herman inspirasiekos via
VIA

Inspirasiekos met SARIE se appelresepte

In dié week se episode van Inspirasiekos met SARIE op VIA (DStv-kanaal 147) gaan pluk Herman appels op Eikenhof buite Elgin. Hy maak ’n draai in die boord en pakstoor om appels te kies vir sy resepte. Op die spyskaart is appel-en-framboossorbet, boerewors-kerrie en appeltert soos jy nog nooit gesien het nie.

Grabouw-boerewors-frikkadelkerrie

Inspirasiekos2

Dié ikoniese boerewors is gelaai met geur, wat dit perfek maak vir frikkadelle.

genoeg vir 4-6

Kerrie

  •  45 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 45 ml vinkelsaad
  • 10 ml rissievlokkies
  • 45 ml gerookte masala
  • 30 ml borrie
  • 2 lourierblare
  • 2 x 410 g-blikke klappermelk
  • 1 hand vol vars koljander, grofgekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Frikkadelle

  • 500 g Grabouw-boerewors, uit die derms (omhulsel) gehaal
  • 1 ui, baie fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 15 ml fyn koljander
  • 15 ml fyn komyn
  • 1 eier
  • 1 appel, baie fyn gesny

Sous: Maak die olyfolie in ’n groot braaipan warm. Voeg die ui, vinkelsaad en rissievlokkies by. Roerbraai 5 minute of tot die ui begin verbruin – as dit lyk of die speserye begin brand, gooi ’n bietjie water by. Voeg die res van die speserye by en roerbraai nog 5 minute of tot die mengsel lekker geurig is. Gooi die klappermelk by en meng deur. Verlaag die hitte en laat stadig prut tot ’n dik, romerige sous vorm, sowat 20 – 25 minute. Roer die gekapte koljander deur, en geur goed met sout en peper. Hou eenkant.

Frikkadelle: Meng al die bestanddele en geur goed. Verdeel die mengsel in 16 frikkadelle. Pak die frikkadelle in die kerriesous en plaas oor lae hitte. Verlaag tot prut en kook vir 12 – 15 minute of tot gaar.

Appel-en-framboossorbet

Inspirasiekos1

Ek maak my sorbet met droë ys, maar jy kan dit ook daarsonder maak, dit neem net langer.

genoeg vir 8-10

  • 4 appels, ontklok en fyngekap
  • 200 g (250 ml) suiker
  • 200 ml koue water
  • sap en skil van 2 suurlemoene
  • 125 g frambose
  • 250 ml jogurt
  • 1 takkie roosmaryn, fyngekap

Plaas al die bestanddele vir die sorbet in voedselverwerker en maak op hoë spoed fyn tot gladde mengsel. Klits met draadklitser terwyl jy hande vol droë ys bygooi. Hou aan roer tot mengsel dik en romerig is en heeltemal gevries is. Hou aan roer tot al die rook van die droë ys verdwyn – sodra daar geen meer rook is nie, is al die ys verdamp. Skep balle vol van die roomys en sit voor.

Wenk

As jy nie droë ys gebruik nie, gooi mengsel in plat vrieskasbestande bak. Plaas in vrieskas en roer elke 20 minute tot gevries en romerige mengsel vorm.

Appeltert-pannekoek

Inspirasiekos3

Ek hou van appeltert en ek hou van pannekoek – meng die twee en jy het ’n wenkombinasie.

genoeg vir 14-16

  • 420 g (750 ml) koekmeel
  • 120 g (150 ml) strooisuiker
  • 5 ml sout
  • 6 eiers
  • 90 ml sonneblomolie
  • 1 050 ml melk
  • 200 g (250 ml) strooisuiker
  • 6 appels geskil, ontklok en in papierdunskyfies gesny

Sif die meel, strooisuiker en sout saam in ’n groot mengbak. Klits die eiers, olie en melk saam. Gooi by die droë bestanddele en meng tot ’n gladde beslag. Laat rus vir 10 minute in jou yskas. Verhit ’n 25 cm-braaipan tot warm en spuit met kleefwerende kossproei. Sprinkel klein bietjie strooisuiker onder in braaipan en pak paar appelskywe bo-op. Strooi bietjie kaneel oor en laat karamelliseer vir 1 minuut. Gooi genoeg beslag in die warm pan tot die boom net bedek is. Braai vir 1 minuut en draai die pannekoek om. Braai nog 1 – 2 minute of tot gaar. Hou eenkant. Hou so aan tot al die beslag en appels opgebruik is.