herman inspirasiekos via
VIA

Herman Lensing gesels oor ‘Inspirasiekos met SARIE’

Media24 se splinternuwe Afrikaanse kanaal, VIA, skop vandag op DStv af! En SARIE is deel van die pret met die Inspirasiekos met SARIE. Ons kosredakteur Herman Lensing bied dié program aan. 

Herman is dol op die stories van die bestanddele waarmee hy kook. En nou is dié obsessie die tema van ’n splinternuwe TV-program.

Die energieke Herman kuier by verskillende produsente en kook net daar ’n feesmaal. Elk van die 26 episodes fokus op ’n ander bestanddeel. Inspirasiekos met SARIE is Maandae om 17:30 te sien. Besoek SARIE.com ná elke episode vir nog inligting en resepte.

KITSFEITE

  • Naam: Herman
  • Van: Lensing
  • Ouderdom: 28
  • Beroep: Kosredakteur van SARIE
  • Blyplek: Kaapstad

 

Waar kom jou liefde vir kos en kook vandaan?
Ek het grootgeword met kos as ’n sentrale punt in my lewe. En ek kan nie somme of wiskunde doen nie.

Watter drie bestanddele sal altyd in jou kombuis wees?
Botter, room en ’n blik tamaties.

Wat is jou spesialiteit?
Ek hou van kos wat my hart warm maak – basies enigiets wat ek vir vriende of gaste sal kook. Of dit nou ’n toebroodjie is of iets wat lank in die oond moet braai, dit moet kos wees wat troos. En enigiets saam met wyn, of met wyn ín, is lekker.

Wat is die beste kosmaak-wenk wat jy in jou lewe ontvang het?
Proe aan jou kos. En Île de Païn se Markus Färbinger het my geleer die eerste vraag wat jy jouself moet vra is “Gaan jy hierdie gereg elke dag wil eet?” As jy ja sê, dan weet jy jy het die regte resep beet. Jy kan duisend resepte skryf, maar as jy dit nie elke dag wil eet nie, kan jy dit maar los.

Watter resepte-boek moet in elke kok se kombuis wees?
As jy Afrikaans is, moet Kook en Geniet in jou kombuis wees. En Harold McGee se On Food and Cooking.

Hoekom moet mense Inspirasiekos met SARIE kyk?
Dis jou reg om te weet waar alles wat jy eet vandaan kom. Ons het touch met alles verloor, want alles is deesdae so kits. Te min mense gee om oor waar daardie ui of die salm vandaan kom en wie die mense agter die bestanddele is. Wanneer jy besef wat die storie van die bestanddele is, kan jy dit met respek en integriteit hanteer. En dan weet jy ook wat jy in jou liggaam sit, is goed vir jou.

Wat is vir jou die opwindendste bestanddeel om mee kos te maak?
Alle bestanddele is in my oë gelyk. Vir my is ’n ui net so glamorous soos Italiaanse truffel. Ek kan nie kies nie. Dis soos ’n ma met haar kinders: sy weet watter een mooier is, maar sy mag nie sê wie nie. Maar ek moet sê ek was mal oor die forel-episode. Die ou wat met die forelle werk moet hulle vir eiers melk. Terwyl hy hulle onder narkose plaas, praat hy met die visse en sê vir hulle alles sal oukei wees. Dit wys jou hoe bestanddele met liefde en respek hanteer word.

En watter bestanddele sal jy nooit eet nie?
Bloederige goed soos bloedwors. Nie in my kombuis nie! Ek is nie bang vir organe nie, maar sodra dit vloei, raak ek gespanne.

En hoe was dit om die boere en produsente te ontmoet?
Dis interessant om te sien hoe hulle werk. Ons is geneig om plaaswerk in ons koppe te oorkompliseer, maar hierdie boere is sulke nederige mense. Die ervaring om hulle te ontmoet, maak mens dankbaar.

As jy net een gereg vir die res van jou lewe moes eet, wat sou dit wees?Braaivleis met my vriende.

Wat is die grootste flop wat jy al die kombuis gemaak het?
Dit het voor ’n gehoor gebeur. Dit was my eerste openbare kook-demonstrasie vir SARIE en ek het ryspoeding gemaak. Toe wou die rys net nie gaar raak nie. Toe kom daar skielik ’n klein, bewerige stemmetjie uit die gehoor: “Daar’s nie rys in die pot nie.” En dan maak ek ook die heeltyd flops in die kombuis. Ek gooi altyd koeksoda pleks van bakpoeier in.

Nuwe episodes van Inspirasiekos met SARIE wys elke Maandag om 17:30.

herman inspirasiekos via