via tv
VIA

Dinsdag op VIA

Gister het Media24 se nuwe TV-kanaal VIA op DStv-kanaal 147 afgeskop. Dít is die spinternuwe programme wat jy vanaand op die kassie kan sien …

Dinsdag, 10 November op VIA

16:00 Deur dik en dun – ’n Ligter jy via jou slanker sielsgenoot. Vier paartjies pak mekaar in ’n gewigstryd. Maar net een van die wederhelftes is oorgewig, die ander een moet ondersteun. Hul liefde word tot die uiterste getoets terwyl die skaal praat.

16:30 Die eet oorlog – ’n Wil-my-nie-doodskaam-strandlyf via ’n 30-dae-kosoorlog. Drie diëte. Drie dapper vroue. En ’n 30-dag-geveg teen vetrolle. Deelnemers wroeg en weeg dag na dag met die hulp van ’n span kenners om in hul nuwe baaikostuums te kan pas.

17:00 Mooi van binne - ’n Verrassende voorbladgesig via ’n soekende lens. Is jou gesig goed genoeg vir ’n tydskrifvoorblad? Dié wat nee sê, gaan verkeerd bewys word deur ons span fotograwe. Die resultate is verstommend – veral vir ons eens skeptiese deelnemers.

17:30 Kersie op die koek – Warm ouerharte via suikersoet kinders. Opvreetbare seuns en dogters ontmoet in sjef Renoir Sardinha en Loandi Boersma se ateljee om ’n kreatiewe dankie-sê-koek as verrassing vir Ma of Pa te versier.

18:00 Zavion - Flambojante feeste via ’n Olimpiese spiertier. Zavion vrek oor goud: of dit nou as glansgeselligheid-koördineerder of tienkamp-atleet is. Die kameras probeer byhou terwyl hy sy besige dagboek tussen troues en tienkamp balanseer.

VIA TV

Zavion is die aanbieder van sy eie program op VIA