VIA

Inspirasiekos met SARIE: Kersfees met bloubessies

My soektog na die stories agter kos en waar bestanddele vandaan kom, het my vandeesweek tot in die Overberg geneem. Ek het gaan kuier by Stone River Berries waar Cecil Lourens die kuns om met bloubessies te boer volmaak het.

Cecil het sy opleiding gaan doen in Amerika, wat die grootste verskaffer van dié soort bessie is. Die warm klimaat van Swellendam is ideaal en net wat die vrug vra. Dis ’n arbeidsintensiewe boerdery, want elke bessie moet met die hand geoes word. Dit verseker dat net die heel beste bessies ons tafels haal. En dis sowaar ’n inspirasie vir ’n geurryke Kersfees-spyskaart!

Op ons Inspirasie-spyskaart dié week:

  • Hoender gebak op rys
  • Kersfeesham met bloubessie-glasuursel
  • Suurlemoen-en-bloubessie-poeding

IKMS_S4EP12_pic10

Hoender gebak op rys

Dis ’n alles-in-een-ete, perfek vir jou Kerstafel

genoeg vir 4-6

  • 45 ml olyfolie
  • 45 ml botter
  • 1 ui, gekap
  • 2 knoffelhuisies gekap
  • 250 g gekapte spek
  • 375 ml Spekko Basmati-rys
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 300 g bloubessies
  • 4 hoenderkuikens of een heel hoender
  • 1 500 ml hoenderaftreksel
  • 125 ml witwyn

Verhit oond tot 180 °C. Verhit olyfolie en botter tot warm in groot oondvaste pot. Voeg uie, knoffel en spek by. Roerbraai vir 5 minute. Voeg rys by en braai nog 2 minute. Geur goed met sout en peper. Verwyder pot van hitte. Gooi bloubessies bo-op rys. Pak hoender bo-op en geur alles weer goed. Gooi aftreksel en wyn by. Maak pot toe en plaas in die warm oond. Bak vir 30-35 minute of tot rys en hoender gaar is.

Wenk

As jy heel hoender pleks van kuikens gebruik, bak die hoender sowat 20 minute langer.

IKMS_S4EP12_pic9

Kersfeesham met bloubessie-glasuursel

genoeg vir 12

  • 1 groot gerookte ham (gammon), been en vel aan (die een op die foto is 2 kg groot)
  • 2 uie, gehalveer
  • 4 lourierblare
  • 10 swartpeperkorrels
  • handvol heel naeltjies

Glasuursel

  • 1 x 500 g-fles heuning
  • 60 ml korrelmosterd
  • 500 ml nartjiesap (of lemoensap)
  • 300 g bloubessies

Plaas die ham in ’n groot kastrol. Voeg ui, lourierblare en peperkorrels by. Bedek met water en bring tot kookpunt oor hoë hitte. Kook 30 minute per 500 g, minus 30 minute vir die tyd wat die ham moet bak. (Die 4 kg-ham het 3½ uur lank gekook.) Haal versigtig uit die water en trek vel af terwyl nog warm is, sodat die vetlaag wys. Sit in oondroosterpan. Gebruik ’n skerp mes en sny ’n diamantpatroon in die vetlaag. Druk ’n naeltjie in elke vetdiamant. Jy kan dit alles die dag voor jy die ham gaan voorsit, doen.

Glasuursel

Verhit oond tot 180 °C. Plaas al die bestanddele, behalwe die bloubessies, in ’n middelslag-pot en bring tot kookpunt. Voeg bessies by en bring weer tot kookpunt. Gebruik aartappeldrukker en breek bessies in growwe stukke. Laat prut vir 1 minuut en verwyder van die hitte. Gooi hele mengsel oor ham. Plaas ham oop in die oond en rooster vir 30 minute. Skep elke 10 minute van die glasuursel in die pan oor. Bak tot ham goudbruin is. Plaas die ham op ’n mooi opdienbord en strooi ekstra bloubessies oor. Sit voor.

IKMS_S4EP12_pic3

Suurlemoen-en-bloubessiepoeding

Dis baie belangrik om vars suurlemoensap te gebruik wat jy self uitgedruk het, anders gaan die room nie stol nie. Hierdie poeding is baie ryk!

genoeg vir 6

  • 300 ml dubbeldik room
  • 80 g (95 ml) strooisuiker
  • 70 ml vars suurlemoensap (dit moet vars wees, anders stol die room nie)
  • 400 g bloubessies, plus ekstra vir voorsit

Bring room en strooisuiker tot kookpunt en laat vir 5 minute vinnig kook. Verlaag hitte tot room stadig prut. Roer suurlemoensap by en hou aan roer vir 5 minute terwyl mengsel prut. Verdeel bloubessies tussen 6 glasies met volume van 125 ml elk. Verdeel mengsel tussen 6 glasies en laat stol in yskas tot koud. Sit voor met ekstra bessies.

Nóg Inspirasiekos met SARIE-resepte

Waterblommetjie | Sout | Mossels en Oesters | Meel | Sampioene | Mozzarella | Soutwaterforel | Whisky | Vanielje

Spekko Promosie Tag

Hierdie episode van Inspirasiekos met SARIE (VIA, DStv-kanaal 147) is geborg deur Spekko. Met Spekko-rys kry jy altyd meer – ook inspirasie vir heerlike nuwe geregte.

SPEKKO VIA SPONSORSHIP DIGITAL IMAGE V2-B

Besoek www.spekkorice.co.za vir meer resepte en volg Spekko op Facebook of@SpekkoRice op Twitter en @SpekkoSA op Instagram.