VIA

Inspirasiekos met SARIE: sê ‘kaas’!

Week na week leer ek nuwe bestanddele ken, herontdek ou bekendes en ontmoet die mense agter die bestanddele. Maar wat is die kombuis sonder room, botter en kaas? Die boustene van goeie kos! Daarom het ek by een van SA se voorste kaasmakers gaan inloer om meer te leer oor hul produk.

By La MONT tussen Ashton en Swellendam maak ’n klein span kaasmakers onder leiding van Karla Steyl ’n unieke reeks kase, maar hulle is veral bekend vir hul ROYAL ASHTON – ’n besonderse kaas met ’n soet geur en kenmerkende gaatjie-tekstuur. Karla vertel meer.

IKMS_S4EP13_pic2

Hoekom is die ROYAL ASHTON so uniek? 
Ons is die enigste kaasfabriek in SA wat dié kaas maak. Dis ’n moeilike proses om die gaatjie-tekstuur te kry en omdat jy met gis werk, is dit iets waarvoor baie kaasmakers nie kans sien nie.

Hoe kry jy die gaatjies?
Ons maak ’n harde kaas en voeg dan die gis by. Die kaas word gelos om te verouder en tydens dié proses vorm gasse wat die gaatjies in die kaas maak. Dis harde werk, want die kaas moet gereeld gedraai word om seker te maak die gaatjies is eweredig versprei.

Is daar altyd gaatjies?
Nee, dis juis die probleem. Jy weet nooit of die proses gaan werk tot jy die kaas oopsny nie. Elke kaas is uniek en dis ’n lang wag voor jy die resultate kan sien.

Op ons Inspirasie-spyskaart dié week

• Luukse kaas-en-rys

Croque monsieur

Kaasbord met oblietjies

IKMS_S4EP13_pic7

Luukse kaas-en-rys

Dis my bederf vir die middel van die week, maar hy is net so grênd op ’n feestafel!

genoeg vir 4

• 160 g Spekko Basmati-rys
30 ml botter
• 30 ml meel
• 250 ml melk
• 50 g (125 ml) Royal Ashton-kaas of beleë cheddarkaas, gerasper
• 125g chorizo-wors, in skywe gesny
• sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
• 200 g parmesaankaas, gerasper
• 100 g broodkrummels

Verhit oond tot 180 °C. Kook rys in ’n pot volgens aanwysings op pak en dreineer. Maak solank die sous: Smelt botter in ’n middelgroot pot en gooi meel by. Roer met ’n draadklitser tot meel deur botter geabsorbeer is. Gooi melk op een slag by en klits tot al die meel versprei is in die melk. Hou aan met klits oor lae hitte tot witsous dik en gaar is – so 5 tot 10 minute. Verwyder van hitte en gooi cheddarkaas by. Roer totdat kaas smelt. Voeg chorizo by. Dreineer rys en meng sous deur. Geur met sout en swartpeper. Gooi in ’n oondvaste bak. Strooi parmesaankaas en broodkrummels oor. Bak vir 20 minute of tot goudbruin en bros. Sit warm voor.

 

IKMS_S4EP13_pic5

Croque monsieur

As jy Frankryk besoek, is hierdie gereg die eerste ding wat jy moet bestel. Hy word ook voorgesit met eier bo-op, dan staan hy bekend as Croque Madame! Ek hou nie van klein kos nie, daarom maak ek sommer een oorgroot een.

genoeg vir 6

• 160 g (175 ml) botter
• 40 g koekmneel
• 370 ml melk
• 20 ml Dijon-mosterd
• 300 g Royal Ashton-kaas, gerasper
• 2 eiergele
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 250 g parmaham-repies
• 1 groot suurdeegbrood

Verhit oond tot 180 °C. Maak die sous: Smelt botter in ’n middelgroot pot en laat die botter bietjie braai tot effens verbruin, sowat 1 tot 2 minute (die Franse noem dit beurre noisette). Gooi meel by en roer met ’n draadklitser tot meel deur botter geabsorbeer is. Gooi melk op een slag by en klits tot al die meel versprei is in die melk. Hou aan met klits oor lae hitte tot witsous dik en gaar is, so 5 – 10 minute. Verwyder van hitte en gooi mosterd en kaas by. Roer tot kaas gesmelt is. Voeg eiergele by en roer deeglik. Geur goed met sout en varsgemaalde swartpeper. Sny die bokant van die brood af en hol die brood uit (jy kan dit wat jy uithaal gebruik om broodkrummels mee te maak vir die rys gereg hierbo). Gooi 1/3 van witsous in brood en pak ¾ van ham bo-op. Gooi nog 1/3 sous oor. Plaas brood se “deksel” terug en gooi laaste 1/3 van witsous oor brood. Pak oorblywende hamsnye bo-op brood. Plaas in warm oond en bak vir 25 tot 30 minute of tot goudbruin. Sit voor.

 

IKMS_S4EP13_pic3

Kaasbord met oblietjies

Goeie kaas vra min dinge daarby. Jy laat die geure en smaak van die kaas koning kraai op jou bord. Hetta van Deventer Terblanche, Kokkedoor-beoordelaar, vertel ons op haar blog meer oor die oblietjie. Klik hier

genoeg vir 12

• 100 g (110 ml) botter, gesmelt
• 4 eierwitte
• 100 g (190 ml) versiersuiker, gesif
• 100 g (180 ml) koekmeel
• 10 ml vanieljegeursel
• 5 soorte kaas van jou keuse – sorg altyd dat daar ’n keuse is tussen sagte kaas, harde kaas en bloukaas
• 125 g bloubessies
• eetbare goudblad-poeier
• eetbare blomme en wilde aarbeie vir garnering

Meng botter, eierwitte, suiker en koekmeel tot sagte mengsel en laat rus in yskas vir sowat 30 minute of tot koud. Verhit oblietjie-pan (klik hier) oor hoë hitte tot warm en skep balletjies van die mengsel in die pannetjies. Braai paar minute aan weerskante tot goudbruin en bros. Haal uit pan en plaas dadelik oor rolstok sodat die koekie ’n halfmaan vorm soos hy afkoel. Pak kaas op opdienbord. Rol bessies in goudblad en pak dit oral op die kase. Garneer res van kaasbord met die eetbare blomme en wilde aarbeie. Sit voor met die oblietjies (jy kan ook versiersuiker oor die oblietjies sif).

Hoe maak ek sonder so ’n pan?

Jy kan die beslag ook in jou oond bak in warm oond by 180 °C. Voer bakplate uit met bakpapier en spuit goed met kleefwerende kossproei. Skep klontjies van die beslag op die plaat en druk effens plat. Bak vir 5-10 minute of tot goudbruin. Laat afkoel en verwyder van bakplaat.

Nóg Inspirasiekos met SARIE-resepte

Waterblommetjie | Sout | Mossels en Oesters | Meel | Sampioene | Mozzarella | Soutwaterforel | Whisky | Vanielje

Spekko Promosie Tag

Hierdie episode van Inspirasiekos met SARIE (VIA, DStv-kanaal 147) is geborg deur Spekko. Met Spekko-rys kry jy altyd meer – ook inspirasie vir heerlike nuwe geregte.

SPEKKO VIA SPONSORSHIP DIGITAL IMAGE V2-B

Besoek www.spekkorice.co.za vir meer resepte en volg Spekko op Facebook of@SpekkoRice op Twitter en @SpekkoSA op Instagram.