Screen Shot 2016-11-28 at 3.41.12 PM
VIA

Inspirasiekos met SARIE: kook met rose

Week na week leer ken SARIE se kosredakteur, Herman Lensing, die boere en produsente wat kos kweek vir Suid-Afrika se tafels. Dié week is geen uitsondering nie en Herman ontdek ’n produk wat nie so gereeld in kospotte kom nie, maar eerder die feestafels versier: rose.

By Langkloof Roses buite Wellington, Wes-Kaap, groei die rose ruim onder Jacoba se hande. As jy haar vra hoekom sy met rose boer, is haar antwoord eenvoudig en opreg: “Ek wil mense se lewe beter maak met mooi. As ek vir iemand ’n roos uit my tuin gee, kan ek sien hoe hul gesig opwarm en helder raak. Dis die lekker van my werk!”

IKMS_ROSES_KFC_CARD1_0127

Jacoba, wat maak jou rose anders as dié wat ek in die winkel koop?

Ons rose hier by Langkloof Roses ruik soos ’n roos! Ons plant dit op oop lande waar dit son en baie water kry. Dit sorg dat jy rose kry wat soos die ware, wel Jakob (of in my geval die ware Jacoba), ruik!

Hoe maak ek dat my rose by die huis so mooi soos joune lyk?

Snoei dit gereeld. Gee dit baie kompos en genoeg water. Jy moet heeltyd die blare rondom die knoppe afsny om seker te maak die kop kry genoeg son.

Is rose eetbaar?

Ja, Herman alle rose is eetbaar. Jy moet dit net baie goed was om seker te maak dit is skoon. Maar natuurlik is die rose uit iemand se tuin baie beter om mee te kook as winkelrose.

IKMS_ROSES_KFC_CARD1_0110

Op ons Inspirasie-spyskaart dié week:

• Skons met rooskonfyt

• Romerige ryspoeding met fudge-sous

• G &T: Gin en tee!

IKMS_ROSES_KFC_CARD1_0106

Skons met rooskonfyt

Ek hou van skons met volop botter in, maar dit kan baie tyd verg om te maak. Barbara Joubert het my die kortpad-manier geleer van skons maak met olie, dis ewe lekker.

genoeg vir 12

Skons
• 480 g (860 ml) bruismeel
• 1 ml sout
• 2 eiers
• 250 ml melk
• 50 ml sonneblomolie
• ekstra eier om op skons te verf

Konfyt

• 675 g (845 ml) suiker
• 150 ml rooswater
• 150 ml koue water
• 15 ml vars suurlemoensap
• 100 g roosblare
• 250 ml room

Skons Verhit oond tot 180 °C. Sif meel en sout saam. Klits eiers, melk en olie saam in ’n aparte bak. Maak ’n holte in die middel van die meel en voeg eiermengsel by. Meng deur met ’n mes tot deeg vorm. Sprinkel meel op werkoppervlak. Plaas deeg bo-op en meng dit versigtig verder, maar pas op dat jy nie die deeg oorwerk nie. Gebruik ’n 6,5 cm-koekie-uitdrukker om skons uit te druk. Plaas op bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is. Klits 1 ekstra eier en verf skons met kwassie. Bak in warm oond vir 15-20 minute. Kook nou die konfyt Plaas suiker, rooswater en water in ’n kastrol. Plaas op lae hitte en roer tot suiker opgelos het. Bring tot kookpunt en voeg suurlemoensap by. Laat prut 2 – 3 minute oop tot stroperig. Voeg roosblare by en meng goed. Verlaag hitte en prut nog 6 minute. Laat effens afkoel
 en gooi deur sif in gesteriliseerde bottels. Voeg ’n bietjie van die roosblare by konfyt en maak bottels styf toe. Klits room tot sagte punte en sit voor saam met warm skons en konfyt.

 

IKMS_ROSES_DC_0065

Romerige ryspoeding met fudge-sous

genoeg vir 6

• 250 ml Spekko Basmati-rys
• 1 kaneelstok
• 1 vanieljepeul
• 800 ml melk
• 110 g (130 ml) strooisuiker
• 100 ml goeie rooswater

Meng al die bestanddele, buiten die rooswater, in ’n kastrol. Bring tot kookpunt en roer tot suiker gesmelt is. Laat prut tot rys sag is. Dit sal so 45 minute neem – roer elke nou en dan om te keer dat die mengsel brand. Gooi helfte van rooswater by en verwyder van hitte.

Karamelsous

• 170 g fudge, in blokkies gebreek
• 125 ml room
• 12 klein roosknoppies vir voorsit

Plaas fudge en room in ’n kastrol oor lae hitte en roer nou en dan totdat fudge gesmelt is. Skep romerige ryspoeding in opdienbak en gooi warm karamelsous oor. Sprinkel res van rooswater oor en garneer met roosknoppies. Sit voor.

 

IKMS_ROSES_KFC_CARD1_0086

G&T: Gin en tee!

Wat is ’n teepartytjie sonder die tee? Dié een is ekstra spesiaal met ’n goeie skeut jenewer!

genoeg vir 6

• 6 hibiskus-teesakkies met blomgeure (kyk by jou supermark se tee-afdeling)
• 3 steranys-peule
• 600 ml kookwater
• 100 ml rooswater
• 500 g ysblokkies
• 100 ml jenewer
• 500 ml tonikum of sodawater
• hand vol roosblare en klein roosknoppe vir voorsit

Plaas teesakkies, steranys en rooswater in groot pot en gooi kookwater by. Laat trek vir 30 minute of tot geurige tee – jy kan self besluit hoe sterk jy dit wil hê. Laat afkoel tot koud en gooi mengsel deur ’n sif in groot teepot. Voeg ysblokkies, jenewer en tonikum of sodawater by. Meng deur. Voeg by roosblare en roosknoppies. Sit voor.

Nóg Inspirasiekos met SARIE-resepte

Waterblommetjie | Sout | Mossels en Oesters | Meel | Sampioene | Mozzarella | Soutwaterforel | Whisky | Vanielje

Spekko Promosie Tag

Hierdie episode van Inspirasiekos met SARIE (VIA, DStv-kanaal 147) is geborg deur Spekko. Met Spekko-rys kry jy altyd meer – ook inspirasie vir heerlike nuwe geregte.

SPEKKO VIA SPONSORSHIP DIGITAL IMAGE V2-B

Besoek www.spekkorice.co.za vir meer resepte en volg Spekko op Facebook of@SpekkoRice op Twitter en @SpekkoSA op Instagram.