metspekko
VIA

Inspirasiekos met SARIE: Tamatie-braai!

In die vierde seisoen van Inspirasiekos met SARIE op VIA (DStv-kanaal 147) fokus Herman op die nederige bestanddele van die kombuis.

Dié week klop hy aan by Byron Booysen om meer te leer oor tamaties, die “groente” wat eintlik ’n vrug is!

metspekko

Ná ’n besoek aan die tonnels waarin die tamaties groei, is Herman soos gewoonlik gereed om ’n feesmaal voor te berei. Maar dié keer werk hy voor die kole pleks van voor die kospotte.

Hy kook tamatiesop, roosterkoek en Italiaanse frikkadelle – ja, oor die kole! ’n Tamatie-braai vir die tamatie-boer!

Op ons tamatie-spyskaart die week: 

1. Italiaanse frikkadelle met rys

2  Braaibrood-roosterkoek 

3. Sop van gerookte tamaties 

 

IKMS_S4EP03_pic5

Italiaanse frikkadelle met rys

Ja, jy kan selfs frikkadelle oor die kole gaarmaak!

genoeg vir 4

• 8 varkworsies
• 8 beesvleis-worsies
• sowat 50 ml olyfolie
• 400 g geblikte tamaties, fyngekap
• 125 ml witwyn
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 100 g parmesaankaas, fyngerasper
• hand vol vars basiliekruidblare, grofgebreek
250 ml SPEKKO Basmati-rys
• 500 ml water

Druk worsvleis uit in ’n mengbak. Meng goed. Vorm klein frikkadelle en hou eenkant. Wanneer kole lekker warm is, plaas ’n pan op die rooster. Gooi olyfolie in en verhit. Pak frikkadelle in pan en skud pan elke nou en dan sodat vleis nie vassit nie. Wanneer frikkadelle mooi bruin is, voeg geblikte tamaties en wyn by. Meng goed. Geur met sout en peper en laat braai oop tot sous verdik het. Voeg helfte van parmesaankaas by en meng deur. Maak rys gaar terwyl frikkadelle kook: Plaas rys, water en sout in pot en bring tot kookpunt. Laat kook tot al die water deur die rys geabsobeer is en die rys gaar is. Skakel hitte af en laat rys vir nog sowat 5 minute in toe pot stoom. Sprinkel basiliekruid oor frikkadelle en sit voor met rys.

 

IKMS_S4EP03_pic7

Braaibrood-roosterkoek 

By my braai is daar altyd braaibroodjies of roosterkoek. Nou maak ek hulle één!

genoeg vir 4

• 500 g winkeldeeg
• 100 ml tamatiepesto
• 200 g beleë cheddarkaas
• 300 g kersietamaties
• 1 ui, gesny
• koekmeel vir uitrol

Sprinkel koekmeel op werkvlak en rol deeg in groot vierkant uit – hoe dunner hoe beter. Smeer pesto oor deeg en sprinkel kaas oor deeg. Pak tamaties en ui bo-op. Rol deeg in lang wors op. Plaas foelie op toeklaprooster. Sit deegwors op rooster, maak rooster toe en braai oor mediumwarm kole tot goudbruin en gaar, sowat 15 minute per kant. Sit voor saam met sop of braaivleis!

 

IKMS_S4EP03_pic2

Sop van gerookte tamaties

genoeg vir 4

• 10 tamaties, gehalveer (500 g)
• 45 ml olyfolie
• 45 ml botter
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 1 ui, fyngekap
• 250 ml rooiwyn
• 1 x 400 g-blik kersietamaties
• 250 ml room
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 125 g gekoopte pesto
• hand vol basiliekruid

Kry jou kole mediumwarm en pak halwe tamaties op rooster. Laat braai tot sag en pap. Haal tamaties af en hou eenkant. Verhit olyfolie en botter in skoon kastrol oor matige kole of hitte.Voeg knoffel en uie by. Braai vir 5 minute of tot begin verbruin. Voeg gebraaide tamaties, rooiwyn en kersietamaties by. Krap van die kole weg sodat die temperatuur laer is en laat stadig prut vir 30 – 35 minute. Voeg room by en laat prut vir nog 5 minute. Geur goed met sout en peper. Haal pot van braaikole af en verwerk in voedselverwerker tot ’n gladde mengsel. Sit voor met pesto en vars basiliekruid.

Nóg Inspirasiekos met SARIE-resepte

Waterblommetjie | Sout | Mossels en Oesters | Meel |Sampioene | Mozzarella | Soutwaterforel | Whisky

Spekko Promosie Tag

Hierdie episode van Inspirasiekos met SARIE (VIA, DStv-kanaal 147) is geborg deur Spekko. Met Spekko-rys kry jy altyd meer – ook inspirasie vir heerlike nuwe geregte.

SPEKKO VIA SPONSORSHIP DIGITAL IMAGE V2-B

Besoek www.spekkorice.co.za vir meer resepte en volg Spekko op Facebook of@SpekkoRice op Twitter en @SpekkoSA op Instagram.