1C3B0085
VIA

Inspirasiekos: Planne met blomkool!

Wat is ’n Sondag-lamsboud sonder blomkool onder ’n donsige wolkie van witsous? Ek moes net eenvoudig gaan uitvind waar hierdie kroon van ons Sondagtafel vandaan kom.

By die Lentegeur-boerdery in die hart van Philippi in die Kaap kweek Wilfred Kohn en sy pa, Bernard, sowat 60% van die blomkole op ons tafels. Dié groentesoort met sy lae koolhidraat-inhoud het deesdae sterstatus en ons stem volmondig saam! Hier is ’n spyskaart wat die geure van die blomkool vier.

Maak seker jy kyk elke Maandag om 18:30 Inspirasiekos met SARIE op VIA, DStv-kanaal 147. Ons vertel jou die storie van kos en waar bestanddele vandaan kom.

Op ons inspirasie-spyskaart hierdie week:

• Warm ansjovis-doopsous met blomkool
• 8-uur-lamsboud met blomkool
• Luukse blomkool met witsous

1D0A0102

Warm ansjovis-doopsous met blomkool

Die sous heet bagna càuda, wat Italiaans is vir “in ’n warm bad”. Probeer dit as voorgereg – jy sal net nog en nog wil eet! Maak dit met geklaarde botter waarvan die melkvet verwyder is.

genoeg vir 6

• 250 ml olyfolie
• 5 knoffelhuisies, fyngekap
• 15 ansjovisfilette
• ’n hand vol gekapte Italiaanse pietersielie
• 125 ml geklaarde botter
• 1 kop (sowat 340 g) blomkool, gestoom tot halfgaar en in los blomme gebreek

Plaas olyfolie in middelslag-pot en verhit tot louwarm. Voeg knoffel en ansjovis by. Roer met draadklitser oor hitte tot ansjovis baie fyn is en mengsel geurig ruik. Verwyder van hitte en voeg pietersielie by. Laat effens afkoel tot louwarm. Klits botter lepel vir lepel by tot mengsel romerig raak. Geur met peper – sout is onnodig. Gooi in opdienbakkies en sit voor met blomkool.

 

1D0A0108

8-uur-lamsboud met blomkool

• 1 (2 kg) ontbeende lamsboud
• 10 heel knoffelhuisies
• 45 ml olyfolie
• 2 uie, grofgekap
• 200 g tamatiepasta
• 500 ml rooiwyn
• 500 ml beesaftreksel
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 300 g blomkoolstukke

Verhit oond tot 140 ˚C. Gebruik ’n skerp mes en steek 10 gate oral in boud. Druk ’n knoffelhuisie in elke gat. Verhit olyfolie tot warm in ’n groot braaipan. Braai die boud vir 5 minute per kant of tot goudbruin. Haal uit die pan en plaas in groot oondvaste bak met deksel. Braai uie in pan tot dit begin verkleur. Voeg tamatiepasta, wyn en aftreksel by. Bring tot kookpunt. Gooi oor vleis. Geur met sout en swartpeper. Voeg blomkoolstukke by. Plaas in warm oond en oondrooster oornag of 8 uur tot vleis murgsag is en van die been af val. Sit lam warm voor en garneer met vars kruie

 

1D0A0085

Beste blomkool met witsous ooit!

My grootwordjare op Upington was van die beste tye wat ek kan onthou: Sondae is daar groot gekook en lank gekuier saam met almal wat wou kom aansit. Daar was geen Sondagfees waar my ma se befaamde blomkool en witsous nie sy verskyning gemaak het nie. My ma se kinkel: brosgebraaide spek en parmesaankaas in die sous om dit ekstra smaak te gee. Natuurlik is geen blomkool volmaak sonder ’n bietjie fyn neutmuskaat bo-oor gesprinkel nie. Ek stoom heel koppe blomkool pleks van stukke – dit lyk vir my mooier, maar natuurlik kan jy dit met die los blomme ook doen.

genoeg vir 6

• 45 ml olyfolie
• 200 g spekvleisblokkies
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 55 g (60 ml) botter
• 35 g (60 ml) meel
• 660 ml melk
• 100 g parmesaankaas, fyngerasper
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 2 blomkoolkoppe (nie te groot nie)
• 10 ml fyn neutmuskaat

Verhit die olyfolie tot warm in groot pot. Voeg spek en knoffel by. Roerbraai vir 5-8 minute of tot spek lekker bros en bruin is. Skep uit pot. Verhit dieselfde pot weer tot warm en voeg botter by. Roer botter met draadklitser terwyl jy die meel byvoeg. Gooi melk by en hou aan met roer tot alles ingemeng is. Bring mengsel tot kookpunt terwyl jy aanhoudend roer. Roer tot dik romerige sous vorm en meel gaar is – sowat 8-10 minute. Verwyder van hitte en voeg parmesaan by. Meng tot gladde mengsel. Proe en geur dan met sout en peper – wees versigtig met die sout omdat parmesaan reeds sout is. Voeg gaar spek by en meng deur. Bring pot met bietjie water (sowat 5 cm hoog) tot kookpunt. Plaas koolkoppe in pot en maak toe. Stoom vir 10-15 minute of tot kool sag maar steeds ferm is. Plaas warm koolkoppe op opdienbord. Gooi warm sous oor. Sprinkel neutmuskaat oor en sit voor.

Herman sê:
Volg jy die Banting-dieet? Goeie nuus! Jy kan ook die blomkool geniet, maar maak só om die sous te verdik: Pleks van meel, voeg room en botter in pot saam met spek en ui, verlaag hitte en reduseer die mengsel tot romerige sous vorm – jy gaan die resep moet verdubbel om genoeg sous te hê. Geur goed.

Nóg Inspirasiekos met SARIE-resepte

Waterblommetjie | Sout | Mossels en Oesters | Meel | Sampioene | Mozzarella | Soutwaterforel | Whisky | Vanielje