Screen Shot 2016-06-03 at 10.12.56 AM
VIA

Die geur van gemmer op Inspirasiekos met SARIE

Die geur van gemmer bring herinneringe van my ouma se gemmerpoeding en yskoue gemmerbier tydens vakansies.

My soektog na SA se gunsteling-bestanddele op die TV-program Inspirasiekos met SARIE het my dié week Robertson toe gestuur. Ek kuier op Die Eike in die Noree-vallei waar twee kosengele, Amelia Rossouw en Susan Grobbelaar, die eerste boere in die Wes-Kaap is wat kommersieël met gemmer boer. Ek en die kameraspan was daar met hul eerste oes!

gemmer 1

Amelia en Susan se liefde vir gemmer het my inspireer om met nuwe oë daarna te kyk en ou gunstelinge op te tof.

Hier is my ouma Bettie se resep vir gemmerbier – dis heerlik en nostalgies!

Ouma Bettie se gemmerbier

Screen Shot 2016-05-16 at 6.47.40 AM

genoeg vir 4

• 10 ml korrelsuurdeeg
• 500 ml louwarm water
• 400 g (500 ml) suiker
• 3 liter water
• 1 groot gemmerwortel, stukke gesny
• 10 ml Jamaikagemmer
• 3 roosmaryntakkies
• hand vol rosyne

Meng korrelsuurdeeg met 500 ml louwarm water in ’n mengbak. Laat staan tot ’n skuimbol vorm. Meng suiker en 3 liter water tot suiker heeltemal opgelos het. Voeg suurdeeg by. Voeg Jamaikagemmer en roosmaryn by en meng gemmerbier goed. Voeg rosyne by. Gooi gemmerbier in plastiekemmer en laat staan oornag. Gooi die volgende oggend die gemmerbier deur ’n moeseliendoek en gooi in bottels. Gooi rosyne weg. Laat bier koud word in die yskas.

Het jy geweet?

1. In die 13de en 14de eeu was die prys van 500 g gemmer dieselfde as dié prys van 500 g skaapvleis.

2. Koningin Elizabeth I het gemmerbroodmannetjies laat bak vir belangrike gaste.

3. Die top-5 lande wat met gemmer boer en dit uitvoer is: Indië (34,6% van die wêreld se gemmer), China (19,1%), Nepal (10,6%), Nigerië (7,8%) en Thailand (7,5%). Maar Jamaika se gemmer word as die beste beskou.

4.Gemmerolie is deesdae gewild as aanvullende medikasie. Kenners reken as jy dit soggens saam met ontbyt drink, help dit vir ’n sterk imuunstelsel.

5. Gemmer is ’n wonderlike middel vir die verligting van naarheid, want dit kan help om van gasse ontslae te raak.

6. Gemmerbier se oorsprong is te danke aan die Britte wat dit gedrink het teen naarheid.

Hier’s my gemmer-resepte:

Gemmer-en-peer-stoompoeding

Kerrie-sosasties met gemmer