VIA_FB_Inspirasiekos_pre
VIA

Inspirasiekos met SARIE se vyeresepte (episode 20)

Vandag op Inspirasiekos met SARIE: Herman gaan proe vye op Uitkijk buite Wellington. Johan Louw vertel hom meer van hul boerdery en Herman kook toffie-vye, ‘n tagliatelle en ‘n donkersjokolade-tert met vye. Net op VIA TV (DStv-kanaal 147)

Toffie-vye

Attachment-1

 

 

 

 

  • 14 vye
  • 14 sosatiestokkies
  • 500 g suiker
  • 100 g glukosepoeier (kyk by apteek)
  • 125 ml water
  • 30 g botter

Steek ’n sosatiestokkie in elke vy. Plaas suiker, glukose en water saam in ’n middelslag-pot. Roer oor lae hitte tot suiker gesmelt is. Bring tot kookpunt en laat vinnig kook tot die stroop 150 ˚C meet, sowat 8 – 10 minute (sien wenk onder). Voeg botter by en roer met ’n houtlepel tot ingemeng. Doop elke vy versigtig in warm stroop deur die stok as handvatsel te gebruik. Plaas op bakpapier wat met kleefwerende sproei gespuit is. Laat afkoel tot hard.

Wenk As jy nie ’n suikertermometer het nie, kan jy só toets: Ná 8 minute se kook, laat ’n klein druppel stroop in yswater val. As dit ’n harde bal vorm wat soos glas lyk, is dit reg.

Basiese pastadeeg

Dis baie maklik om pasta te maak. As jy nie ’n masjien het nie, kan jy dit ook met ’n koekroller op ’n meelbestrooide oppervlak uitrol.

Genoeg vir 4-6

  • 375 g (670 ml) broodmeel
  • 4 eiers
  • 10 ml sout

Meng meel, eiers en sout. Knie op ’n meelbestrooide werkvlak vir 8-12 minute of tot ‘n elastiese deeg. Draai toe in kleefplastiek en laat rus vir 30 minute voor jy dit met ’n pastamasjien uitrol tot nommer 2. As jy ’n koekroller gebruik, rol uit tot sowat 1 mm dik. Volg resep onder.

Tagliatelle met pancetta-roomsous en vye

image001

Die soet vye werk perfek saam met die sout smaak van die pancetta.

Genoeg vir 6

  • 1 x basiese pastadeeg, uitgerol in velle (sien resep bo)
  • 45 ml botter
  • 60 ml olyfolie
  • 3 knoffelhuisies, gekap
  • 1 ui, fyngekap
  • 70 g pancetta-repies, grofgekap
  • 250 ml room
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 8 – 10 vars vye
  • 100 g parmesaankaas, gerasper
  • 1 hand vol basiliekruid, grofgekap

Sprinkel meel oor pastavel en rol op in stywe wors. Sny met skerp mes in 5 mm breë repies. Bring pot met water tot kookpunt en gooi pasta in water. Skakel hitte af en laat staan terwyl jy die sous maak: Verhit botter en olie in mediumgroot pan en voeg knoffel en ui by. Braai vir 3-5 minute of tot goudbruin. Voeg pancetta by en braai nog 3 minute. Gooi room by en verlaag hitte. Laat stadig prut tot dik roomsous vorm, sowat 5-8 minute. Geur goed met sout en peper. Dreineer pasta deur vergiettes en voeg by warm roomsous. Skeur vye in growwe stukke en voeg by pasta. Gooi parmesaan by en meng deur. Geur goed en sit voor met vars basiliekruid.

Donkersjokolade-tert met vye

image003 (1)

Makliker kry jy nie! Sit voor met sterk koffie.

Genoeg vir 8-10

  • 200 g Marie-beskuitjies
  • 100 g botter, gesmelt
  • 10 ml karamelgeursel

Vir die vulsel

  • 200 g donkersjokolade, grof gekap
  • 180 ml room
  • 40 g botter

Maak beskuitjies in ‘n voedselverwerker fyn. Voeg botter en geursel by en meng tot die tekstuur van klam seesand. Voer ‘n 30 cm-tertpan met die mengsel uit en laat stol in yskas. Plaas sjokolade, room en botter in glasbak. Smelt oor pot met kookwater en roer tot gladde mengsel. Gooi in kors bo-oor sjokolade. Pak vye bo-op. Plaas in yskas en laat stol vir sowat 2-4 uur. Sit voor.