Steven

Steven

VIA

Leer ken ‘Sieners’ se Steven

KITSFEITE

  • Naam: Steven
  • Van: Bosch
  • Ouderdom: 37
  • Beroep: Beeldende kunstenaar en strategiese kommunikasiespesialis
  • Blyplek: Johannesburg

Wat is jou stylmantra?

Wees getrou aan jouself en dit waarmee jy gemaklik is, maar moenie bang wees om te speel en uit te staan nie. Selfs al beteken dit jy sal soms ’n frons of twee uitlok.

Hoe bly jy op hoogte van die nuutste trends?

Trends is die produk van ons omgewing en ontwikkel nooit in isolasie nie, daarom is dit belangrik om so wyd moontlik te kyk. Ek is geneig om te sê tensy iets in twee of meer velde (byvoorbeeld mode en tegnologie) verskyn, dit nog nie werklik ’n trend genoem kan word nie.

Tendense ontstaan dikwels onder die tieners van die dag, die kreatiewe bedryf of uit populêre kultuur. Dink maar hoe Madonna oor die jare heen direkte invloed op ons styl gehad het. So ek hou ook daarvan om mense (direk of deur die media) dop te hou. Baie van die nuutste neigings is sigbaar in sosiale media (veral Instagram), maar daar is ook in die media sekere sleutelpublikasies en webblaaie wat internasionaal gereken word. Ontwerpkonferensies soos Design Indaba is ook ’n goeie barometer. Soos wat ’n mens leer soek na nuwe tendense, leer jy al hoe meer om die klein aanduidings van verandering in ons samelewing te lees.

Wie is jou styl-ikone en hoekom?

Aangesien hy styl so moeiteloos dog dramaties laat voorkom, die modeontwerper Tom Ford. Blogger Sergio Ines (@whatmybfwore) is ’n Suid-Afrikaner wat mans konstant op sy blog inspireer om ’n bietjie meer op te dress. Die Gentleman Blogger, Matthew Zorpas (@MatthewZorpas), meng graag formele en straatmode en bied ’n goeie bron van inspirasie vir mode. Meer vir die nostalgie van sy era as vir sy werklike styl, sal ek Mad Men se Don Draper as fiktiewe styl-ikoon erken.

Jy hou ’n feesmaal vir jou styl-ikone. Wat sit jy voor?

Op die oomblik is van die grootste kostendense tapas-styl kos (oftewel peuselkos), eenvoud en tuis-ingelegde produkte. Die maaltyd sal bestaan uit tapas-styl peuselhappies waarin Suid-Afrikaanse tradisionele geregte met ’n kinkel bedien word. Dink onder meer aan lensie-bobotie-samoesas, varklieshappies met ’n appelkooskonfyt-bedruipsous en boegoe-gegeurde slaphakskeentjies.

Vir nagereg volg ons die tendens van hibried-nageregte waarvan die cronut die bekendste is (’n kruis tussen ’n croissant en donut). Hier sal ek ’n Suid-Afrikaanse hibried soos tempura, diepgebraaide melktertjies en ’n pekanneuttert-roomys voorsit.

Wat drank betref, is dit skemerkelkies van enkelmout-whisky of Suid-Afrikaanse fynbosgegeurde jenewer op ys.

Wat speel tans op jou iPod?

Aangesien dit die einde van die jaar is, stel ek tans ’n mixtape van die beste van 2015 se indie en alternatiewe musiek saam, maar daar is altyd ’n goeie dosis new romantic 80’s en alternatiewe 90’s tussenin. En David Bowie, Talk Talk en ’n klomp covers – ek vrek oor ’n goeie cover.

Wat is jou gunsteling-plek om vakansie te hou?

Paternoster aan die Weskus, waar ek by een van my gunsteling-restaurante, Oep-ve-Koep, kan eet. Of as ek weer mens wil word, Nieu-Bethesda. Oorsee is Firenze (Florence) of Londen gunstelinge.

Wat is jou kosbaarste besitting?

Dit is tussen ’n Suid-Afrikaanse kontemporêre kunsversameling (moet nou nie dink aan groot name soos Irma Stern of selfs William Kentridge nie) en ’n uitgebreide versameling boeke en musiek.

Maar ek kan nie daaraan dink om kuns te verkoop nie. Jy koop waarvan jy hou en roteer eerder, maar ek kan dit nie bloot as bates of dekorstukke sien nie.

Wat is jou gunsteling-kledingstuk?

Ek is nogal lief vir formele baadjies, en mag op die oomblik nie nog van hulle koop nie. Ek het juis ’n grys baadjie wat ek keer-op-keer uitgrawe as ek niks anders kry wat reg sit nie. Daar is min goed soos ’n kledingstuk wat goed pas.

Ek verstaan ook nie hoekom ’n mens nie tradisionele selfvou-strikdasse in winkels kan opspoor nie. Dis my nuwe klere-missie!

Wat is die een huidige trend wat jy in 2016 glad nie meer wil sien nie?

In mode moet die laekruis-sweetpakbroeke waarvan die broekspyp-rekke so driekwartpad op die enkel sit ’n vinnige dood sterf – veral in sy formele form.

In dekor is dit uit om mure of meubelstukke met swartbordverf te verf.

Wat is die grootste styl-flater wat jy al begaan het?

Toe ek in die tagtigs en negentigs grootgeword het, was daar maar heelparty modeflaters – darem kan ons dit op die tydperk blameer. Maar ek dink kombersbaadjies was seker die ergste faux pas ooit, hoewel my oorspronklike kombersbaadjie steeds ‘n “wenner” by kostuumpartytjies is.

‘n Nuwe episode van Sieners wys elke Woensdag om 16:30.

Sieners