VIA_FB_Inspirasiekos-pre
VIA

Inspirasiekos met SARIE plus wenke vir jou eie groentetuin

Die lewe neem jou op vreemde paaie en inspirasie wag om elke hoek en draai. Dis gewoonlik in die klein dinge waar die mooi skuil. Ek is dankbaar vir die kos-engele om my wat my lewe elke dag ten goede verander.

Die afgelope 25 weke het ek die kans gehad om mense te ontmoet wat my hart en lewe gevul het met passie en liefde vir bestanddele. Maar my inspirasie-pelgrimstog sou nie volbring gewees het sonder ’n besoek aan die plek waar my kosdrome byna 10 jaar gelede begin het nie – The Institute of Culinary Arts buite Stellenbosch. Kom stap saam deur my alma mater se groentetuin waar kosdrome daagliks gebore word. Ek leer jou hoe om jou eie tuin te maak. Hier by die ICA is passie, liefde en respek die eerste dinge wat jy as student leer.

FOTO Donna Lewis

FOTO Donna Lewis

Wenke om jou eie groentetuin te begin

  • Kies ’n kol in jou tuin waar daar heeldag son én skadu-kolle is.
  • Spandeer eerste geld aan jou grond. Begin met goeie kompos; die komposlaag moet sowat 30 cm diep wees.
  • Begin met tamaties wat rank en plant iets soos grasuie daaronder. So kan jy in ’n klein spasie meer groente groei.
  • Plant stinkafrikaners tussen jou groente om insekte natuurlik weg te hou.
  • Gebreekte eierdoppe op die grond rondom jou groente hou slakke weg.
  • Maak vroegoggend of laatmiddag teen skemertyd jou tuin nat, want só gebruik jy minder water.
  • Kool verg die meeste moeite en put gou jou grond uit. Plant dit liewer in groot kratte sodat jy ná die oes die grond kan vervang.

 

Screen Shot 2016-05-16 at 4.38.19 PMBlomkoolsop

Genoeg vir 6-8

  • 45 ml olyfolie
  • 80 ml botter
  • 6 sprietuie, gesny
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 1 x 500 g-sak blomkool, grofgebreek
  • 500 ml hoenderaftreksel
  • 250 ml melk
  • 15 ml rissievlokkies
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 45 ml olyfolie
  • 1 x 225 g-chorizowors, in ringe gesny
  • 20 ml gerookte paprika

Verhit kanola-olie tot warm in middelslagpot. Voeg uie en knoffel by en roerbraai 2 minute. Verlaag hitte en voeg blomkool by. Plaas deksel op pot en laat stoom 8 – 10 minute of tot geurig. Roer elke 2 – 3 minute. Voeg aftreksel, melk en rissievlokkies by. Geur goed met sout en peper. Laat kook oop tot vloeistof met 1/3 verminder het. Gebruik ’n staafmenger (stick blender) en verpulp sop tot gladde mengsel. Proe en pas geur aan met nog sout en peper. Verhit olyfolie in braaipan en braai orige 1/4 van blomkool 5 – 8 minute of tot sag en bruin. Voeg chorizo by. Braai 3 – 5 minute of tot goudbruin en gaar. Voeg paprika by en braai nog 2 – 3 minute. Skep bo-op sop en sit voor.

Screen Shot 2016-05-16 at 4.39.30 PM

8 uur-varkvleis

genoeg vir 6

  • 60 ml olyfolie
  • 1,25 kg ontbeende varkboud
  • 2 uie, gekap
  • 3 knoffelhuisies, gekap
  • 200 g tamatiepasta
  • 1 x 400 g-blik tamaties
  • 750 ml rooiwyn
  • 45 ml gerookte paprika
  • hand vol origanum, gekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit oond tot 110 °C. Verhit olyfolie in ’n middelslagpot. Plaas varkboud velkant na onder in pot en braai vir sowat 5 – 8 minute tot goudbruin. Haal uit pot. Voeg uie en knoffel by en braai vir sowat 3 – 5 minute tot goudbruin. Sit varkboud terug in pot. Voeg tamatiepasta, blik tamaties, rooiwyn, paprika en origanum by. Geur goed met sout en swartpeper. Bring tot kookpunt en haal van plaat af. Plaas deksel op pot en plaas oornag in warm oond – sowat 8 uur. Verwyder gaar boud uit sous en gebruik ’n vurk en trek varkvleis in growwe stukke. Gooi klein bietjie van potsous by vleis tot lekker klam mengsel. Sit voor met hoemoes.

Screen Shot 2016-05-16 at 4.40.13 PMJerusalem-hoemoes

Ek het dié manier van hoemoes maak sonder olyfolie geleer tydens ’n besoek aan Amsterdam. Die water word met pietersielie gegeur om die hoemoes ekstra smaak te gee. Neem jou tyd en maak die gereg oor 2 dae.

genoeg vir 6

  • 350 g droë-kekerertjies
  • 250 ml tahini-pasta
  • 1 hand vol pietersielie, grofgekap
  • 4 knoffelhuisies, gekap
  • sap en skil van 2 suurlemoene
  • 150 ml water

Aand voor die tyd: Bedek kekerertjies met koue water en laat oornag week. Ja, ek weet dis moeite, maar glo my: jy gaan dit proe in die hoemoes!

Volgende dag: Dreineer geweekte ertjies en plaas in skoon pot met 5 ml sout. Bedek met water en bring tot kookpunt. Kook vir 30 minute of tot ertjies sag is. Dreineer en laat afkoel. Plaas gaar ertjies saam met tahini, pietersielie, knoffel sap en skil van suurlemoen in voedselverwerker. Gooi water by en maak op hoë spoed fyn tot gladde, romerige mengsel vorm. Geur baie goed met sout en peper. Hou eenkant.