VIA_FB_Inspirasiekos_pre
VIA

Inspirasiekos met SARIE se mozzarella-resepte

Herman kuier vandag op Buffalo Ridge buite Wellington en ontmoet vir Kobus Lambrechts wat met waterbuffels boer. Kobus maak sy eie buffel-mozzarellakaas wat Herman gebruik in ‘n sampioen-calzone, caprese-slaai en komkommersop.

Koel komkommersop

inspirasie kos herman lensing via

Sop wat jy maak sonder ’n stoof! Dis lekker vars en fris. Die geheim is om dit goed te geur. As jy vriende oornooi wat vegetariërs is, is dié ’n lekker sop om voor te sit.

genoeg vir 6

  • 2 komkommers, grofgekap
  • 500 ml buffelmelk-jogurt
  • 1 handvol dille, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 10 ml fyn koljander
  • 5 ml fyn komyn
  • 1 rooi brandrissie, gekap
  • sap en skil van 2 suurlemoene
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker en maak dit teen ’n hoë spoed fyn tot ’n gladde mengsel. Geur baie goed met sout en peper. Plaas vir 10 minute in die vrieskas om vinnig af te koel. Skep in sopbakkies en sit voor met ekstra jogurt en broodstokkies.

Wenk: Jy kan die sop reeds ’n paar uur voor jou kuier maak. Meng dit net vinnig met ’n draadklitser voor jy dit opdien – komkommer bevat baie water en dit skei uit as die sop staan.

Caprese-slaai

inspirasie kos herman lensing via

Die eenvoud van die slaai maak die kaas die held van die gereg.

genoeg vir 4

  • 45 ml olyfolie
  • 45 ml botter
  • 150 g suurdeegbrood of brood van jou keuse, in growwe stukke gebeek
  • 6 groot rosa-tamaties
  • 350 g kersietamaties (gemengde kleure)
  • 150 g buffelmelk-mozzarellakaas (die soort wat jy in vloeistof koop)
  • 30 g basiliekruid
  • 45 ml olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit olyfolie en botter in ‘n groot braaipan. Voeg brood by en braai tot goudbruin en bros. Sny tamaties in skywe en halveer kersietamaties. Plaas saam met mozzarella, wat in growwe stukke gebreek is, broodstukke en basiliekruidblare op opdienbord. Sprinkel olyfolie oor. Geur goed met sout en swartpeper.

Sampioen-calzone

inspirasie kos herman lensing via

Calzone is soos ‘n pizza, maar jy vou dit toe. Jy kan seker sê dis ‘n pizza wat hom soos ‘n pastei gedra!

  • 400 g koekmeel
  • 10 g kitsgis
  • 100 g melkpoeier
  • 10 g sout
  • 45 ml heuning
  • 300 ml louwarm buffelmelk
  • 45 ml olyfolie
  • 1 x 410 g-blik tamatiepuree
  • 370 g wit sampioene, gesny
  • 200 g buffelmelk-mozzarellakaas, growwe stukke gebreek
  • 6 snye parmaham
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Meng koekmeel, gis en melkpoeier in groot mengbak. Voeg sout en heuning by. Gooi louwarm melk geleidelik by terwyl jy meng tot stywe kniebare deeg vorm. Knie vir 10 – 12 minute. Plaas in skoon bak wat met olie gesmeer is en maak toe met kleefplastiek. Laat rys op warm plek vir 25 – 30 minute of tot dubbel in volume.

Verhit oond tot 200 ˚C. Rol deeg tot sowat 5 mm dik op ‘n meelbestrooide oppervlak uit. Smeer tamatiepuree oor deeg. Plaas sampioene en kaas op helfte van deeg. Pak ham bo-op. Geur goed. Vou ander helfte van deeg oor vulsel en seël kante dig deur deeg saam te druk met vingerpunte. Plaas op ‘n bakplaat wat met kleefwerende sproei gespuit is. Bak vir 20 minute of tot goudbruin en gaar. Sit voor saam met slaai van jou keuse.