VIA_FB_Inspirasiekos-pre
VIA

Inspirasiekos met SARIE episode 20 – Eendresepte

Leon Groeneveld boer met eende in Joostenbergvlakte. Herman vind meer uit oor sy unieke boerdery en maak lemoen-eend, eendrolletjies en ‘n slaai van confit-patats

Besoek The Duck Farm om uit te vind waar jy die produk kan koop.

Slaai van confit-patats

1D0A0083

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Confit is ʼn fênsie Franse naam vir vleisgeregte of groente wat stadig in vet gaargemaak is.

genoeg vir 6

  • 1 x 500 g-houer eendvet
  • 250 g botter
  • 2 kaneelstokke
  • 2 steranys-peule
  • 6 baba-patats
  • 3 knoffelhuisies
  • 250 ml suurroom
  • 100 g okkerneute
  • 1 suurlemoen
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit eendvet en botter tot warm in groot pot. Voeg speserye by. Sny patats in groot ringe van sowat 1,5 cm dik . Plaas patats, knoffel en neute in warm vet. Verlaag hitte, sodat die warm vet net stadig borrel. Dit moet nie kook of braai soos tjips nie. Braai in vet vir sowat 20 minute of tot die patats sag en byna deursigtig raak. Skep suurroom op ‘n opdienbord. Lig patats en neute uit warm vet en dreineer op kombuispapier. Pak op suurroom. Rasper suurlemoenskil oor en geur goed met sout en peper. Sit voor.

My weergawe van lemoen-eend

1D0A0106

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die Franse noem dit ook canard à l’orange.

genoeg vir 4-6

  • sap en skil van 3 lemoene
  • 250 ml hoenderaftreksel
  • 125 ml sojasous
  • 1 stingel sitroengras (lemon grass)
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 2 lourierblare
  • 4 uie, in ringe gesny
  • 6 eend-dy-en-boudporsies (’n Maryland-snit)
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit die oond tot 180 °C. Plaas die lemoensap, skil, aftreksel, sojasous, sitroengras, knoffel en lourierblare in ’n groot pot en bring dit oor hoë hitte tot kookpunt. Kook 10 minute, verwyder van die hitte en hou eenkant. Rangskik die uieringe in ’n groot oondroosterbak en plaas die eendporsies daarop. Gooi die marinade oor en geur baie goed met sout en peper. Maak die bak met tinfoelie toe en plaas dit in die warm oond. Bak 25 tot 30 minute of tot gaar. Sit warm voor met patatslaai.

Eendrolletjies (spring rolls)

1D0A0091

 

1D0A0109

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

* As jy nie eend kan kry nie, kan jy dit ook met gaar hoender maak.

genoeg vir 12

  • 12 velletjies deeg vir Chinese rolletjies* (jy koop dit bevrore, maar dit moet voor gebruik ontdooi word)
  • 60 ml water
  • 45 ml koekmeel
  • 400 g confit-eend (of gaar hoender) van die been af gevlok
  • 60 ml soet soja- of oestersous
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • sonneblomolie vir diepbraai
  • 100 ml sojasous
  • 1 hand vol koljander, fyngekap
  • 1 brandrissie, fyngekap

Meng meel en water tot ’n gladde pasta en hou eenkant. Meng eend of hoendervleis met sojasous en geur goed. Plaas die deegvelletjies op jou werkvlak. Vorm lang worsies van die vleisvulsel en plaas ‘n worsie aan die een kant van ‘n vel deeg sodat daar sowat 3 cm spasie bo en aan die kante van die vulsel oop is. Verf die rand van die deeg reg rondom met die meel-en-watermengsel. Vou die boonste rand oor die vleis en vou dan die twee lang sye om. Rol die deeg op sodat dit soos ’n sigaar lyk. Herhaal met die res. Verhit die olie in ’n diep pan. (Toets só of dit warm genoeg is: As jy ’n stukkie brood in die olie laat val, moet dit sis maar nie dadelik bruin brand nie.) Die rolletjies moet taamlik stadig braai sodat die vleis warm word. Braai tot goudbruin en dreineer op kombuispapier. Sit warm voor saam met ’n mengsel van sojasous, brandrissie en koljander.

(*Jy kan gekoopte fillodeeg gebruik as jy nie dié deeg in jou supermark kry nie)