VIA_FB_Inspirasiekos_pre
VIA

Herman se koejawelpoeding met nougatine-sous – soos op TV!

Ryp gemaak deur die winterson se strale. Daar is min geure wat winter opsom soos dié van koejawels. Met sy pienk vlees en kenmerkende skil kan jy hierdie vrug geniet in byna alles – van drankies tot bredies en natuurlik gestowe saam met warm vla.

My soektog na die storie agter bestanddele op Inspirasiekos met SARIE neem my hierdie week Wellington toe waar Retief Joubert by Fleury Wingerd Kwekery hierdie parfuumvrugte van die winter groei. Gestewel en gehoed oes ek my eie wintertroos vir ’n feesmaal vol nostalgiese smake.

Het jy geweet?

1. Die blaar van die koejawelboom bevat swart pigmente wat in die tekstielbedryf gebruik word.

2. Koejawels het ’n baie hoë vitamien C-inhoud (selfs meer as lemoene!). Begin jou dag gesond deur koejawels vir ontbyt te eet met lepels vol romerige jogurt.

3. Koejawels se oorsprong is in Mexiko. Maar dit het sy pad gevind tot in die Ooste. Lande soos China en Japan is steeds internasionaal die grootste produsente van koejawels.

4. Een koejawel bevat tussen 100 en 500 sade.

5. Al ooit gehoor van Sinigáng sa Bayabas? Dis ’n bekende Filippynse sop wat bestaan uit oorryp koejawels en vis. Die sop is waterig in voorkoms en ’n groot spesialiteit op spyskaarte.

Hier is die resepte wat Herman dié week op Inspirasiekos met SARIE op VIA (DStv-kanaal 147) maak. Dit word Maandae om 17:30 en weer om 20:30 uitgesaai.

S3EP05_PIC4

Saffraan-koejawels met nougatine-sous

Saffraan gee aan die koejawels lekker kleur en ekstra smaak! Die inspirasie vir die nougat-sous kom van my kosvriend en mentor Nick van Wyk. Hy sit die sous graag voor met vye wat hy in rooiwyn posjeer.

genoeg vir 6

• 800 g (1 liter) suiker
• 250 ml water
• 750 ml rosé
• 2 knippies saffraan
• 18 koejawels, geskil en gehalveer

Nougatine

• 200 g (250 ml) suiker
• 100 ml heuning
• 30 ml water
• 4 eierwitte
• 100 g gevlokte amandels
• 100 g vars bessies soos frambose

Plaas die suiker, water, wyn en saffraan in ’n groot pot. Bring tot kookpunt en roer tot die suiker opgelos is. Laat dit dan vir 10 – 15 minute kook of tot die stroop ’n diep oranjekleur van die saffraan kry. Voeg die koejawels by en skakel die stoofplaat af. Maak die pot toe en laat staan tot die stroop heeltemal afgekoel het. Jy kan die koejawels met stroop en al tot ’n week lank in die yskas hou.

Nougatine: Plaas suiker, heuning en water in middelslag-pot. Bring tot kookpunt terwyl jy roer. Kook vir 8 minute. Terwyl jy die stroop kook, klits eierwitte tot sagte punte vorm. Hou aan klits terwyl jy warm stroop geleidelik bygooi. Klits tot mengsel koud, dik en romerig is. Skep koejawels in opdienbak. Gooi nougatine-sous oor en sprinkel amandels en bessies oor. Sit voor.

S3EP05_PIC1

Beesfilet met gebraaide koejawelsalsa

Die salsa is so mooi. Jy kan amper sê dis ’n sout-weergawe van die vrugteslaai!

genoeg vir 4-6

Salsa

• 6 koejawels in ringe van 1 cm breed gesny
• 45 ml olyfolie
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 1 rooi-ui, fyngekap
• 1 hand vol koljander, gekap
• 1 rooi brandrissie, gekap
• 1 komkommer, in blokkies gesny
• sap en skil van 2 lemmetjies

Sous

• 2 eiergele
• 100 ml olyfolie
• 3 takkies vinkel
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 30 ml bruinsuiker
• sout en varsgemaalde swartpeper

Maak so klaar

• 1 beesfilet (sowat 800 g)
• 45 ml olyfolie

Salsa: Verhit riffelpan tot vuurwarm – die rook moet letterlik uit die pan trek. Sprinkel olyfolie oor koejawelringe en geur goed met sout en swartpeper. Plaas koejawelringe in die pan en braai vir 1 minuut per kant of tot goudbruin. Sny gebraaide koejawel in blokkies en meng met ander salsa-bestanddele. Geur goed met sout en peper en hou eenkant.

Sous: Plaas eiergele, olyfolie, vinkel, knoffel, bruinsuiker, sout en peper in plastiekbeker. Puree met staafmenger tot hele mengsel romerig bymekaar kom. Hou eenkant.

Maak so klaar: Verhit riffelpan tot baie warm. Smeer filet met olie en geur goed met sout en varsgemaalde swartpeper. Braai filet in warm pan vir sowat 3 minute per kant vir mediumgaar of langer soos jy verkies. Laat rus vleis 5 minute buite pan. Plaas filet op opdienbord, skep salsa oor en sit voor met sous.

S3EP05_PIC6

Pienk jenewer en tonikum

Winter of somer – as jy my huis besoek, sit ek vir jou ’n G&T voor, maar in die winter gee ek dié drankie ’n wintergeur met koejawels.

genoeg vir 8

• 300 ml water
• 200 g (250 ml) suiker
• 6 koejawels, geskil en grofgesny
• pulp van 3 grenadellas
• 3 x 1 liter-bottels tonikum (tonic water)
• 1 kg gebreekte ys
• 300 ml jenewer (gin)

Plaas water en suiker in middelslag-pot en bring tot kookpunt. Voeg koejawels en grenadella-pulp by en kook verder tot koejawels sag en pap is, sowat 8 – 10 minute. Gooi sowat 500 ml tonikum by en puree met staafmenger tot ’n gladde mengsel. Plaas gebreekte ys in ponsbak en gooi koejawel-puree by. Voeg jenewer by en roer deur. Gooi res van tonikum by en sit voor.