herman inspirasiekos via
VIA

‘Inspirasiekos met SARIE’ se aarbei-resepte (episode 3)

In die derde episode van Inspirasiekos met SARIE besoek Herman die bekende Mooiberge-aarbeiplaas buite Stellenbosch. Dis hier waar hy as jong seun van Upington die eerste keer vars aarbeie gepluk en geproe het.

Screen Shot 2015-11-23 at 8.50.09 AM

Hier deel hy sy drie aarbeiresepte én Whirlpool deel ook ’n lekker resep vir ’n aarbeikaaskoek.

Herman se steurgarnale met aarbei-en-aspersieslaai

Hierdie slaai mag dalk baie volksvreemd klink en na iets weird, maar dis regtig heerlik. Die soet smaak van die grondboontjie-tameletjie-lekkers saam met die sout van die sojasous is perfek by die groen aspersies. Die garnale maak jy eenvoudig gaar met niks meer as sout en peper nie – so laat jy die slaai die meeste praatwerk doen!

Screen Shot 2015-11-23 at 9.03.14 AM

genoeg vir 6-8

  • 200 g grondboontjie-tameletjie-lekkers (peanut brittle)
  • 100 ml sojasous
  • 150 ml olyfolie
  • 1 hand vol koljander, fyngekap
  • 400 g aarbeie, gehalveer
  • 200 g kort aspersies, gedompel in kookwater vir 1 minuut
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Steurgarnale

  • 12 kebabstokkies
  • 12 steurgarnale, doppe verwyder en skoongemaak
  • 45 ml olyfolie

Plaas grondboontjielekkers in voedselverwerker en pols by hoë spoed tot baie fyn mengsel en hou eenkant. Meng sojasous, olyfolie en koljander saam vir sous. Plaas aarbeie, aspersies en fyn grondboontjies in groot slaaibak. Gooi sous oor en meng goed deur met metaallepel. Geur met sout en swartpeper. Laat staan in yskas vir 20 minute terwyl jy garnale gaarmaak: Ryg garnale stertpunt eerste op stokkies. Geur goed met sout en peper. Verhit olyfolie tot warm in groot braaipan en braai garnale vir 5-8 minute of tot goudbruin en gaar. Sit bo-op koue slaai en sit dadelik voor.

Herman sê

Maak so jou eie grondboontjie-tameletjie-lekkers: Plaas 420 g (500 ml) suiker, 50 ml water en 250 ml glukosestroop in middelslagpot. Voeg 115 g (125 ml) botter by en bring tot kookpunt terwyl jy aanhoudend roer. Hou aan kook tot mengsel ’n goudbruin karamelkleur kry en suikertermometer tot 140 °C styg – sowat 15-20 minute. Voeg 300 g grondboontjies sonder hul doppe by en meng versigtig deur met houtlepel. Voer bakplaat met bakpapier uit en spuit baie goed met kleefwerende kossproei. Gooi mengsel op bakplaat en druk effens plat. Laat afkoel tot hard. Breek in groot stukke en sit voor.

Herman se gebakte aarbeikaaskoek

Ek maak die kaaskoek gereeld vir my vriende. Onthou, hy is nie baie hoog nie en daarom bak hy binne minute gaar.

Screen Shot 2015-11-23 at 8.50.57 AM

genoeg vir 8

Kors

  • 250 g klapperkoekies, fyngemaal
  • 115 g (125 ml) botter, gesmelt

Vulsel

  • 2 x 230 g-bakkies roomkaas
  • 4 eiergele
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 80 g (95 ml) strooisuiker
  • 35 groot aarbeie, stingels afgesny

Kors: Verhit oond tot 180 °C. Meng koekies en botter saam tot tekstuur van klam seesand. Spuit oondroosterpan van 30 x 20 cm goed met kleefwerende kossproei. Gooi krummels onderin pan en druk stewig vas met vingerpunte.

Vulsel: Plaas al die bestanddele behalwe die aarbeie in menger se bak en klits tot romerig. Gooi in uitgevoerde pan. Pak aarbeie met stingelkant na onder bo-op. Bak vir 20-25 minute of tot mengsel gestol is. Laat afkoel in yskas en sit voor.

Kortpad-aarbeiroomys op stokkies

Gebruik winkelroomys om dié lekkerte te maak, jou gaste sal nie weet jy het kortpad geneem nie!

genoeg vir 10-12

  • 1 liter roomys van jou keuse
  • 200 g bevrore aarbeie
  • 6 aarbeie, in skywe gesny
  • yskoue vonkelwyn vir voorsit

Plaas roomys in mengbak en roer met houtlepel tot sag. Plaas bevrore aarbeie in voedselverwerker en puree. Meng puree goed met roomys – die vloeistof in die aarbeie kleur dit mooi pienk. Verdeel aarbeiskywe tussen roomysvorms (te kry by die kombuisware-afdeling in winkels). Skep roomys in elke holte en steek ’n houtstokkie in elkeen. Vries oornag. Doop vorms vinnig in kookwater en trek roomys uit. Sit voor met vonkelwyn.

insamewerkingtag

Aarbeikaaskoek

1 STRAWBERRY CHEESECAKE

Bestanddele

  • 250 g veselkoekies (digestive biscuits)
  • 100 g botter, gesmelt
  • 1 t vanieljegeursel
  • 600 g roomkaas
  • 100 g versiersuiker
  • 250 ml dubbelroom
  • 400 g aarbeie

Druk die koekies fyn met ’n koekroller.

2 STRAWBERRY CHEESECAKE

Gooi die koekiekrummels in ’n mengbak en voeg die gesmelte botter by. Meng deeglik totdat al die koekiekrummels bedek is.

3 STRAWBERRY CHEESECAKE

Gooi die krummelmengsel in gesmeerde tertpan en druk plat totdat dit egalig is en die hele basis bedek is.

4 STRAWBERRY CHEESECAKE

Plaas die roomkaas, versiersuiker, dubbelroom en geursel in ’n bak en meng met ’n elektriese klitser tot glad. Skep die mengsel op die beskuitjiebasis en laat dit oornag in die yskas.

5 STRAWBERRY CHEESECAKE

Maak die helfte van die aarbeie in ’n voedselverwerker fyn met die versiersuiker en 1 teelepel water. Gooi die puree oor die koek en sit die res van die aarbeie bo-op die tert as versiering.

6 STRAWBERRY CHEESECAKE

Produk van die week: 6th Sense Jetchef Microwave Oven JT 469 SL

WHIRLPOOL - PIZZA RECIPE 4

Whirlpool se 6th Sense-tegnologie gebruik ingeboude sensors om die vlak van humiditeit te bepaal en pas dan die tyd en krag aan vir die perfekte kookresultaat.

Lees HIER meer oor die 6th Sense Jetchef-mikrogolfoond.

 

WP Logo Colour on blank