FOTO Donna Lewis

FOTO Donna Lewis

VIA

Inspirasiekos met SARIE: Komkommers

Min dinge laat my so aan somer dink soos die bros kraak-in-die-mond-tekstuur van ’n komkommer. Dié kroonbestandeel van Griekse slaai is ewe tuis in koue drankies, soos likeur, en doopsouse, soos tzatziki. 

Herman se soektog na die oorsprong van bestanddele het hom hierdie week Vredendal toe geneem, waar Nico Laubscher met dié kraakvars groente boer. Hier is die resepte vir ’n komkommer-feesmaal.

IKMS_CUCUMBER_DC_0121

Herman in die komkommertonnel saam met Nico Laubscher.

Op ons komkommer-spyskaart

• Komkommer-en-hambroodjie-koek

• Rooibos-likeur en komkommer

• Koue komkommer-en-rysslaai

IKMS_CUCUMBER_M2_0011

Komkommer-en-hambroodjie-koek

Hierdie resep kom van die Skandinawiërs af. Hulle maak dit tradisioneel met rogbrood, maar hier in SA maak ons dit met gewone potbrood uit die supermark.

genoeg vir 6

• 3 x 230 g-bakkies roomkaas
• 125 g botter, by kamertemperatuur
• 6 hardgekookte eiers, geskil en geel van wit geskei
• 2 potbrode, oorlangs in skywe gesny soos koeklae
• 2 komkommers, ringe gesny
• skil van 2 suurlemoene
• 12 snye parmaham
• groente en eetbare blomme vir versiering

Meng roomkaas, botter en eierwitte saam tot gladde mengsel. Plaas een laag brood op opdienbord. Smeer ¼ van roomkaasmengsel op brood. Pak skywe komkommer bo-op en geur goed met sout en peper. Herhaal met al die lae brood en eindig met skoon broodlaag. Smeer die oorblywende ¼ van roomkaasmengsel rondom brood-koek. Krummel die eiergeel fyn en sprinkle dit bo-op koek. Pak hamsnye in ronde sirkel bo-op rand van koek. Versier die kant van die koek met eetbare blomme, dun skywe radys en ander groentes van jou keuse.

 

IKMS_CUCUMBER_DC_0080

Rooibos-likeur en komkommer

genoeg vir 8

• 200 g (250 ml) suiker
• 1 liter water
• 20 ml fyn gemmer
• 2 heel peule ster-anys
• 2 suurlemoene se sap en skil
• 45 ml heuning
• 5 rooibostee-sakkies
• 1 kg ysblokkies
• 2 kommkommers, skywe gesny
• 6 grenadellas, gehalveer
• 150 ml wit rum

Plaas al die bestanddele, behalwe die teesakkies, ys, rum en komkommer in ’n groot kastrol en bring tot kookpunt. Verlaag hitte en laat kook vir 10 minute totdat suiker gesmelt is. Verwyder van hitte en voeg teesakkies by. Laat trek totdat vloeistof afgekoel is. Gooi deur ’n sif en plaas in yskas tot yskoud. Sit tee voor in groot bekers vol ys en voeg komkommer, grenadillas en rum by.

 

IKMS_CUCUMBER_DC_0092

Koue komkommer-en-rysslaai

Die is een van my gunsteling-rysgeregte om te maak. Rys hoef nooit eenvoudig of vervelig voorgesit te word nie. Ek sê altyd vir mense wanneer jy kook, dink hoe gaan ek hierdie rys ekstra smaak gee deur dit wat ek byvoeg. Onthou bruinrys kook nie heeltemal sag soos gewone wit rys nie, dit sal altyd ’n klein bietjie tekstuur hê.

genoeg vir 6-8

• 30 ml botter
• 30 ml olyfolie
• 1 ui, fyngekap
• 20 ml swart mosterdsade
• 20 ml komyn
• 270 g (375 ml) Spekko-bruinrys
• 90 g (125 ml) Spekko-witrys
• 1 000 ml hoenderaftreksel
• 1 x 100 g-pakkie pekanneute
• 1 x 100 g-sakkie bosbessies
• 1 hand vol koljander, grofgekap
• 2 komkommers, blokkies gesny
• 400 g kersietamaties, gehalveer
• hand vol sagte vars kruie, fyngekap (dille, koljander en pietersielie)
• sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit botter en olyfolie tot warm in groot pot. Voeg uie, mosterd en komyn by. Roerbraai vir 5 minute. Voeg al twee ryse by en roerbraai vir nog 3 minute. Gooi aftreksel by. Geur goed met sout en peper en verlaag hitte. Laat kook vir 25-30 minute of tot rys gaar is en vloeistof geabsorbeer het – gooi nog aftreksel by as dit lyk of pot gaan droogkook voor rys gaar is. Voeg res van bestanddele by en meng deur. Sit voor as bykos.

Nóg Inspirasiekos met SARIE-resepte

Waterblommetjie | Sout | Mossels en Oesters | Meel | Sampioene | Mozzarella | Soutwaterforel | Whisky | Vanielje

Spekko Promosie Tag

Hierdie episode van Inspirasiekos met SARIE (VIA, DStv-kanaal 147) is geborg deur Spekko. Met Spekko-rys kry jy altyd meer – ook inspirasie vir heerlike nuwe geregte.

SPEKKO VIA SPONSORSHIP DIGITAL IMAGE V2-B

Besoek www.spekkorice.co.za vir meer resepte en volg Spekko op Facebook of@SpekkoRice op Twitter en @SpekkoSA op Instagram.