Stap vir stap

Alles wat jy oor vals wimpers moet weet

In die 1960’s was die Engelse model Twiggy bekend vir haar bonkige wimpers en vloeibare oogomlyner. Dit het haar oë wawyd oop laat lyk. Dié seisoen het jou wimpers selfs meer drama as Twiggy s’n danksy vals wimpers. Dis nie eers nodig om maskara aan te sit nie!

Is jy ook lus om die wêreld van vals wimpers te betree, maar onseker oor waar om te begin? Hiér is wat jy moet weet …

Só baie opsies! Kies reg vir jou

Vals wimpers kom in ’n magdom verskillende vorms en groottes, sê Faith Seoue, grimeerkunstenaar en plaaslike valswimper-kenner van die produkreeks Eylure. Dis nie altyd maklik om te weet watter vals wimpers is reg vir jou nie, veral as jy in ’n winkel vol keuses staan. Hou dié wenke in gedagte:

* As jy nog nie voorheen vals wimpers gebruik het nie, kies dié wat jy as ’n strook oor jou hele wimperlyn aanwend. Dis veelsydig, maklik om te gebruik en kom gewoonlik saam met aanwendingsgom, sê Faith.

* Individuele vals wimpers, wat jy op spesifieke dele van jou wimperlyn aanwend, is ook beskikbaar, maar is moeiliker om baas te raak.

* ’n Strook met effens langer wimpers in die middel lyk meer natuurlik.

* ’n Strook met langer wimpers aan die buitehoeke is perfek vir ’n dramatiese katoog-voorkoms en help ook om kleiner oë breër en meer oop te laat lyk.

* ’n Strook met vol, dik wimpers oor die hele strook is treffend en vertoon goed op foto’s.

Wend dit só aan

Stap 1: Gebruik ’n knyptangetjie om die vals wimpers uit die verpakking te verwyder. Meet die strook teen jou oog. As die strook langer is as die lengte van jou wimperlyn, kan jy ’n naeltangetjie gebruik en dit effens korter sny, sê Faith.

Stap 2: Gebruik ’n oorstokkie om die gom liggies op die wimperstrook aan te wend. Wag dan vir sowat ’n minuut tot die gom effens taaierig voel.

Stap 3: Begin by die buitehoek van jou oog en wend met ’n knyptangetjie die strook so na moontlik aan jou wimperlyn aan. Wag sowat ’n minuut vir die gom om behoorlik droog te word. Die strook moet dan stewig teen jou wimperlyn lê.

Stap 4: Wend daarna vloeibare oogomlyner bo-oor die wimper-stroke aan, gevolg deur twee lae maskara om jou natuurlike wimpers en die vals wimpers in mekaar in te weef, sê Faith.

WENK: Vir nóg drama kan jy ’n knyptangetjie gebruik om ’n paar wimperhaartjies op ’n slag teenmekaar te druk terwyl die maskara nog nat is sodat dit bonkiger lyk. Dié voorkoms is nie vir elke dag se dra nie, maar perfek vir ’n spesiale geleentheid of ’n aand uit.

Stap 5: Om jou vals wimpers weer te verwyder, gebruik ’n olievrye-grimeerverwyderaar om die gom te versag. Die vals wimpers sal dan maklik van jou oë afgly.

WENK: As jy nog sukkel met die aanwending van vals wimpers, kan jy ook vloeibare oogomlyner teen jou wimperlyn aanwend en wag tot dit droog is voor jy die strook opplak. Dit help om die strook te verbloem, sê Faith.

Probeer dié produkte:

Eylure Volume Starter Kit in No 101 (R80)

Dié valswimper-stelletjie kom met ’n oefen-wimper, aanwendingsgom en ’n spesiale aanwendingstokkie. By Dis-Chem en Clicks

M.A.C 3 Lash (R200)

Dié vals wimpers sorg vir ’n voorkoms van lang, vol wimpers.

Essence Lashes To Impress 02 Single Lashes Mix (R55)

Wend individuele vals wimpers net in die buitehoeke van jou oë aan om jou oë groter te laat lyk.

Essence Lashes to Impress Lash Glue (R50)

Jy kan dié bekostigbare aanwendingsgom apart koop.

Maybelline The Falsies Push Up Drama Mascara (R150)

Die smal borsel van die maskara maak dit maklik om elke haartjie van jou natuurlike en vals wimpers te bedek.

Bykomende bronne: www.paulaschoice.com, www.stylecaster.com

Lees nou

50 babaname wat verbied is

Wat sê jou lipstiffie se vorm oor jou?