VIA

Linden en Carmen se liefdesverhaal

Dis die belangrikste dag van jou lewe en jy het een kans om dit onvergeetlik te maak. Op VIA se program, Sê net ja, se tweede reeks moet ’n dapper minnaar elke week die moed bymekaar skraap om die groot vraag te vra.

Die beplanners Irusha Kröhn en Anelma le Roux sit hand by om te sorg dat asems weg geslaan word, maar met slegs twee dae om alles te reël is dit die verlowing wat aan ’n draadjie hang.

Dit gaan fyn beplanning vir Linden Hugo kos om die jawoord te vra op vanaand se episode, want ná slegs 4 amptelike maande saam, sal sy geliefde Carmen Mc Donagh ja sê as hy op een knie afsak?

Carmen en Linden ken mekaar al agt jaar lank, was in verskillende skole, maar in dieselfde dorp. Vir agt jaar lank het Linden sy oog op Carmen gehad en eindelik jare later kontak met haar op Facebook gemaak. Dié twee is nou al amptelik 4 maande ’n paartjie en Carmen verwag eers ’n huweliksaanbod oor ’n jaar. Sal sy Linden se aanbod aanvaar wanneer hy hul eerste romantiese uitstappie op die strand laat herleef? Die weer speel nie in Linden se guns nie, dus moet hy die strand onder dak bring.

Die tweede reeks van Sê net ja is ’n reeks soos geen ander op Suid-Afrikaanse televisie nie, kom deel in die pret en die angs wat gepaardgaan om die perfekte ja-woord te vra. Die twee energieke kenners, Irusha en Anelma, verstaan hoe om iets baie spesiaals in baie min tyd te reël. Skakel vanaand om 20:00 in op VIA (DStv-kanaal 147) om deel te maak van Linden en Carmen se liefdesverhaal.

Die program herhaal Sondagaande om 21:30.