyner te gebruik. Dié vyf oogomlyner-idees is perfek vir die somer …

1. Goue glinster

’n Fyn goue lyntjie teenaan jou boonste wimperlyn is mooi en sexy. Dit lyk veral goed by blou oë en ’n songlans vel. Vir ’n meer dramatiese voorkoms kan jy eers swart of bruin oogomlyner teenaan jou boonste wimperlyn aanwend en ’n goue oogomlyner bo-oor trek. Rond dan jou voorkoms af met verbronser op die dele van jou gesig waar die son dit natuurlik tref en ’n neutrale lipstiffie-skakering.

 

2. Ingeleef en sexy

Oogomlyner wat ingeleef en effens onnet lyk, is nou hoogmode. Vir ’n ingeleefde dog glansryke aandvoorkoms wend swart oogomlyner op jou onderste wimperlyn aan, smeer (smudge) dit met ’n borseltjie en wend dan ’n romerige pienk oogskadu liggies bo-oor aan. Die pienk oogskadu versag die swart lyntjie en gee subtiele glans sodat die skadu onder jou oë nie te donker is nie.

 

3. Eyeliner stacking

Dié tweekleurige oogomlyner-trend sorg vir ’n minimalistiese dog sterk voorkoms – dis nie eens nodig om enige ander grimering aan te wend nie! Gebruik ’n swart vloeibare of jel-oogomlyner en trek ’n netjiese lyntjie met ’n klein “vlerkie” teenaan jou boonste wimperlyn. Sodra die swart oogomlyner droog is, gebruik dan ’n vloeibare oogomlyner in ’n helder skakering en trek ’n tweede lyntjie al langs die bokant van die swart lyntjie. Van ons gunsteling-kleurkombinasies is swart en wit, swart en pers en swart en helder ligblou.

4. Turkoois

Hoewel dié voorkoms die afgelope paar jaar hier en daar kop uitgesteek het, word dit deesdae op al hoe meer bekendes gesien. Die goeie nuus is dat turkoois oogomlyner by alle vel- en oogkleure pas. Dit laat jou oë uitstaan en is perfek vir wanneer jy net ’n spatsel kleur op jou gesig wil hê. Gebruik ’n romerige oogpotlood wat waterbestand is om te verseker dat die kleur heeldag op jou oë bly. Hou die res van jou ooggrimering subtiel en rond jou oë af met hope maskara.    

5. Klassieke katoog

Dié voorkoms, waar jy ’n “vlerkie” vanuit die binnehoeke van jou oë trek met jou oogomlyner, is moeilik om reg te kry. Maar met ’n bietjie oefening ís dit moontlik. As jy ’n beginner is, trek ’n lyntjie op jou boonste wimperlyn tot by die buitehoek van jou oog. Kyk vir jouself in die spieël en maak ’n kolletjie waar jy wil hê die “vlerkie” moet eindig. Trek dan die oogomlyner vanaf die buitehoek van jou oog tot by die kolletjie.

via GIPHY

Probeer dié produkte

Urban Decay 24/7 Glide-On Eye Pencil in Goldmine (R215)

’n Romerige waterbestande oogpotlood. By Urban Decay in Sandton City, Johannesburg

NYX Liquid Crystal Liner in Crystal Silk (R90)

Vir goud met glans! Dié vloeibare oogomlyner bevat superfyn goue blinkers. By Clicks

L’Oréal Paris Infallible Stylo Eyeliner Waterproof in Night Day Black (R150)

Gebruik die sagte sponspunt om jou oogomlyner sexy en effens ingeleef te laat lyk

L.O.V Unexpected Eyeshadow in Aurora (R135)

Dié splinternuwe grimeerreeks spog onder meer met romerige poeier-oogskadu’s soos dié skakering. Tik dit liggies bo-oor jou oogomlyner aan vir ’n sagter voorkoms. By Dis-Chem

Maybelline Master Ink Liner in Luminous Black (R130)

Die fyn punt van dié vloeibare oogomlyner maak dit makliker om ’n netjies lyntjie te trek

Elizabeth Arden Beautiful Color Bold Defining 24HR Liquid Eye Liner in Electric Blue (R265)

Waag met kleur! Probeer dié vloeibare oogomlyner wat geformuleer is om lank op jou oë te hou

Lees nou

Taylor Swift verdien die meeste

Kies die regte onderlaag vir jou vel