VIA_TW_Inspirasiekos
VIA

Inspirasiekos met SARIE: Olyfolie + 5 dinge oor olyfolie

My ma vertel altyd ons is die somtotaal van die mense en die dinge waarmee ons onsself omring. Sal ek ooit genoeg kan dankie se vir die afgelope paar weke se kos-inspirasie? Ek dink nie so nie.

Week na week kry ek die kans om te leer van bestanddele en om te sien hoe sout-van-die-aarde-mense hul liefde en passie met ons deel. Dis hul liefdesoffer wat my lus maak om te kook. Maar vandag is ek werklik nederig en ongelooflik dankbaar om eerstehands te leer hoe olyfolie gemaak word by die Willow Creek-olyfplaas in die Nuy-vallei. Is daar dan op hierdie aarde ’n olie wat harder werk, meer moet genees en telkemale uit ons hande vloei om die katalisator te wees tussen ons en die feesmaal wat gekook word? Met ’n trots Suid-Afrikaanse hart is ek hier by Nuy om self my eie olyfolie te maak by ’n plek wat spog met die wêreld se beste. Is dit slim tegnieke of die omgee van ’n familieplaas wat glo net die beste produk is goed genoeg? Dié plaas se olyfolie het al internasionale pryse gewen. Op die spyskaart is geposjeerde salm en ’n lemoenkoek wat met olyfolie gebak word.

Het jy geweet:

1. Olyfolie is propvol gesonde elemente wat kan help om jou bloeddruk te verlaag, en dis een van die olies wat besonder ryk is aan antioksidante soos vitamien E.

2. Griekeland is die land waar die meeste olyfolie gebruik word. Die Grieke neem sowat 26 liter olyfolie per persoon per jaar in. Dis ook een van die lande waar die minste hartaanvalle voorkom.

3. Een olyfboom lewer sowat 4 liter olie per jaar vir omtrent 100 jaar, maar die boom lewe veel langer, selfs tot 600 jaar.

4. Alle olywe is in die begin groen, ongeag die variëteit. Soos die olyf ouer raak, verander sy kleur van groen na swart.

5. Olyfolie is baie sensitief vir lig en raak gou galsterig. Daarom word dit in donker houers verkoop en verpak. Bêre die olie altyd weg van lig af in ’n koel donker plek in jou kas.

IKMS2.11.05

Salm geposjeer in olyfolie

Geur die olie met speserye vir lekker smaak.

genoeg vir 4

1 liter olyfolie
6 jenewerbessies
5 lourierblare
30 ml heel komyn
2 steranys-peule
5 knoffelhuisies
2 salmfilette (sowat 800 g)
sout en varsgemaalde swart peper
24 aspersies
100 g pekanneute
250 ml crème fraîche vir voorsit
2 suurlemoene
vars kruie vir voorsit

Verhit olyfolie tot matig warm in groot pan. Voeg geurmiddels by en verhit oor lae hitte vir 10 minute. Plaas vis in warm olie en posjeer vir 15 minute. Pak aspersies en neute by vis en posjeer vir nog 10 minute of tot aspersies gaar is. Lig vis uit olie en plaas op opdienbord. Skep aspersies en neute uit olie en plaas bo-op vis. Skep crème fraîche oor en rasper suurlemoenskil oor. Garneer met vars kruie van jou keuse.

IKMS2.11.01

Gebreekte aartappels met dille en olyfolie 

Die olyfolie saam met die botter maak hierdie gereg ’n wenner

genoeg vir 4

500 g baba-aartappels
150 ml olyfolie
100 g botter
30 g vars dille, fyngekap
sout en varsgemaalde swartpeper
100 g okkerneute

Kook aartappels met skil en al tot sag. Verwyder van hitte en voeg olyfolie en botter by. Gebruik agterkant van vurk en breek aartappels in growwe stukke – byna soos kapokaartappels maar growwer. Voeg dille by en geur goed. Vou neute by, meng deur en sit warm voor saam met vis.

IKMS2.11.03

Olyfolie-en-lemoenkoek

Die soet suiker werk hemels saam met die sitrusgeur van lemoene.

genoeg vir 1 koek

210 g (375 ml) koekmeel
10 ml bakpoeier
2 ml sout
220 g (250 ml) strooisuiker
3 eiers
skil en sap van 2 lemoene
skil van 2 suurlemoene
60 ml melk
190 ml olyfolie
100 g gevlokte amandels
versiersuiker vir oorsif
2-3 klein olyftakkies of roosmaryn
mascarpone vir voorsit

Verhit oond tot 180 grade Celsius. Sif meel, suiker, sout en bakpoeier saam. Meng eiers, lemoenskil, suurlemoenskil, melk en olyfolie met die droë bestanddele. Gooi in 22 cm-losboom-patroonpan (bundt) wat goed gespuit is met kleefwerende kossproei. Sprinkel amandels oor en bak vir 20 minute of tot goudbruin en bros. Gooi lemoensap oor sodra uit oond kom. Laat afkoel. Sif versiersuiker oor en garneer met olyftakke. Sit voor met mascarpone.