FOTO: Instagram (@alliemarieevans)

FOTO: Instagram (@alliemarieevans)

Skoonheidstories

Weeksdagwenk: Beveg statiese hare met dié 7 wenke

Tydens die koue maande is die droër lug ons hare se grootste vyand, veral wanneer dit lei tot hare wat staties is en in alle rigtings opstaan. Jou hare word staties wanneer baie droë hare en vesels teen mekaar vryf. Ons het  7 wenke gaan opspoor waarmee jy dié seisoen opstaan-hare kan verminder.

JA of NEE: Dra jy sonskerm in die winter?

Minder sjampoe, meer opknapper

Was jou hare minder en wend ná elke was opknapper aan. Sjampoe en water droog jou hare uit. Wanneer jy jou hare minder was, gee jy dit kans om natuurlike olies te vervaardig wat help met bevogtiging. Wend opknapper net aan jou haarpunte aan omdat dit die deel is wat die vinnigste droog en staties word. As jou hare vinnig olierig begin voel, gebruik ’n droë sjampoe om die oortollige olie te absorbeer.

Probeer: Schwarzkopf Gliss Serum Deep-Repair Shampoo en Conditioner (R53 elk)

Gebruik die regte toestelle

Haardroërs en stileertoestelle wat ioontegnologie inspan, neutraliseer statiese hare deur negatiewe elektrone oor te dra na jou hare, wat met positiewe elektrone gelaai is. As jy jou hare gereeld met hitte stileer, is dit ’n goeie plan om in só ’n toestel te belê.

Probeer: ghd Curve Creative Curve Wand (R1 899). By uitsoeksalonne

ghd curve creative curl side

ghd Curve Creative Curve Wand

Gebruik stileerprodukte wat bevog en tekstuur gee

Stileerprodukte soos ’n haarmousse of ’n haarsproei wat tekstuur gee, bevogtig en “klou” aan jou hare en help so om dit minder staties te maak. Wend ’n ligte haarmousse of tekstuursproei net aan jou haarpunte voordat jy jou hare droogblaas of stileer.

Probeer: John Frieda Frizz-Ease Daily Miracle Treatment (R110). By Clicks

johnfrieda frizz ease

John Frieda Frizz-Ease Daily Miracle Treatment

Ons kies vir prinses Charlotte ’n paar uitrustings

’n Spuitjie haarsproei op jou borsel

Gebruik ’n ligte haarsproei en spuit ’n bietjie daarvan op jou haarborsel voordat jy jou hare kam. Die haarsproei sal help om opstaan-haartjies te tem. Hou die haarsproei sowat ’n liniaal-lengte van jou borsel af weg as jy dit aanspuit omdat te veel haarsproei statiese hare net sal vererger.

Probeer: Inoar Argan Hair Spray (R420). By uitsoeksalonne

inoar-argan-hair-spray-45-1430209934

Inoar Argan Hair Spray

Vermy haarborsels en -kamme van plastiek

Haarborsels en -kamme wat deur jou hare getrek word, is van die grootste sondaars wanneer dit kom by statiese hare. Gelukkig is daar baie borsels en kamme beskikbaar wat van metaal of keramiek gemaak is, of met ’n ioon-lagie behandel is om opstaan-hare te verminder.

Probeer: FHI Carbon Cutting Comb 8″ (R100)

comb fhi hare

FHI Carbon Cutting Comb 8″

Haarolie vir ’n kitsoplossing

As jy ’n mussie of ’n hoed gaan dra, wend vooraf ’n paar druppels haarolie aan jou vingers en kam liggies deur jou haarpunte om hare te tem en ekstra vogtig te hou. Jy kan ook droë sjampoe liggies oor al jou hare of binne-in jou hoed of mussie spuit om statiese hare te tem.

Probeer: Dove Pure Care Dry Oil Nourishing Treatment (R180)

Dove Macadamia Oil Packshot_Bottle

Dove Pure Care Dry Oil Nourishing Treatment

Dra jou hare in ’n vlegsel of bolla

Kies ’n haarstyl soos ’n vlegsel of ’n bolla wat jou hare styf vashou en die kanse vir statiese hare verminder. Hiér is ’n paar idees en stap-vir-stap-aanwysings waarmee jy dié herfs en winter nooit ’n slegte haardag sal hê nie.

Bronne: www.huffingtonpost.com, www.totalbeauty.com, www.womenshair.com

Die Gary Rom-blog: Gekrimpde hare