_MG_0008
VIA

Inspirasiekos met SARIE se steenvrugte-resepte

Pietie Wolfaardt boer op Ceres met steenvrugte. Herman maak ’n draai in sy boorde en vind inspirasie vir snipperkonfyt met tiemie, nektariens met vonkelwyn-vla, lam-en-perske-tagine en kamma-mosbolletjies. 

Inspirasie_Kos-2-Edit

Nektariens met vonkelwyn-vla

Die Franse noem die vla sabayon. Dis ’n eiervla wat jy met wyn maak en oor ’n pot kookwater klits.

genoeg vir 6 – 8

• 500 g (625 ml) suiker
• 625 ml water
• 6 nektariens
• 8 eiergele
• 250 ml soet vonkelwyn
• 100 g (125 ml) strooisuiker

Plaas die suiker en water in ’n groot pot. Bring tot kookpunt terwyl jy roer tot die suiker opgelos het. Laat kook 10 – 15 minute. Voeg nektariens by en skakel die stoofplaat af. Maak die pot toe en laat staan tot die stroop heeltemal afgekoel het. Jy kan die nektariens met stroop en al tot ’n week lank in die yskas hou.

Vonkelwyn-vla Meng die eiergele, vonkelwyn en suiker in ’n groot glasbak. Plaas die bak oor ’n pot kokende water – die water moenie aan die bodem van die glasbak raak nie – en klits die mengsel met ’n elektriese handklitser tot ’n dik skuimvla vorm. Hou aan klits tot die mengsel warm voel wanneer jy jou vinger daarin druk, 8 – 12 minute. Moenie die mengsel te warm laat word nie, want dit sal skif. Haal die bak van die pot af en hou aan klits tot die mengsel heeltemal afgekoel het. Skep nektariens in ’n opdienbak en gooi die warm vla daaroor. Sit voor.

Brood

Kamma-mosbolletjies

Ja, ek weet die kenners gaan my seker kruisig oor ek winkeldeeg met anys mosbolletjies noem. Maar mos is nie altyd beskikbaar nie en daar is dikwels ook nie genoeg tyd om die bolletjies te maak nie. Volg hierdie kortpad-manier om jou tong te flous tot jy die ware produk in die hande kry …

genoeg vir 8

• 40 ml anyssaad
• 500 g gerysde winkeldeeg
• 200 g (250 ml) suiker
• 250 ml water

Knie anyssaad in deeg in en plaas deeg in skoon mengbak wat met olie gesmeer is. Laat rys weer op warm plek tot dubbel in volume. Verdeel deeg in 8 ewe groot stukke en rol in netjiese ronde balle. Spuit ’n broodpan van 25 x 20 cm met kleefwerende kossproei en pak deegballe in pan. Laat rys nog 25 minute of tot dubbel in volume. Terwyl deeg rys, verhit oond tot 180 °C. Bak gerysde deeg 25 – 30 minute of tot goudbruin. Kook suiker en water 10 minute en verf warm brood daarmee. Laat afkoel en keer uit.

Inspirasie_Kos-3

Nektarien-snipperkonfyt met tiemie

My pa het altyd die perskes gesnipper sodat my ma kon konfyt kook.

genoeg vir 1 kg

• 1,2 kg nektariens, gesnipper
• 1,2 kg suiker
• 3 takkies tiemie

Plaas al die bestanddele in ’n groot pot en bring tot kookpunt. Verlaag hitte en laat 25 – 30 minute stadig prut of tot dikkerige konfyt vorm. Om te toets of dit reg is, drup bietjie van die stroop op ’n koue bord en trek jou vinger daardeur; as dit stadig terugvloei in die opening in, is dit reg. Sit voor met mosbolletjies of brood van jou keuse.

Lamtagine

Lam-en-nektarien-tagine

Dié Marokkaanse manier van bredie maak is ook die naam van die pot waarin hulle dit maak, ’n pot met ’n spitsdeksel. Jy kan ook ’n doodgewone metaalpot gebruik.

genoeg vir 6

• 10 ml fyn kaneel
• 20 ml vinkelsaad
• 10 ml fyn koljander
• 5 ml droë brandrissie
• 45 ml olyfolie
• 1 ui, gekap
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 1 kg kort lamskenkels
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 1 x 400 g-blik tamaties
• 6 nektariens, ontpit en gehalveer

VIR VOORSIT
• 100 g gevlokte amandels
• 2 koppies gaar koeskoes

Plaas al die speserye in ’n vysel en maak lekker fyn met ’n stamper. Verhit olyfolie tot warm in middelslag-pot of bak van tagine. Gooi ui en knoffel by. Braai 5 minute of tot dit begin verbruin. Voeg fyn spesery-mengsel by en braai 2 minute. Voeg lam by en braai nog 5 minute. Geur goed met sout en peper. Gooi tamaties by, sit deksel op en bring tot kookpunt. Verlaag hitte en laat kook 2 uur of tot lam van been afval. Pak nektariens bo-op en kook nog 15 minute. Sit voor met amandels en koeskoes.                                   

Wenk
Maak seker daar is altyd genoeg vog in die pot – gooi ekstra louwarm water by as dit nodig is.