FOTO Martin de Kock

VIA

Só kan jy help saam met Bobby en Karlien: In jou skoene

Kykers kan ook ’n verskil maak met die werklikheidsreeks Bobby en Karlien: In jou skoene, wat vanaand om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) begin.

Bobby en Karlien van Jaarsveld, Suid-Afrika se bekendste boet en sus, laat in elke episode hul gewone lewe agter en bring die volgende 48 uur deur saam met iemand wie se lewe hemelsbreed van hul eie verskil.

Die twee se emosionele avonture gaan nie net daaroor om in iemand anders se skoene staan nie, maar ook om ’n verskil aan mense se lewe te maak. En jy kan ook help.

Met Candystick, ’n digitale platform vir geldinsameling, kan kykers geld skenk aan van die plekke wat Bobby en Karlien in die program besoek en só ook ’n verskil maak. Hier is die vyf sake uit die eerste seisoen wat met geldinsamelingspogings gehelp gaan word:

• In vanaand se episode word kykers genooi om die kinders van die Abraham Kriel-kinderhuis te help.

• In episode 3 (25 Januarie) word inwoners van die woonbuurt Elandspoort naby Danville besoek. Kykers kan dié gemeenskap bystaan deur skenkings te maak aan die Hanna-liefdadigheidstigting, ’n organisasie wat hom beywer vir die belange van Suid-Afrikaners wat in armoede leef.

• In episode 5 (8 Februarie) ontmoet ons die inspirerende polisieman Andries Douglas wat die weerloses van Ceres onder sy vlerk geneem het. Kykers sal ’n geleentheid kry om dié superheld te help.

• In episode 8 (1 Maart) kan kykers saam met Bobby die stryd teen renosterstropery help stry deur ’n bydrae aan die Stop Rhino Poaching-organisasie te maak.

• In episode 10 (15 Maart) leer ken ons dr. Liana Roodt van die Groote Schuur-hospitaal en haar Project Flamingo wat vroue met borskanker ’n tweede kans gee.

Besoek candystick.co.za om geld aan een van dié sake te skenk. ’n “Moneybox” vir een van die sake wat op Bobby en Karlien: In jou skoene verskyn het, sal prominent op die tuisblad vertoon word. Deur op die toepaslike “Moneybox” en dan weer op “Contribute” te klik, word jy na ’n betalingsblad geneem waar jy jou betalingsmetode – per elektroniese geldoorplasing of met jou kredietkaart – sowel as die bedrag wat jy wil skenk, kan aandui.

VIA_FB_Candystick

* Bobby en Karlien: In jou skoene begin vanaand om 20:00 met ’n spesiale 90 minuut lange episode wat Sondag om 18:00 herhaal word. Daarna word een uur lange episodes elke Woensdag om 20:30 uitgesaai met ’n heruitsending op Sondae om 18:30.

Lees nou

Bobby en Karlien se nuwe avontuur

VIDEO: Bobby dans saam met lugredery!

Karlien binnekort gestrand in die Seychelle