VIA

Inspirasiekos met SARIE: Mieliemeel by Zinkplaat se Bertie

Dis 2002 in ’n koshuiskamer in Paul Roos Gimnasium en Bertie Coetzee stig die musiekgroep Zinkplaat met Beer Adriaanse, Basson Laubscher. Kort daarna kom Beitel van der Merwe by en dan ervaar Zinkplaat wegholsukses.

Maar in 2013 het elkeen sy eie pad gegaan. Bertie het pad gekies Prieska toe en op sy grootwordplaas, Lowerland, ’n “bio-boer” gaan word. Ek het op my soektog na die stories agter kos gaan inloer by dié musiekman se unieke manier van boer en meer gaan leer oor sy organiese mieliemeel, Familiemeel.

Bertie en Herman op Lowerland

Bertie en Herman op Lowerland

Wat is ’n “bio-boer”?

Dis ’n boer wat saam met die seisoene boer, organiese metodes implementeer en spesifiek GGO-vry boer (GGO staan vir geneties gemodifisieerde organisme). Bertie vertel dat dié manier van boer sy eie stel probleme oplewer, maar hy glo as hy daarmee volhou, sal sy produkte goed wees vir die liggaam en sal hy sy deel doen om terug te gee aan die aarde.

Herman: Bertie, hoe het jy van musiek tot by boerdery gekom?

Bertie: Die twee is eintlik nie so ver van mekaar verwyder soos jy dink nie. As jy die ritme van musiek verstaan, weet jy dat boerdery ook met ritme werk en as jy dit regkry, is die eindresultaat mooi, soos ’n liedjie wat jy skryf!  Albei is kuns wat vra vir intuïsie.

H: Is dit moeilik om met mielies organies te boer?

B: Mielies is seker die heel moeilikste gewas om organies te verbou, maar mielieboerdery vra vir presisie en as jy presies werk, kan jy goeie resultate kry. Gee genoeg water, moenie te naby aan mekaar plant nie en pas goeie landboutegnieke toe.

H: Buiten die mielieboerdery, waarmee boer jy nog?

B: Ons plant ook koring en pekanneute, maar ek is besonder opgewonde oor ons Lowerland-wyne (klik hier vir meer). Daar is tans 5 rooiwyne en 1 witwyn in die reeks. Die druiwe kom uit wingerde hier op die plaas, maar dit word op Stellenbosch gepars en die wyn word daar gemaak.

H: Wat is jou visie vir Lowerland Boerdery?

B: Ons visie is om ’n mandjie vol natuurlike, voedsame en heilsame produkte te produseer deur saam met die natuur te werk. Diversiteit in die mandjie weerspieël biodiversiteit op die plaas, van die grondlewe tot die plante, mense en boerdery-filosofieë.

Herman se lekkerste resepte met mieliemeel

Parmesaan-mieliepap met heuning, spek en geposjeerde eier

Parmesaan-mieliepap met heuning, spek en geposjeerde eier

Parmesaan-mieliepap met heuning, spek en geposjeerde eier

Die Kanadese braai graag hul spek in esdoringstroop. Ek doen dit met heuning.

genoeg vir 4-6

• 400 ml water
• 115 g (125 ml) botter
• 600 ml mieliemeel
• 12 repe rugspek
• 200 ml heuning
• 60 ml asyn
• 6 eiers
• 100 g parmesaankaas, gerasper

Bring water en botter tot kookpunt. Verlaag hitte tot stadige prut en gooi mieliemeel by terwyl jy aanhou roer. Roer oor lae hitte tot mengsel verdik. Maak pot toe en laat pap stadig kook vir sowat 10-12 minute of tot gaar – roer elke 2-3 minute om te keer dat die pap aanbrand. Maak die spek gaar terwyl die pap kook: Verhit kleefvrye braaipan tot warm. Sprinkel heuning oor spek en braai spek tot goudbruin en bros. Hou eenkant. Bring pot met water tot sowat 3 cm diep gevul tot kookpunt. Voeg asyn by en verlaag hitte tot water stadig prut. Breek eiers een vir een in water en posjeer vir sowat 3 minute vir sagte eiers of langer soos jy verkies. Sit so voor: Verhit pap tot warm en voeg parmesaankaas by. Roer tot gladde romerige mengsel, voeg ekstra water by indien nodig. Proe en voeg sout en peper by indien nodig – onthou, parmesaan kan soms baie sout wees. Skep in opdienbak en pak gebraaide spek bo op. Skep geposjeerde eiers bo-op en sit voor.

 

Plaatkoekies met mielies

Plaatkoekies met mielies

Plaatkoekies met mielies

Die plaatkoekies is heerlik saam met gebraaide spek of net so op hul eie.

genoeg vir 6-8

• 100 g (200 ml) koekmeel
• 5 ml bakpoeier
• 3 ml koeksoda
• 1 ml sout
• 75 ml mielimeel (pap)
• 1 eier
• 250 ml room
• 100 ml water
• 1 x 400 g-blik pitmielies, gedreineer
• 30 ml gesmelte botter

Sif meel, bakpoeier, koeksoda, sout en suiker saam. Voeg mieliemeel by en meng goed. Klits eier, room en water saam. Voeg droë bestanddele by en klits tot glad. Voeg mieliepitte by en meng. Smeer ’n pan met gesmelte botter. Skep eetlepels vol van beslag in die pan en braai alkant vir sowat 2 minute. Sit voor met heuning en botter.

 

Mieliemeel-en-suurlemoenkoek

Mieliemeel-en-suurlemoenkoek

Mieliemeel-en-suurlemoenkoek

Die Italianers bak ’n koek met polenta en almal dink dis baie grênd, maar hier in SA het ons al vir jare geel mieliemeel.

genoeg vir 8-10

• 400 g (430 ml) sagte botter
• 400 g (500 ml) strooisuiker
• 5 eiers
• 200 g pistasieneute
• 100 g fyn amandels
• 100 g okkerneute
• 5 ml vanielje
• skil van 2 suurlemoene
• 225 g mieliemeel (pap)
• 7 ml bakpoeier
• 1 ml sout

Stroop

100 ml water
• 100 g (125 ml) suiker
• sap en skil van 1 suurlemoen

Verhit oond tot 180 ̊C. Voer ’n 22 cm-losboom-koekpan uit met bakpapier en spuit goed met kleefwerende kossproei. Klits botter en strooisuiker saam tot lig en romerig. Voeg eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Voeg res van bestanddele vir die koek by en meng tot gladde beslag vorm. Skep beslag in pan en smeer gelyk. Bak vir sowat 30-35 minute of tot toetspen skoon uitkom. Terwyl koek bak, kook die bestanddele vir die stroop saam. Gooi oor warm koek sodra dit uit die oond kom. Laat afkoel. Verwyder koek uit pan en plaas op opdienbord. Sit voor met mascarpone-kaas.