vogue_uk_march_2013_cara_delevingne_cover
Skoonheidstories

Kry só die perfekte wenkbroue

Die Britse supermodel Cara Delevingne het wenkbroue weer op die voorgrond geplaas. Maak die beste van joune!

Jou wenkbroue is een van die belangrikste fokuspunte wanneer jy grimeer.
Goedversorgde wenkbroue kan jou jonger laat lyk, sê Lana Pienaar, nasionale opleidingsbestuurder vir die grimeerreeks Inglot. Veral dikker wenkbroue wat ’n bietjie meer reguit loop, komplementeer die meeste vroue.

Daar is nie iets soos die perfekte wenkbrouvorm nie, maar dis belangrik dat jou wenkbroue mooi gedefinieerd is. Lana stel voor: Laat groei dit vir sowat twee maande uit en besoek ’n professionele terapeut om jou wenkbroue mooi te vorm. Daarna kan jy dit self onderhou deur elke haartjie wat uit plek is met ’n knyptangetjie te pluk.

Wenke vir jou wenkbroue

  • Wenkbroue lyk weliger deur die gapings tussen jou wenkbrouhaartjies met ’n oogskadu of wenkbroupotlood in te vul. Kies ’n skakering na aan die kleur van jou haarwortels, sê René Stephenson, nasionale opleidingsbestuurder vir die Camelot Spa Groep. Vul jou wenkbroue in deur aan die onderkant ’n fyn lyntjie met jou potlood of oogskadu te trek. Skakeer dan die lyntjie met ’n hoekige wenkbrouborsel na bo.
  • Dun garedraadjies om wenkbrouhaartjies te verwyder (threading) is baie gewild. Met dié tegniek kan ’n terapeut meer presies werk om die perfekte wenkbrouvorm te skep, asook die fynste haartjies te verwyder. Boonop word die fyn vel onder jou wenkbroue nie gerek nie.
  • Tem deurmekaar wenkbroue met deurskynende wenkbrou-jel nadat jy jou wenkbroue
    ingekleur het. Dit sal jou wenkbroue in plek hou en die oogpotlood of oogskadu langer
    laat hou.

Bepaal jou natuurlike wenkbrouvorm

Chris Williams, nasionale grimeerkunstenaar vir Estée Lauder, verduidelik hoe om jou natuurlike wenkbrouvorm te bepaal.

wenkbrou

  1. Hou ’n potlood vertikaal vanaf jou neusvleuel na die binnehoek van jou oog. Begin jou wenkbroue inkleur op die plek waar die potlood aan jou oogbank raak.
  2. Beweeg die potlood totdat dit skuins oor jou pupil lê. Waar die potlood jou wenkbrou raak, behoort ’n effense boog te wees.
  3. Beweeg nou die potlood tot by die buitenste deel van jou wenkbrou. Jou wenkbrou behoort hier te eindig.

Lees ook: