FOTO Instagram (@phformula)

FOTO Instagram (@phformula)

Skoonheidstories

Waarskuwing: Dís wat alkohol aan jou vel doen

Die meeste van ons weet dat alkohol nié die sleutel tot ’n mooi gesonde vel is nie. Maar ons besef ook nie altyd hoe skadelik daai heerlike pienk mengeldrankie werklik vir jou vel kan wees nie.

Maar voor jy moed verloor … Ons glo ’n mooi vel sowel as die genot van jou gunsteling-drankie ís moontlik. Daarom het ons die web gefynkam vir die belangrikste waarskuwings en ’n paar slim wenke.

FOTO: Ter illustrasie Unsplash / Jens Theeß

FOTO Unsplash / Jens Theeß

Dís wat alkohol aan jou vel doen:

1. Alkohol ontneem jou vel van water. Dit onttrek water uit jou lyf se selle en verhinder die vervaardiging van vasopressien, ’n hormoon wat jou liggaam help om gehidreerd te bly. Oor tyd raak jou vel droog, grof en jeukerig, met fyn lyntjies en plooie meer sigbaar.

2. Die ensiem wat jou vel help om natuurlik van dooie selle op die oppervlak ontslae te raak, leef in water. As jou vel nie genoeg water bevat nie, word jou vel dan ook nie doeltreffend afgeskilfer nie en lyk dit vaal en leweloos.

3. Alkohol veroorsaak inflammasie in jou vel en is daarom ’n groot sondaar wanneer dit kom by chroniese rooiheid en die vorming van fyn gebarste aartjies net onder die veloppervlak. Dié inflammasie kan jou vel warm, rooi, jeukerig en opgeswel laat voel, veral op jou neus en wange.

Gelukkig beteken dit nie jy hoef alle alkoholiese drankies vir altyd af te sweer nie. Die geheim is om jou drankies slim te kies en alkohol matig te gebruik.

Wanneer jy alkohol drink, hou dié wenke in gedagte vir ’n mooier vel:

• Baie navorsers meen dat een glas rooiwyn die beste drankie is wat jy kan drink. Dit bevat resveratrol, ’n kragtige antioksidant wat in groot hoeveelhede in die skil van rooi druiwe voorkom. Dis inflammasiewerend én beskerm jou lyf teen die skade wat vry radikale aanrig.

• Kies jou drankies slim! Buiten ’n glas rooiwyn, kies eerder alkoholiese drankies wat helder, deursigtige alkohol bevat, soos vodka, jenewer (gin) of tequila. Dit bevat minder ekstra bestanddele soos kleur- en geurmiddels wat jou lyf nog meer kan irriteer.

• Hoe minder bestanddele jou drankie bevat, hoe beter. Vermy veral soet skemerkelkies omdat dié drankies gewoonlik ’n mengsel van alkohol en suikerbelaaide gaskoeldrank, sap of stroop bevat. En dié kombinasie waarborg ’n veluitslag!

• Probeer om nie meer as drie keer ’n week alkohol te drink nie. Dis ook beter om byvoorbeeld drie aande in die week een drankie te drink, pleks van meer as drie drankies oor ’n naweek. Jou liggaam verteer klein hoeveelhede alkohol oor ’n langer tydperk beter as baie op een slag.

Bronne: www.vogue.com, www.huffingtonpost.com, www.refinery29.com, www.perriconemd.com

Lees nou

Amber Heard het mooiste gesig ter wêreld… Stem jy saam?

Raai wie is ná 15 jaar steeds saam?