IKMSEP.04_PIC4 copy
VIA

5 dinge wat jy van vark moet weet + die lekkerste ribbetjies

My soektog na SA se beste produkte en die stories daaragter duur voort en vandeesweek se episode van Inspirasiekos met SARIE (Via, DStv-kanaal 147 om 17:30 en weer 20:30) kuier ek op Stellenbosch by Sweetwell-varkplaas waar Hennie Cronje my meer vertel van varkboedery en mites oor varkvleis.

Dis geen geheim dat vark steeds een van die mees bekostigbare snitte vleis op die mark is nie. En maak jy dit reg gaar, is dit propvol geur en smaak.

IKMSEP.04_PIC4 copy

5 dinge wat jy van vark moet weet:

1. Dis nie nodig om vark doodgaar te maak nie. Jy kan vark ook pienk eet. Dis ’n mite dat ongaar vark jou gaan siek maak. Maak net seker jy koop varkvleis met ’n rollermerk van die slagpale op – dit beteken dis van gesonde varke en geslag onder sekere regulasies.

2. Soek jy daai bros kraaklaag op jou varkboud of varklies? Die geheim is om geen vloeistof of vog op die vel te sit nie. Smeer klein bietjiebakpoeier oor die vel met jou vingerpunte voor jy dit rooster. Die bakpoeier pof uit en gee ekstra teksuur aan die krakeling (crackling).

3. Appel is vark se beste vriendin. Stowe of rooster vark in appelwyn of selfs appelsap. Dit maak die vleis geurig en smaaklik.

4. Nes met rooivleissnitte moet jy vark laat rus voor jy dit opskep. Verwyder dit van die hitte en laat staan dit vir sowat 2-3 minute voor jy dit voorsit. Die vleis gaan ontspan en sappiger wees.

5. Vark is een van die min vleissoorte waarvan die vetlaag buite-om die vleis sit. Dus is die vleis gesonder as jy die vetlaag wegsny, want daar is nie vet in die vleisweefsel (marmering of marbling) wat agterbly nie. Vark sonder die vet is goed vir mense met hoë cholesterol en vir diegene wat gesonder wil lewe.

Lemoen-ribbetjies

IKMSEP.04_PIC2

Die soet van die lemoen karamelliseer oor die kole terwyl jy dit braai en dít maak die ribbetjies heerlik!

genoeg vir 6

• 250 ml laesout-sojasous
• 100 ml worcestersous
• 1 liter lemoensap
• gerasperde skil van 1 lemoen
• 40 ml heuning
• ½ ui, fyngekap
• 1 x 410 g-blik tamatiepuree
• 1 lourierblaar
• 2 knoffelhuisies
• 1 rooi brandrissie, fyngekap
• 500 g rou varkribbetjies
• varsgemaalde swartpeper

Plaas sojasous, worcestersous, heuning en lemoensap en -skil in middelslag-pot. Voeg ui, tamatiepuree, lourierblaar, knoffel en rissie by. Bring mengsel tot kookpunt en plaas ribbetjies in mengsel. Kook 20 minute. Verwyder vleis uit sous en laat sous verder kook tot dit met 2/3 verminder het. Geur ribbetjies goed met peper – sout is onnodig, want die sojasous het ’n sout smaak. Sorg dat vuur se kole matig warm is en plaas gekookte ribbetjies in toeklaprooster. Verf met afgekookte marinade. Braai 5 – 8 minute per kant of tot goudbruin en bros. Sit warm voor.

Nóg resepte!

Kry Herman se resep vir Vark-en-okkerneut-terrien HIER.

Kry die varktjops-resep wat jy binne 30 minute kan maak, HIER.