FOTO Instagram (@madonna)

FOTO Instagram (@madonna)

Skoonheidstories

Watter haarstyl was gewild in jóú geboortejaar?

Vroue was nog altyd lief daarvoor om met haarstyle en -snitte te eksperimenteer. Van klassieke snitte, soos die bob, wat selfs vandag nog gewild is, tot vreemde style, soos die mullet, wat ons hoop liefs nie weer gaan kop uitsteek nie. Watter haarstyle was in jóú geboortejaar gewild? Die SARIE-skoonheidspan het gaan uitvind …

1945

Tydens die veertigerjare was dié gedefinieerde krulle of sogenaamde “victory rolls”, soos wat die aktrise Rita Hayworth graag gedra het, gewild.

rita-hayworth-victory-rolls-pearl-ad

1950

In die vroeë 50’s het die aktrise Grace Kelly se kenmerkende Franse rol (chignon) talle vroue geïnspireer om soortgelyke elegante style te skep.

1952

Die model Bettie Page het in dié jaar ’n dik, stompgesnyde kuif gewild gemaak.

1953

Die aktrise Audrey Hepburn het gewys net hóé elegant en sexy ’n vrou met ’n kort haarstyl kan lyk.

1955

Later dié dekade het blonde hare met groot spiraalkrulle geseëvier danksy aktrises soos Marilyn Monroe.

1960

Die Franse aktrise en model Brigitte Bardot het in die laat-50’s poniesterte gewild gemaak. In 1960 was dié effens deurmekaargestapelde en opgekamde styl hoogmode.

1963

Die opgestapelde haarstyl van Brigitte Bardot het oor die jare verander in ’n meer formele byekorf-styl (die beehive) wat hope haarsproei benodig het.

1965

Tydens die middel-60’s het ’n sjiek bob vir die eerste keer vlamgevat – vandag is dit steeds van die gewildste haarstyle vir vroue.

1970

In die vroeë 70’s het baie vroue hul hare lank, reguit en met ’n middelpaadjie gedra, soos die sanger Cher.

1971

Baie vroue het ook aktrise Jane Fonda se oneweredig versnipperde haarstyl (die sogenaamde shag-styl) nageboots.

1975

Wie sal dié kenmerkende haarstyl van aktrise Farrah Fawcett kan vergeet? In die middel-70’s het talle vroue hul hare in lae laat sny en volumeryke golwe geskep.

1980

Tydens die vroeë tagtigerjare het musiek-ikone soos Joan Jett met meer gewaagde haarstyle geëksperimenteer. Toe was ’n versnipperde bob-haarstyl, soos dié van sanger Chrissie Hynde van die musiekgroep The Pretenders, veral gewild.

1985

In die middel-80’s het pop-ikoon Madonna ’n styl van gekartelde hare (perm) wat hoog op jou kop met ’n serp vasgemaak is, laat vlamvat.

1988

Die permanente karteling was tydens die 80’s vir lank ’n gunsteling. Veral saam met ’n kuif vol hope volume, soos aktrise Sarah Jessica Parker hier dra.

1990

Prinses Diana se gemaklike kort haarstyl het talle vroue na hul haarkappers laat hardloop vir dié moeitelose snit.

1995

Die aktrise Jennifer Aniston se karakter in die TV-komedie Friends, Rachel, het dié skouerlengte-styl met sy parmantige lae gewild gemaak.

Bronne: www.goodhousekeeping.com, www.yahoo.com

Lees nou

Koffieverslaafde? Dis dalk in jou gene!

Aktrise Courteney Cox spyt oor botoks