16A6725-533x800
VIA

Inspirasiekos met SARIE: Lemoene!

Week na week reis ek die land plat op soek na die storie van bestanddele en die plekke waar dit vandaan kom. Dié week kuier ek vir Inspirasiekos met SARIE op Citrusdal by Gerrit van der Merwe, waar hy die sesde geslag is wat op die familieplaas, Karnemelksvlei, boer.

Sitrus gedy onder sy hande. As jy op die plaas stap, ruik jy jou nooi in ’n nartjie en verlang jy sommer terug na Ouma se kaneelpatats met lemoenskil.

Het jy geweet?

• Gerrit vertel dat elke boom in die bloeiselseisoen tot 6 000 bloeisels kan maak, maar slegs 1% van die bloeisels raak ’n vrug.

• Lemoene is ryk aan vesel. Een lemoen bevat dieselfde hoeveelheid vesel as 7 koppies graanvlokkies!

• Lemoene is een van die grootste uitvoerprodukte in die wêreld. Gerrit en sy span het selfs hul eie kantore in Kalifornië in die VSA, vanwaar hulle hul uitvoere bestuur.

• Lemoenbome is van die eerste vrugte wat Jan van Riebeeck aan die Kaap geplant het. Dié vrug, wat ryk is aan vitamien C, is vir skeepvaarders gegee om te keer dat hulle skeurbuik en ander siektes kry.

• Een van die hoofbestanddele in gaskoeldrank soos Coca-Cola is suurlemoen, vertel Gerrit. Al hoe meer boere begin suurlemoenbome aanplant, juis oor die aanvraag so groot is.

 

lemoen-3-570x320

Hoender-en-lemoenpastei

Jy kan die pastei maak met hoender wat reeds gaar is, of jou eie hoender eers rooster – die keuse is joune!

genoeg vir 4-6

• 1 gaar hoender, van die been af gevlok
• 45 ml olyfolie
• 2 uie, grofgekap
• 2 huisies knoffel, gekap
• 30 ml geroosterde masala
• 3 lemoene, in segmente gesny
• 250 g bruin sampioene, gekap
• 100 ml sjerrie
• 250 ml hoenderaftreksel
• 250 ml room
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 500 g blaardeeg
• 1 eier

Verhit oond tot 200 °C. Verhit olyfolie tot warm in groot pan en roerbraai uie en knoffel tot begin verbruin. Voeg masala by en braai verder vir 2 minute. Voeg lemoensegmente en sampioene by en braai sampioene tot goudbruin. Voeg hoender by en braai nog 5 minute. Gooi aftreksel en room oor en laat stadig prut tot mengsel dik en romerig is. Geur goed met sout en swartpeper. Gooi in ’n oondvaste bak van 30 cm. Rol blaardeeg uit en sny sowat 2 cm groter as bak se rand. Plaas op hoender. Verf met eier en bak vir 25 – 30 minute of tot goudbruin. Sit warm voor.

 

 lemoen-4-570x320

Lemoen-en-sjokoladetert

Lemoen, sjokolade en frambose is goeie pasmaats

genoeg vir 6-8

• 250 ml lemoensap
• 100 g (125 ml)  suiker
• 2 lemoene, geskil en skywe gesny
• 200 g sjokoladekoekies, fyngekap
• 100 g (108 ml) botter, gesmelt
• knippie sout
• 250 ml room
• 400 g melksjokolade, gekap
• 125 g frambose
• ekstra sjokoladekoekies vir voorsit

Bring lemoensap en suiker tot kookpunt. Voeg lemoenskywe by en laat kook tot lemoen sag en pap is. Meng koekies, botter en sout saam. Voer 30 cm losboompan uit met bakpapier. Gooi koekiemengsel onder in pan en druk stewig vas. Skep lemoen uit stroop en pak bo-op kors. Bring room tot kookpunt in pot en gooi gekapte sjokolade by. Roer tot gladde mengsel. Gooi in kors. Pak frambose bo-op en laat stol in yskas vir 3-4 uur. Garneer met ekstra sjokoladekoekies.

 

lemoen-2-570x320

Lemoenbeet

Dié resep kom van my kosmentor en vriendin, Jenny Morris.

genoeg vir 4-6

• 8 groot bete, geskil
• 15 ml heel komyn
• 30 ml heuning
• 45 ml korrelmosterd
• 250 ml vars lemoensap
• 40 ml rooiwyn-asyn
• 1 rooi brandrissie, fyngekap
• sap en skil van 1 lemoen
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 4 wiele fetakaas, gekrummel
• 100 g okkerneute
• 6 bababete in dun skywe gesny (hou dit rou)
• 1 hand vol babaslaaiblare van jou keuse

Plaas die beet in ’n middelslagpot en bedek dit met koue water. Bring tot kookpunt en kook 25–30 minute of tot gaar maar steeds ferm. Dreineer en laat afkoel. Droogrooster komyn in warm pan. Meng komyn met die heuning, mosterd, lemoensap, asyn, brandrissie en lemoensap en -skil. Geur goed met sout en peper. Gebruik ’n skerp mes en sny beet in kwarte. Gooi dit in die lemoensous. Voeg feta, neute en bababeetskywe by. Meng deur en garneer met die slaaiblare. Sit voor.