FOTO Instagram / @hennielotter

FOTO Instagram / @hennielotter

Het jy gehoor?

VIDEO: Boer Hennie val hard vir Jacobu

Die negende seisoen van kykNET se Boer soek ’n vrou het toe wraggies gelukkig geëindig! Boer Hennie van Willowmore het sy hart verloor op die pragtige Jacobu, wat oorspronklik vir boer Arno van Newcastle in KwaZulu-Natal ingeskryf het. Maar Arno wou net vriende met Jacobu wees. En toe die reeks eindig, het die liefde tussen Hennie en Jacobu stadig begin blom. Nou is dié twee ’n paartjie!

Jacobu is ’n laerskooljuffrou op Somerset-Wes. Verlede Donderdag het Hennie haar gaan verras met ’n bos blomme, ’n brief – en natuurlik homself! Hy het in haar vriendin se woonstel gaan wegkruip en toe Jacobu die brief hardop vir dié voorlees, het hy by die trappe afgestorm gekom. Maar, ai, in sy haas om by haar uit te kom, het hy gegly. En toe kliphard geval!

Kyk die video hier:

Baie geluk, Jacobu en Hennie!

Lees nou

5 haarstyle wat nét 7 minute sal neem

Dié ster lyk onherkenbaar!

Trou jy in 2017? Dís wat jy moet weet …

FOTO Instagram / @peopleschoice

FOTO Instagram / @peopleschoice

Modestories

Die gewildste rokke by die People’s Choice Awards: JA of NEE?

Die rooitapyt-seisoen gaan oor veel meer as net die toekennings. Dit gaan ook oor wat die sterre dra. Ons kyk na die gewildste rokke – daardie rokke wat jou twee keer laat kyk – by die People’s Choice Awards-aand.

Hierdie is die vier rokke wat ons moderedakteur, Amaria Carstens, se aandag getrek het.

Maar ons wil ook weet wat jý dink: JA of NEE vir dié rokke? Los jou kommentaar onderaan die artikel of deel dit met ons op ons Facebook- of Twitter-blad!

Sarah Drew

Sarah speel Dr. April Kepner in Grey’s Anatomy.

Jennifer Lopez

Jennifer is as gunsteling-aktrise in ’n TV-misdaadreeks bekroon vir haar rol in Shades of Blue.

Andrea Navedo

Andrea is bekend vir haar rol as Xiomara in Jane the Virgin.

Chelsea Kane

Chelsea vertolk die rol van Stella Malone in die gewilde sitcom-reeks Jonas.

Lees nou

Die beste ‘photobomb’ van die Golden Globe-toekennings!

Golden Globes: Ons skoonheidsgunstelinge

eva_angel_gesig
Ons hou van

5 haarstyle wat nét 7 minute sal neem

Die vakansie is verby en die nuwe jaar in volle gang. Skielik is jou oggende so besig dat jy skaars tyd kry om jou hare en grimering te doen. Hiér’s jou oplossing! Ons deel vyf haarstyl-idees van bekendes waarmee jy binne sewe minute ’n mooi en moeitelose haarstyl vir die dag kan skep, maak nie saak wat die geleentheid is nie.

1. Hare agter jou ore

Of jy kort of lang hare het, om bloot jou hare agter jou ore vas te steek skep onmiddellik ’n professionele en stylvolle voorkoms. Gebruik ’n haarstileringsproduk wat jou hare gladder maak en kroeserigheid tem en steek dit dan agter jou ore.

Michelle Williams

 

2. Deurmekaar poniestert

Gee ’n vervelige poniestert hope volume. Wend ’n haarstileringsproduk wat volume skep, soos ’n soutsproei, op jou hare aan. Maak dan jou hare in ’n poniestert vas en krap dit deurmekaar. Hou die styl in plek met hope haarsproei.

Margot Robbie

 

3. Halwe knoop-bolla

Maak die boonste helfte van jou hare in ’n deurmekaar knoop-bolla vas en hou die res van jou hare los. Trek dan liggies ’n paar stringe hare rondom jou gesig uit vir ’n romantiese voorkoms.

Diane Kruger

 

4. Sjiek lae poniestert

Vir ’n meer formele kantoor-voorkoms, maak jou hare in ’n lae poniestert of bolla vas. Gebruik ’n haarstileringswaks om jou hare by jou kroon glad en glansend te maak.

Sophia Bush

 

5. Versier met ’n haarband of -knip

Vir die dae wanneer jy nie lus is om baie tyd aan jou hare te spandeer nie, is ’n haarbykomstigheid perfek. Dra jou hare los of vas en tooi dit in ’n kits met ’n haarband of -knip.

Eva Mendes

Lees nou

3 SA bekendes deel hul DIY-skoonheidswenke

Kweek in 2017 dié skoonheidsgewoontes

Hemelhuijs restaurant lees nou
Kosstories

Wat laat jou kies in ’n restaurant?

Ons almal het al in ’n restaurant gesit en ’n spyskaart beloer en weer beloer, maar niks trek ons aandag nie. Jy kan nie ophou kopkrap oor wat jy wil eet nie …

Dan moet jy nog besluit of jy die gesonde roete gaan volg of jouself gaan bederf met ’n lekkerny wat enige dieetkundige se oë sal laat rek. Wat dinge vererger, is die druk van ’n oorywerige kelner wat elke vyf minute kom hoor wat jy wil bestel.

Waarom is iets wat eintlik ’n lekker ervaring moet wees, soms só moeilik?

Die Bournemouth-universiteit in Brittanje het dalk nou agter die kap van die byl gekom, berig The Guardian. In ’n nuwe studie het navorsers vier buitefaktore geïdentifiseer wat jou besluit nóg moeiliker kan maak.

1. Te veel keuses

’n Spyskaart kan oorweldigend wees ten opsigte van al die keuses wat dit bied. In die Bournemouth-studie is onder meer bevind in wegneemeetplekke soek mense niks meer as ses keuses per kategorie nie. In fynproewer-restaurante kan dit effens meer wees: sewe elk voorgeregte en nageregte, en tien hoofgeregte.

’n Vaste spyskaart (set menu) kan dus die perfekte oplossing wees, want dit maak die keuse veel makliker.

2. Die ontwerp van die spyskaart

Restaurante moet mooi besin oor hoe hulle hul spyskaart aanbied. ’n Besige uitleg kan ’n kliënt dalk net nog meer verwar. Hoewel daar nie noodwending ’n wenresep is vir ’n spyskaart se uitleg is nie, wys navorsing dat jou oog ’n spyskaart met ’n Z-patroon volg.

Jy begin links bo kyk en eindig regs onder. Kassies met ekstra inligting, te veel kleure en ander ontwerpfoefies trek jou aandag af.

3. Die naam van die geregte

Dit is belangrik dat restaurante die beskrywings van geregte eenvoudig hou. Dit moet ’n eerlike beskrywing wees van wat ’n mens kan verwag, en dit lyk of ’n oorvloedige gebruik van byvoeglike naamwoorde mense afskrik. Die rede hiervoor is dat dit oormatig vertonerig voorkom. Die beskrywing van geregte moet jou nie minderwaardig laat voel oor jy dit nie kan verstaan nie.

4. Klank en atmosfeer

Navorsing wys klassieke musiek laat mense meer spandeer by top-eetplekke – veral aan duur wyne – terwyl Duitse en Franse musiek hulle laat gryp na bottels uit dié twee lande! Natuurlik is die kliënte salig onbewus van hierdie subtiele boodskappe.

Stadiger musiek en die reuk van laventel laat mense glo langer in ’n restaurant bly, terwyl opgewekte of popmusiek geneig is om hulle lus te maak vir gaskoeldranke.

Lees nou

5 dinge wat van jou ’n beter kok gaan maak

Roomystoring perfek vir somer!

GROOT NUUS vir SARIE KOS …

FOTO Ryno

FOTO Ryno

Dekorstories

Skep ’n tuiskantoor

Al hoe meer mense werk van die huis af en met huise wat kleiner raak, moet jy dalk jou tuiskantoor in jou leefruimte inrig. Só kan jy dit doen:

Gebruik ’n erfstuk

’n Bal-en-kloulessenaar lyk weer modern met ’n nuwe laag verf. Voeg ’n moderne perspeksstoel en vinielplakker by en dit pas in by die kontemporêre styl. Die laaie is lekker om los goed vinnig in weg te pak.

FOTO Ryno

FOTO Ryno

Uit die ysterwarewinkel

Koop bokkiepote en laat saag ’n groot genoeg blad vir jou lessenaar. Verf die blad in ’n kleur(e) wat by jou dekor pas.

FOTO Mickey Hoyle

FOTO Mickey Hoyle

Skep orde

Dié ontwerpersbokkietafel skakel stylvol in by die leefvertrek. Die glasblad is ’n goeie keuse, want dit maak die tafel “onsigbaar”. Hoewel byna niks in die kantoor weggepak word nie, is dit goed georden met die lêers en bêrebokse wat inpas by die kleurskema.

FOTO Ryno

FOTO Ryno

Modern en lig

Met sy skoon, moderne lyne en blonde hout sal hierdie lessenaar (R4 995) van Weylandts by enige dekorstyl inpas.

FOTO Weylandts

FOTO Weylandts

Prakties en veeldoelig

Dié kompakte lessenaar (R1 700 by uitsoek-takke van Game) sal voor jou bed ewe tuis wees as ’n ruim bedkassie.

FOTO Game

FOTO Game

Lees nou

Mooier vir onder R200

Sorteer só jou huis kamer vir kamer uit

Hoe lyk dekor in 2017?

FOTO Designed by Freepik

FOTO Designed by Freepik

Gesond

Oefen sonder om gim toe te gaan én verloor gewig

Jy weet jy moet, maar kom net nie aan die oefen nie? Nog minder is jy lus vir gim toe gaan, al is dit een van jou Nuwejaarsvoornemens. Maar al begin jy deur daagliks net ’n bietjie meer te beweeg, sal jy beslis ’n verskil sien. En sommer die kilo’s ook een vir een afskud.

Probeer hierdie oefening en bult jou spiere – sonder sweet:

Sit of staan en fokus. Trek al jou spiere saam. Byt op jou tande, druk jou arms styf teen jou lyf, trek jou boudspiere, maagspiere, bobeenspiere en kuite saam. Krul jou tone en maak jou hande kloue. Jy moet byna begin bewe en rooi in die gesig word. Doen dit sowat ’n minuut lank. Haal asem terwyl jy dit doen. Ontspan nou. Jy sal nie glo hoe goed dit jou laat voel nie.

Doen dit ’n paar keer per dag en help jou liggaam uit die bose kringloop kom van cravings, te veel eet en gewig aansit – alles deel van insulienweerstandigheid.

Hier is nog voorbeelde van hoe jy aan’t beweeg kan kom:

Mariza van Zyl, dieetkundige van die Paarl, sê: “Loop op en af as jy op jou selfoon praat. Doen dit elke dag 10 minute lank teen ’n matige pas, en jy kan tot 4 000 kilojoules per maand verbrand. Dis ’n rapsie meer as ’n kilogram per jaar.”

Simon Phillips, persoonlike afrigter en motiveringspreker van Pretoria, sê: “Terwyl jy skottelgoed was, doen 20 kuitoefeninge. Lig jou hakke stadig tot jy op die bal van jou voete staan, hou die posisie ’n paar sekondes en laat sak. Jy kan vir balans aan die wasbak se rand vashou. Wanneer jy met wasgoed van die wasmasjien na die waslyn toe stap, doen vorentoebeenstrek-oefeninge (forward lunges). Hou jou rug regop, tree vorentoe en buig jou voorste been sodat dit ’n 90°-hoek vorm terwyl die ander een reguit bly. Kom regop en tree vorentoe met die ander been. Terwyl jy vir die mikrogolfoond wag, stut jou rug teen die muur en sak af tot jou bene in ’n 90°-sittende posisie is.”

Nerdfitness, die fiksheidswebtuiste vir minder sportiewe mense, beveel die volgende aan: Moenie sit terwyl jy aantrek nie. Staan op een been en lig die ander een op om jou skoene en broek aan te trek.

Of sit jou gunsteling-musiek aan en begin net dans. Nie net sal jy goed voel en jou lyf ’n heerlike oefensessie gee nie, maar jy sal sommer ook gelukkiger voel.

Lees nou

Die gewildste rokke by die People’s Choice Awards: JA of NEE?

Hildegardt Whites en die orrelis van Leliefontein

Só bly 3 SA bekendes natuurlik mooi

FOTO Twitter / @realdonaldtrump

FOTO Twitter / @realdonaldtrump

Hieroor praat mense

5 goed wat jy van Trump se inhuldiging moet weet

Die sakemagnaat Donald Trump, oftewel “The Donald”, word vandag as Amerika se 45ste president ingehuldig.

Meer as 900 000 mense word verwag in Washington, waar die inhuldiging plaasvind, en baie van hulle gaan beswaarmakers wees, berig Reuters.

Hier’s 5 goed wat jy moet weet:

1. Wie gaan daar wees?

Drie voormalige presidente sal die inhuldiging bywoon: George W. Bush (2004-2008), Jimmy Carter (1977-1981) en Bill Clinton (1993-2001). Bill se vrou, Hilary Clinton, wat teen Trump gestaan het in die presidentsverkiesing, sal ook daar wees, berig The New York Times.

2. Wie gaan optree?

Talle bekendes het geweier om by die inhuldiging op te tree, onder wie sir Elton John, Charlotte Church, die Beach Boys en Jennifer Holliday, berig The Telegraph. Maar die volgende kunstenaars het wel ingestem: die soul-sanger Sam Moore, die rockgroep 3 Doors Down, die dansgroep The Rockettes, die Mormon Tabernacle Choir en die voormalige wenner van America’s Got Talent Jackie Evancho.

3. Wat van die Obamas?

Die huidige president van Amerika, Barack Obama, en sy vrou, Michelle, sal ook by die plegtigheid wees. Daarna sal hulle vir oulaas op Air Force One na Kalifornië vlieg, berig Los Angeles Times. Die gesin sal in Palm Springs vakansie hou voordat hulle na hul huurhuis in Washington terugkeer.

4. Wat gaan Trump sê?

Ná die inhuldiging sal Trump sy eerste amptelike toespraak lewer, berig Daily News. Dit sal 20 minute duur, en hy sal waarskynlik praat oor sy visie vir Amerika en wat hy gedurende sy presidentskap wil bereik.

5. Wat van die @POTUS-rekening op Twitter?

Ná vandag sal Trump se administrasie die amptelike Twitter-rekening van die Amerikaanse president oorneem, naamlik @POTUS, oftewel President of the United States. Die rekening het reeds 13,7 miljoen volgers. Obama het sy eie Twitter-rekening met 80,7 miljoen volgers. Al die Obama-administrasie se twiets op @POTUS gaan uitgevee word, berig Recode.

Lees nou

VIDEO: Boer Hennie val hard vir Jacobu

Trou jy in 2017? Dís wat jy moet weet …

5 dinge wat van jou ’n beter kok gaan maak

FOTO Hanri Human

FOTO Hanri Human

Bruid

Bekendes se troues

In 2016 het talle Afrikaanse bekendes ewige trou aan mekaar beloof. Sprokiestroues is die land oor gevier saam met vriende en familie. Bruide beeldskoon in die rok van hul drome, die bruidegom wat opgewonde wag. Liefde vasgevang in ’n oomblik. Ons kyk terug en deel foto’s van troues wat vanjaar ons harte gesteel het.

1. Aktrise Rolanda Marais en regisseur Jozua Malherbe

Verlief op die lang pad Kaap toe, verloof op ’n koppie in die Karoo, en getroud op ’n snikhete dag in die Overberg. Spontaan en ongekunsteld. Voorste aktrise Rolanda Marais en die bekroonde regisseur Jozua Malherbe sou dit nie anders wou hê nie. Hy sê sy sien die wêreld anders; deur haar hart. Sy sê sy wil oud word saam met hom; hom elke dag leer ken.

Kyk die troufoto’s hier.

FOTO Shanna Jones

FOTO Shanna Jones

2. Aktrise Andrea Streso en Hoffman van Zyl

Op Ceres, in die hartjie van die Wes-Kaap, het die voormalige 7de Laan-aktrise Andrea Streso met Hoffman van Zyl getrou. Die geleentheid by Olive Rock is deur 100 gaste bygewoon, onder andere twee lede van haar 7de Laan-familie, Hildegardt Whites (Bonita) en Corné Crous (Kim).

Kyk die troufoto’s hier.

FOTO: Schantél Merwé

FOTO: Schantél Merwé

3. Aktrise Roeline Daneel en Werner Lotz

Roeline Daneel en haar argitek-verloofde, Werner Lotz, het ewige trou aan mekaar beloof voor 120 gaste. Die feestelike bruilof was op Roodezand, ’n vrugteplaas net buite Tulbagh.

Kyk die troufoto’s hier.

FOTO: Jenni Elizabeth

FOTO: Jenni Elizabeth

4. Springbok Pieter-Steph en Willemien du Toit

Hy was in graad 7 en sy was in graad 8 in die Hoërskool Swartland op Malmesbury toe hulle die eerste keer van mekaar bewus geword het. Destyds was hulle net goeie vriende, tot hulle mekaar in 2012 weer raakgeloop het. Hy het in Durban rugby gespeel en sy was student op Stellenbosch, en die afstand het maar gelol.

Maar hulle was vir mekaar bedoel en in Desember 2014 het hy haar op sy knieë op Hermanus se strand gevra om met hom te trou.

Lees meer hier.

Springbok Pieter-Steph du Toit en sy vrou, Willemien, op hul sprokiesdag. FOTO Wil Punt van Peartree

Springbok Pieter-Steph du Toit en sy vrou, Willemien, op hul sprokiesdag.
FOTO Wil Punt van Peartree

5. Springbok Jan Serfontein en Lani Serfontein

Op laerskool was hy al bewus van die langbeen-blondine met haar groenblou oë op die tennisbaan. Maar dit was eers in matriek, ná ’n melkskommel-date met Lani Scholtz, dat die Bok-senter en Blou Bul Jan Serfontein sy skaamheid in die sak gesteek en haar amptelik sy meisie gemaak het.

Kyk die troufoto’s hier.

FOTO Kristi Agier

FOTO Kristi Agier

6. Aktrise Christel van den Bergh en JP van der Merwe

Vir die afgelope paar maande kuier die Afrikaanse aktrise Christel van den Bergh weeksaande in TV-kykers se huise. In die kykNET-sepie Getroud met Rugby speel sy die rol van die ambisieuse Renate Greeff, wat getroud is met die Stryders-rugbyspeler Simon (David Louw). Maar op 8 Oktober het Christel haar eie sprokiestroue gehou.

Lees meer hier.

FOTO James Strack van A Wedding Lifestyle

FOTO James Strack van A Wedding Lifestyle

7. 7de Laan se Carina Nel en Deon Nagel

7de Laan-kykers ken die pragtige Carina Nel in die rol van jong dr. Alexa Welman. Vanjaar het sy nog ’n rol aangepak, dié van getroude vrou.

Lees meer hier.

SKERMGREEP Fascinaton Pictures

SKERMGREEP Fascinaton Pictures

8. Protea-ster Quinton en Sascha de Kock

Op die mooie Mauritius het die Protea-krieketster Quinton de Kock in September met sy meisie van vier jaar, Sasha Hurly, getrou.

Kyk die foto’s hier.

FOTO Mightyfine Productions

FOTO Mightyfine Productions

9. TV-persoonlikheid Eloise Cupido en Chris Wilkinson

Eloise Cupido het haar ridder op ’n vliegtuig ontmoet. Dié toevallige ontmoeting het gelei tot ’n verhouding, en op 4 Junie vanjaar het hulle die groot stap geneem en ewige trou aan mekaar beloof.

Lees die storie hier.

FOTO Gideon van Zyl

FOTO Gideon van Zyl

10. Laudo Liebenberg en Cara Bastiaanse

Met sy diep stem bekoor Laudo Liebenberg sedert 2007 gehore as hoofsanger van aKING. En op 1 Oktober het hy en Cara Bastiaanse voor familie en vriende op Snyderskloof in die Karoo getrou.

Kyk die foto’s hier.

FOTO Juan Voges

FOTO Juan Voges

11. Aktrise Nadia Beukes en David de Villiers

Een van Suid-Afrika se gunsteling-aktrises, Nadia Beukes, het op 10 September met die projekbestuurder David de Villiers getrou op Wakkerstroom in Mpumalanga.

Kyk die mooi troue hier.

HHF6351-534x800

FOTO Hanri Human

Lees nou

Paartjie neem hul troufoto’s weer – 40 jaar later

Ontwerp self jou unieke trou-skoene

Die gewildste verloofring lyk só