mellfb
VIA

Inspirasiekos met SARIE se meelresepte + 5 goed wat jy nie van meel geweet het nie

In die hand van die bakker is die houtlepel ’n towerstaf. In die palm van die broodbakker is meel sy boustene. In die hart van die koringboer is elke korrel ’n liefdesoffer vir ons bakkerskombuis.

Sê jy Overberg, sien ek dadelik velde goue koring wat wuif in die wind. Dis daarom geen verrassing dat van die beste meel in SA gemaal word met koring vanuit hierdie streek nie. Ek het by Golden Reef Milling buite Caledon by die Fourie-gesin gaan kuier om te gaan leer hoe meel gemaak word. Vir baie is die blote gedagte aan meel deesdae vreesaanjaend. Ons hoor hoe ongesond en verkeerd dit is. En word vertel met elke happie brood is ons besig om ons grafsteen te bou. Maar koring in sy eenvoud bly ’n liefdesoffer van die aarde. Maal jy hom reg, is hy gelaai met voedingstowwe, vesel en liefde.

5 dinge wat jy nie van meel en koring geweet het nie.

1. Elke koringkorrel maak meer as 20 000 partikels meel en jy benodig sowat 350 koringare om een 800 g-brood te bak.

2. Graan wat in die wintermaande geoes word, soos in Suid-Afrika, staan bekend as harde meel en bevat 13% tot 15% proteïene (gluten), maar wanneer dieselfde graan in die somer geoes word, staan dit bekend as sagte meel en bevat 4% tot 9% gluten. Brood word gemaak van die harde meel wat elasties is en goed kan uitsit. Koeke en ander fyngebak wat ’n krummelrige tekstuur het, word weer gemaak van die sagte meel wat minder elasties is.

3. Die Romeinse godin Ceres word beskou as die beskermer van graan – dis waarvandaan die hedendaagse woord “cereal” kom.

4. ’n Gesin van vier kon tien jaar leef van die brood wat van een hektaar koring geoes word.

5. Noordwes in Suid-Afrika is die provinsie waar die meeste koring verbou word – sowat 40 000 tot 50 000 hektaar.

Hierdie episode van Inspirasiekos met SARIE (VIA, DStv-kanaal 147) is geborg deur Spekko. Met Spekko-rys kry jy altyd meer – ook inspirasie vir heerlike nuwe geregte.

VIA_FB_Inspirasiekos

Hier is die resepte: Alles met meel!

Screen-Shot-2016-04-25-at-12.24.36-PM-570x356

Suikerbekkiekoek

Die kombinasie van wortel, piesang en pynappel maak hierdie koek ’n treffer op elkeen se tafel.

genoeg vir 1 groot koek

• 420 g (750 ml) bruismeel
• 5 ml koeksoda
• 1 ml sout
• 250 ml kanola-olie
• 400 g (500 ml) strooisuiker
• 4 eiers
• 320 g (750 ml) gerasperde wortel
• 1 x 440 g-blik pynappelmoes, gedreineer
• 5 ml kaneel
• 2 piesangs, fyngedruk

VERSIERSEL
• 
500 g botter
• 750 g versiersuiker

Verhit oond tot 180 ºC. Meng al die bestanddele vir die koek met houtlepel tot gladde beslag. Voer 3 ronde koekpanne van 20 cm in deursnee met bakpapier uit en spuit goed met kleefwerende kossproei. Verdeel mengsel tussen panne en bak 25 – 30 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Keer uit op afkoelrakkies. Versiersel Klits botter met elektriese klitser tot lig en romerig. Voeg versiersuiker by en meng goed. Plaas een koeklaag op opdienbord en smeer van versiersel bo-op. Plaas tweede koeklaag bo-op en smeer nog versiersel oor. Doen dieselfde met die derde koek. Gebruik ’n slaplemmes en smeer res van versiersel reg rondom kante van koek. Versier met sagte vars kruie soos basiliekruid. Sit voor.

 

IKMS2.10.04-570x380

Beste macaroni-en-kaas, ooit!

genoeg vir 4

• 160 g macaroni
• 30 ml botter
• 30 ml meel
• 250 ml melk
• 50 g (125 ml) cheddarkaas, gerasper
• 1 eiergeel
• 125 g chorizo-wors, in skywe gesny
• sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
• 80 ml parmesaankaas, gerasper
• 100 g broodkrummels
• 200 g kersietamaties

Verhit oond tot 180 ºC. Kook pasta in ’n pot volgens aanwysings op pak. Maak solank die sous: Smelt botter in ’n middelslagpot en voeg meel by. Roer met ’n draadklitser totdat meel deur botter geabsorbeer is. Gooi melk in een slag by en klits totdat alles goed gemeng is. Hou aan met klits oor lae hitte totdat witsous dik en gaar is, so 5 – 10 minute. Verwyder van hitte en gooi cheddarkaas en eiergeel by. Roer totdat kaas smelt. Voeg chorizo by. Dreineer pasta en meng sous deur. Geur met sout en swartpeper. Gooi in ’n oondvaste bak. Pak tamaties bo-op en strooi parmesaankaas en broodkrummels oor. Bak vir 20 minute of tot goudbruin. Sit warm voor.

 

Screen-Shot-2016-04-25-at-12.25.23-PM-570x356

Ciabatta met 4 bestanddele

genoeg vir 2 brode

• 1 kg (1 785 ml) koekmeel
• 1 000 ml water
• 1 x 10 g-sakkie kitsgis
• 10 g sout
• 150 g sondroog-tamaties, gedreineer en fyngekap

Verhit oond tot 220 ºC. Gooi al die bestanddele in die bak van ’n elektriese menger. Meng dit met die mengspaan (K-beater) vir sowat 10 – 12 minute op volspoed, totdat die beslag ’n bal vorm in die middel van die bak (moenie die menger alleen los nie). Los beslag in bak en maak toe met kleefplastiek. Laat rys op ’n warm plek vir sowat 30 minute tot dubbel die volume. Sif ’n dik laag meel op ’n bakplaat wat met kleefwerende kossproei gespuit is. Sif nog meel op werkvlak en keer deeg versigtig uit. Sif ekstra meel bo-op deeg en sny deeg in twee helftes. Moenie die deeg te veel hanteer nie. Lig deeg met een beweging op en plaas op bakplaat. Herhaal met tweede stuk deeg. Vorm die deeg met jou vingerpunte in ’n langwerpige brood. Plaas dadelik in die oond en bak vir 20 – 25 minute of tot goudbruin en gaar.

Nóg Inspirasiekos met SARIE-resepte

Waterblommetjie | Sout | Mossels en Oesters

Spekko Promosie Tag

SPEKKO VIA SPONSORSHIP DIGITAL IMAGE V2-B

Besoek www.spekkorice.co.za vir meer resepte en volg Spekko opFacebook of@SpekkoRice op Twitter en @SpekkoSA op Instagram.