VIA

Inspirasiekos met SARIE: Kook met spanspek

Ry jy deur die Karoo, sal mense gou vir jou vertel dat jy nie Calitzdorp mag verbyry sonder om spanspek te eet nie, want hiér kry jy Suid-Afrika se beste spanspek – stroopsoet en sappig!

Ek kon natuurlik nie my kuier begin voordat ek gaan inloer het by Jaco de Waal om self te proe hoe dié juweel van die Karoo smaak nie.

VIA_FB_IKMS

Op ons Inspirasie-spyskaart hierdie week:

• Maleise kerrievis
• Slaai met gebraaide spanspek
• Spanspekvonkel

Maak seker jy kyk elke Maandag om 18:30 Inspirasiekos met SARIE op VIA, DStv-kanaal 147. Ons vertel jou die storie van kos en waar bestanddele vandaan kom.

 

IKMS_S5EP03_pic6_LR

Maleise kerrievis

Dit bly ’n gunsteling op my tafel. Die spanspek suig al die geure van die kerriesous op en raak ongewoon lekker!

genoeg vir 4-6

• 45 ml olyfolie
• 1,75 kg ferm wit vis
• 70 g (125 ml) koekmeel
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 100 g (125 ml) suiker
• 50 ml kerriepoeier
• 15 ml borrie
• 15 ml vinkelsaad
• 15 ml koljander
• 3 ml rooipeper
• 750 ml witasyn
• 125 ml water
• 4 uie, in ringe gesny
• 6 lourierblare
• 8 skywe spanspek, sonder skil

Verhit olie tot warm in groot pan. Rol vis in meel en braai in warm olie vir 5-8 minute per kant of tot gaar. Plaas intussen res van bestanddele in groot pot en bring tot kookpunt. Laat kook vir 5 minute. Plaas vis en spanspekskywe in vlak glasbak en gooi warm sous oor. Laat koel af tot kamertemperatuur. Maak toe en laat piekel in yskas vir minstens 24 uur.

 

IKMS_S5EP03_pic4_LR

Slaai met gebraaide spanspek

Verras jou gaste met ’n slaai met ham en spanspek wat in ’n riffelpan gebraai is.

8-10 porsies

• 30 ml olyfolie
• 1 groot spanspek, pitte verwyder en in skywe gesny
• 70 g (10 repies) parma-ham of ander kouevleis
• 250 g vars mozzarella (bocconcini)
• 125 g winkel-basiliekruidpesto
• hand vol vars basiliekruid
• 100 g okkerneute of ander neute van jou keuse
• 16 lietsjies, geskil
• sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit pan tot vuurwarm – die rook moet letterlik daaruit draai. Sprinkel olyfolie oor spanspek. Sit skywe in warm pan en braai 5-8 minute per kant of tot goudbruin. Laat effens afkoel en sny die vlees los met skerp mes. Pak jou vleis op ’n opdienbord en skep gebraaide spanspek bo-op. Breek mozzarella-balle in kleiner stukke en plaas ook op bord. Skep pesto oor en sprinkel vars basiliekruidblare bo-op. Krummel laaste neute oor en pak lietjies bo-op. Geur goed met sout en swartpeper. Sit voor.

 

IMG_0115.MOV.19_18_24_11.Still001_LR

Spanspekvonkel

Min dinge sal jou so gou verfris soos hierdie drankie!

genoeg vir 4-6

• 200 g (250 ml) witsuiker
• 100 ml water
• 1 groot spanspek, geskil en in blokkies gesny
• 750 ml yskoue vonkelwyn (verkieslik sauvignon blanc)

Plaas suiker en water in middelslagpot en bring tot kookpunt. Kook vir 8-10 minute of tot goue karamel vorm – wees baie versigtig want die karamel is regtig baie warm. Voeg spanspek by en meng deur tot spanspek sag en pap is. Laat effens afkoel en puree met staafmenger tot gladde mengsel vorm. Laat afkoel tot yskoud. Verdeel tussen glase en voeg yskoue vonkelwyn by. Sit voor.

Nóg Inspirasiekos met SARIE-resepte

Waterblommetjies | Sout | Mossels en Oesters | Meel | Sampioene | Mozzarella | Soutwaterforel | Whisky