FOTO Willem Lourens

FOTO Willem Lourens

VIA

Inspirasiekos met SARIE, dít moet jy weet van spinasie

As kind het ek geweier om my mond aan dié groen blaar te sit – dit was vir my die groente uit die hel.

Maar ai, as ek so na Popeye gekyk het wat met een hap die wêreld kon oorwin, en boonop al die mooiste meisies vang, het ek geweet daar is iets aan hierdie groente wat ek miskyk.

Jare later het ek die groen dame weer in ‘n baie duur restaurant raakgeloop en dadelik geweet waarvan Popeye gehou het: maak jy haar reg gaar, is sy vol smake en geure wat jou betower. Wanneer jy spinasie eet, kan jy glo jy sal die wêreld se probleme met elke happie oplos. Ek het besluit om te gaan uitvind waar Dawid die spinasie geplant het by die Dew Crisp-plaas by Philippi net voor Stellenbosch, waarvandaan byna 80% van die Wes-Kaap se produksie vandaan kom, en nuwe inspirasie gevind om haar in wenners vir jou wintertafel te omtower.

Het jy geweet?

Wanneer jy spinasie gaarmaak, verhoog jy die voedingswaarde daarvan.

1. Spinasie is hoog in antioksidante wat onder meer goed is vir ‘n mooi vel en verbeter ook jou sig.

2. Spinasie bevat baie yster wat bydra tot gesonde bloeddruk.

3. Spinasie se oorsprong is glo antieke Persië, vandag Iran. Teen die 7de eeu was dit reeds in China en teen die 12de eeu in Spanje, waarna dit oor die volgende twee eeue in Duitsland, Engeland en Frankryk bekend geraak het.

 

FOTO Willem Lourens

FOTO Willem Lourens

Spinasiesop

Sorg dat jy die hele winter genoeg groente eet om gesond te bly. Hierdie sop is ’n maklike manier om sonder moeite groente in te kry.

genoeg vir 6-8

• 45 ml kanola-olie
• 5 preie, gesny
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 400 g murgpampoentjie, gesny
• 500 g boerewors, uit derm gedruk
• 600 g spinasie, gesny
• 1 liter hoenderaftreksel
• 250 ml laevetmelk
• 10 ml neutmuskaat
• 1 rooi brandrissie
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 45 ml olyfolie

Verhit olie tot warm in groot pot. Voeg preie, knoffel en murgpampoentjie by. Roerbraai 5 minute of tot groente begin verbruin. Voeg uitgedrukte boerewors by en braai 5-8 minute of tot wors gaar en korrels los is. Voeg spinasie by en braai nog 1 minuut. Gooi aftreksel, melk, neutmuskaat en brandrissie by. Geur met sout en peper. Maak pot toe en laat kook sop 10 minute. Verpulp sop tot glad met staafmenger en geur baie goed met sout en peper. Sit voor.

 

FOTO Willem Lourens

FOTO Willem Lourens

Semolina-pap met spinasie

Die lekkerste pap wat jy sal eet!

genoeg vir 6-8

• 45 ml olyfolie
• 160 g baba-spinasie
• 750 ml laevetmelk
• 100 g botter
• 250 ml semolina-meel
• 100 g (250 ml) parmesaankaas, gerasper
• sout en varsgemaalde swartpeper
• olyfolie vir braai
• 180 g klein groenbone, stingels afgesny
• 100 g dennepitte, gevlokte amandels of ander neute

Verhit olie tot warm in groot pot en braai spek tot goudbruin en bros. Voeg spinasie by en braai nog ‘n paar minute of tot spinasie verwelk. Voeg melk en botter by en bring tot kookpunt oor matige hitte. Voeg semolina geleidelik by en hou aan klits tot dik. Hou aan roer oor hitte vir nog sowat 5 minute of tot gaar. Meng parmesaan by tot gesmelt. Geur goed met sout en peper. Verhit nog bietjie olyfolie in braaipan en roerbraai groenbone tot sag en gaar, sowat 3-5 minute. Geur goed met sout en peper. Skep gaar pap in opdienbak en skep warm bone bo-op. Sprinkel amandels of dennepitte oor. Sit warm voor.

 

FOTO Willem Lourens

FOTO Willem Lourens

Keiserslaai in brood

Daar is niks so lekker soos om kos voor te sit op ‘n ongewone manier nie, wat eintlik heel gewoon is!

genoeg vir 4-6

• 1 groot suurdeegbrood
v80 ml botter

Sous
2 knoffelhuisies, gekap
• 1 cm vars gemmer, fyngerasper
• 45 ml heuning
• 30 ml korrelmosterd
• sap en skil van 1 suurlemoen
• 3 ansjovis-filette
• 100 ml olyfolie
• 100 ml jogurt

Slaai
100 g parmesaankaas
• 160 g baba-spinasie, gewas
• 100 g okkerneute
• 6 eiers, gekook vir 6 minute, afgedop en gehalveer

Gebruik ‘n kartelrand-mes en sny die bokant van die brood oop. Skep alles wat binne brood is uit met hande en hou eenkant. Verhit botter in braaipan tot warm en braai broodstukke tot goudbruin en bros. Meng al die bestanddele vir die sous saam en hou eenkant. Plaas spinasieblare, parmesaan en neute in mengbak. Gooi sous oor en meng deur. Voeg gebraaie broodstukke en halwe eiers by. Meng weer saam. Skep terug in brood en sit voor saam met gnocchi.