FOTO Unsplash / Stefan Strebl

VIA

Van kerrie tot koftas, Herman kook met volstruis

My kuier in die Karoo duur voort vir die TV-program Inspirasiekos met SARIE en hierdie week maak ek kennis met die kroon van die Karoo: volstruisvleis.

VIA_FB_Inspiraisekos

Volstruisvleis is baie gesond en vol geur en smaak. Hein Jonker en sy gesin woon op Greylands waar ons die week kuier. Sy liefde vir die Karoo en sy mense maak jou sommer lus om te kook!

Op ons Inspirasie-spyskaart die week

• Boerekerrie-en-rys met bone
• Maalvleis-koftas op koeskoes
• Geskroeide carpaccio

 

volstruis3

Boerekerrie-en-rys met bone

4 – 6 porsies

• 45 ml olyfolie
• 2 uie, grofgekap
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 15 ml masala
• 15 ml fyn koljander
• 30 ml kerriepoeier
• 5 ml borrie
• 500 g volstruisvleis
• 1 x 410 g-blik tamaties
• 1 x 400 g-blik klappermelk
• sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
• 1 x 410 g-blik borlotti-bone, gedreineer
• 1 x 410 g-blik cannellinibone, gedreineer
• hand vol vars koljander, gekap

Verhit olyfolie tot warm in middelslagpot. Voeg ui en knoffel by en braai 3 – 5 minute of tot begin verbruin. Voeg speserye by en braai nog 1 minuut. Voeg maalvleis by en braai sowat 5 minute of tot bruin. Voeg tamatie en klappermelk by. Geur goed met sout en swartpeper. Verlaag hitte en laat stadig prut vir 35 – 45 minute of tot kerriemengsel dik en romerig word. Voeg bone by en laat nog 5 minute prut. Verwyder van hitte en roer gekapte koljander by. Geur met sout en peper. Sit voor met gestoomde rys van jou keuse.

Wenk
Dis belangrik om geblikte bone altyd onder lopende water af te spoel om van die stysel ontslae te raak voor jy dit by die kerrie sit.

volstruis2

Maalvleis-koftas op koeskoes

genoeg vir 4 – 6

• 400 g volstruismaalvleis
• 20 ml fyn koljander
• 1 hand vol vars koljander, gekap
• 10 ml fyn komyn
• 1 brandrissie, gekap
• 1 eier
• sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
• 6 sosatiestokkies
• 60 ml olyfolie
• 80 g koeskoes
• 125 ml warm hoenderaftreksel
• 45 ml botter
• suurroom vir voorsit

Verhit oond tot 180 °C. Meng maalvleis, koljander, komyn, brandrissie en eier. Geur met sout en swartpeper. Gebruik jou hande en vorm lepels vol van die maalvleis om die sosatiestokke se punte. Druk stewig vas. Verhit olyfolie in braaipan. Braai maalvleiskebabs sowat 5 minute per kant of tot goudbruin. Plaas op bakplaat en bak verder in warm oond tot gaar – sowat 10 minute. Terwyl koftas bak, plaas die koeskoes in ’n skoon glasbak en gooi die warm aftreksel oor. Draai bak toe met kleefplastiek en laat staan 5 minute. Vlok los met ’n vurk en roer botter deur tot gesmelt. Geur met sout en swartpeper. Sit warm voor saam met koftas en bietjie suurroom.

volstruis4

Geskroeide carpaccio

genoeg vir 4

• 2 takkies vars roosmaryn van sowat 6 cm elk
• hand vol Italiaanse pietersielie
• 750 g heel volstruisfilet
• growwe sout
• 30 ml olyfolie
• 400 g kersietamaties, gehalveer
• 6 gemarineerde agurkies, in skywe gesny
• 100 g parmesaankaas
• olyfolie om oor te sprinkel

Mayonnaise

• 250 ml goeie mayonnaise
• 100 ml peperwortelroom (horseradish cream)

Breek blaartjies van roosmaryntakkies af. Plaas op houtplank en kap fyn. Kap pietersielie ook fyn en meng goed met roosmaryn. Sprei kruie uit oor houtplank. Geur vleis met sout en sprinkel helfte van olyfolie oor. Vryf olie goed in vleis in, sommer met jou hande. Plaas vleis bo-op kruie en rol tot goed bedek met die kruie. Verhit ’n kleefvrye pan en gooi res van olyfolie in.

Plaas vleis in pan en braai weerskante tot mooi bruin. Onthou, dis carpaccio, so dit moet nog heeltemal rou aan die binnekant wees – net die buitekant van die filet is gebraai. Haal uit pan en laat heeltemal afkoel. Dis nogal moeilik om die filet baie dun te sny, maar sny dit so dun as moontlik in skyfies. Plaas op opdienbord. Meng al die mayonnaise-bestanddele saam. Rangskik tamatie en agurkie op die repies vleis. Maak skaafsels parmesaankaas met ’n groenteskiller. Rangskik kaas bo-op en sprinkel ’n bietjie olyfolie oor. Skep mayonnaise oor en sit voor.

Nóg Inspirasiekos met SARIE-resepte

Waterblommetjies | Sout | Mossels en oesters | Meel | Sampioene | Mozzarella | Soutwaterforel | Whisky