Loopplank-skoonheid vir die kantoor
Foto’s: Schwarzkopf Galery
Om professioneel te lyk beteken nie jy hoef vaal en vervelig te wees nie. Jy mág mooi lyk!
By onlangse vertonings van modehuise soos Christian Dior, Chanel, Anna Sui en Versace was skoonheid eenvoudig, maar treffend. Omskep hierdie loopplank-inspirasie só vir die kantoor:
■ ’n Gloeiende, gesonde gelaat straal warmte in selfs die koue wintermaande uit. Kry dié voorkoms met ’n blosser in ’n heuning-skakering, koperkleurige oogskadu en ’n rooskleurige lipglans.
■ Swart, rokerige oë is ’n gunsteling, maar beslis te swaar vir die kantoor. Probeer ’n bruin, rokerige oog vir ’n meer subtiele voorkoms. ’n Vlootblou of eiervrug-pers kleur sal ook werk.
■ Kombineer eenvoudige swart oogomlyner met ’n helderpienk lipglans. Dit is vroulik, sag, maar steeds ooglopend. Ruil die lipglans vir ’n rooi lipstiffie om ’n stelling te maak.
■ Bêre vir eers die krultang en trek jou stileeryster nader. Reguit, gladde hare met ’n middelpaadjie is ’n kragtige styl wat ’n indruk skep. As jy voel dat jy steeds krulle wil hê, skep los krulle en dra ’n kantpaadjie.
■ ’n Korter haarstyl is terselfdertyd gemaklik én indrukwekkend. Dié seisoen se gunstelinge is ’n sagte bob met los krulle, ’n skerp asimmetriese styl, of ’n pixie-snit.
Verwante artikels
-
Sjiek rooitapyt-hare
SARIE Januarie 2012
Die Golden Globes-toekenningsaand is verby, maar twee bekendes se haarstyle is steeds ’n inspirasie vir enige glansgeleentheid. Veral jou troudag of selfs matriekafskeid! Charlize Theron en Paula Patton se stiliste deel die geheime agter hul sjiek en sexy hare vir dié aand.
















Kommentaar