VIA_FB_IKMS
VIA

Inspirasiekos met SARIE: Kook met kool

Daar’s seker nie ’n groente met ’n slegter reputasie as kool nie. Maar maak jy dit reg gaar, is dit geurig en propvol smaak. My soektog na die stories agter kos neem my week ná week na boere wat bestanddele met liefde en sorg kweek. Hierdie week kuier ek in die Robertsonvallei by Carlo van Wyk.

Carlo ken van boer en onder sy hande groei kool ruim. Hy vertel hy het al koolkoppe van tot 20 kg op sy plaas geoes. As jy so na Carlo en sy span kyk, kan jy sien dat die nommer 1-rede vir hul sukses hul liefde is vir goeie bestanddele.

IKMS_S5EP01_pic3

In die hitte van Robertson word daar kool geoes, as jy te warm kry maak jy ‘n hoed van die koolblare, vertel die dames

Op ons #Inspirasie-spyskaart dié week:

• Kool-en-lamsbredie

• Vinnige piekelkool

• Bobotie gebak in ’n koolkop

IMG_0030_R

Kool-en-lamsbredie

My ouma kon die heel lekkerste koolbredie maak, en ek het altyd oor haar skouer geloer hoe sy dié gereg optower. Hierdie is ’n ode aan haar bredie!

genoeg vir 4

• 2 middelslag-kopkole
• 30 ml olyfolie
• 1,5 kg lam-stowevleis (stewing lamb)
• sowat 500 ml warm water
• 1 groot ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
• 4 aartappels, geskil en gehalveer

Kerf die kool fyn. Plaas in ’n groot bak en gooi kookwater oor tot dit bedek is. Laat staan terwyl jy die vleis braai. Verhit die olie in ’n groot kastrol. Voeg die vleis by en braai oor hoë hitte. Hou aan met roer. Die vleis moet lekker bruin braai. Jy sal sien dat daar donker dele onder in jou kastrol vorm. Gooi ’n klein bietjie van die water in die kastrol en roer die donker stukkies los. Die vleis vorm iets wat soos Marmite lyk en ruik – dis die sous wat die bredie mooi bruin maak. Hou so aan tot die vleis baie bruin is. Voeg die ui en knoffel by. Braai verder vir sowat 10 minute. Geur met sout en peper. Verlaag die hitte en sit die deksel op wanneer die vleis baie bruin is. Onthou, jy moet die water bietjies-bietjies byvoeg om te sorg dat die bredie nie brand nie. Die proses kan maklik 1½ uur neem. Voeg die kool by. Dit gaan na ’n klomp kool lyk, maar dit kook baie af. Roer die kool deur en sit die deksel op. Laat stowe vir sowat 30 minute voor jy die aartappels byvoeg. Druk die aartappels onder die kool in. Laat die bredie verder stowe vir sowat 30 – 45 minute tot die aartappels sag is.

 

1D0A0109

Vinnige piekelkool

’n Heerlike bykos by byna enige maal!

genoeg vir 10

• 10 ml koljandersaad
• 10 ml mosterdsaad
• 5 ml komynsaad
• 1 lourierblaar
• 500 ml witwynasyn
• 5 knoffelhuisies
• 1 stuk gemmer (so groot soos jou duimnael), fyngerasper
• 2 baba-uie, in ringe gesny
• 100 g (125 ml) suiker
• 10 ml sout
• 5 ml swartpeperkorrels
• 10 ml borrie
• 10 ml rissievlokkies
• 1 kopkool, gekerf
• 4 wortels, in ringe gesny

Droogbraai die speserye en lourierblaar vir 3 – 5 minute in ’n warm middelslag-pot. Voeg die res van die bestanddele, behalwe die kool en wortels, by. Bring tot kookpunt en kook vir 5 minute. Voeg die kool en wortels by. Verwyder van die hitte en gooi die vuurwarm mengsel in gesteriliseerde glasflesse wat dig kan seël. Laat afkoel in die flesse en piekel die wortels en kool minstens ’n dag lank voor jy dit voorsit. Dit kan 2 – 3 maande in die yskas hou.

 

1D0A0116

Bobotie gebak in ’n koolkop

Jou groente en vleis is als bymekaar en dit lyk boonop mooi!

genoeg vir 8

• 2 uie, grofgekap
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 50 ml olyfolie
• 15 ml masala
• 15 ml fyn koljander
• 30 ml kerriepoeier
• 5 ml borrie
• 1 kg beesmaalvleis
• 1 x 400 g-blik tamaties
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 1 groot kopkool
• 50 ml melk
• 3 eiers
• 4 lourierblare

Verhit die oond tot 180 °C. Braai die uie en knoffel saam in die olyfolie in ’n warm pan tot dit begin verbruin. Voeg al die speserye by en braai vir nog 5 minute. Voeg die maalvleis by en braai tot dit gaar en die korrels los is (sowat 10 minute) terwyl jy heeltyd roer. Voeg die tamaties by, geur met sout en peper, verlaag die hitte en laat prut vir 25 – 30 minute. Hol die koolkop uit en skep die maalvleismengsel in die holte. Meng die melk en eiers en gooi oor. Druk die lourierblare in. Bak vir 25 – 30 minute of tot goudbruin en gaar. Sit voor met perskeblatjang.

Nóg Inspirasiekos met SARIE-resepte

Waterblommetjie | Sout | Mossels en Oesters | Meel | Sampioene | Mozzarella | Soutwaterforel | Whisky | Vanielje