Kos

’n Blou okkasie vir ’n ooievaarstee

Karen Dreyer woon op Melkbosstrand en moet ’n ooievaarstee vir ’n seuntjie reël. Sy is dol oor die see, ballonne en blou, en daarom moet haar okkasie van bo tot onder blou wees. Ou knoopdoop-tegnieke word ingespan vir die tafeldoek, en selfs Chinese papierlanterns word blou gekleur. Die maklike spyskaart is vol indrukwekkende peuselkos. Die Blou okkasie spog ook met ’n blou ballon wolk wat sweef oor die tavel.

Karen se spyskaart:

• Roosterkoek-koek
• Spinasie-en-sampioen-quiche
• Blou fluweelkoek

ROOSTERKOEK-KOEK

Dit is gewone roosterkoek, net anders voorgesit!

genoeg vir 12-14 

• 600 ml louwarm water
• 10 g sout
• 1 x 10 g-sakkie kitsgis
• 20 ml suiker
• 45 ml olyfolie
• 1 kg koekmeel
• 1 groot (40 cm hoog) polistireen-piramide (kyk by blomwinkels)
• tandestokkies
• botter, konfyt & chedderkaas

Sit water, sout, gis, suiker en olie in ’n mengbak en meng goed. Roer met ’n houtlepel en voeg meel geleidelik by tot ’n stywe, kniebare deeg vorm. Voeg ekstra meel by as deeg te loperig is. Knie sowat 10 minute op ’n meelbestrooide werkvlak tot ’n gladde, elastiese deeg. Sit in ’n bak wat gesmeer is met olie en draai toe in kleefplastiek. Laat rus op ’n warm plek tot dubbel die volume, sowat 30 – 45 minute.

Kry intussen die kole reg. Dit moenie te warm wees nie – jy moet jou hand sowat 20 sekondes bo die kole kan hou. Verdeel deeg in 80 g-porsies (so groot soos ’n gholfbal). Rol in netjiese balle en laat rys weer 10 minute op ’n meelbestrooide bord. Braai stadig oor warm kole tot goud- bruin en gaar, sowat 8 minute per kant. Steek gaar roosterkoek met tandestokkies aan polistireen-piramide vas. Sit warm voor met botter, konfyt en kaas.

SPINASIE-EN-SAMPIOEN-QUICHE

genoeg vir 8-10 

• 155 g botter
• 280 g (500 ml) koekmeel
• 45 ml water
• 45 ml olyfolie
• 2 uie, in ringe gesny
• 250 g spek, fyngekap
• 500 g groot bruin sampioene
• 300 g spinasie, grofgekap
• hand vol tiemie, gekap
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 6 eiergele
• 1 heel eier
• 500 ml laevet-melk

Verhit oond tot 160 ˚C. Verwerk botter en meel in voedselverwerker tot dit soos growwe broodkrummels lyk. Gooi water by en verwerk tot deeg vorm. Draai toe in kleefplastiek en verkoel vir 20 minute. Rol koue deeg uit tot 3 mm dik op meelbestrooide oppervlak. Voer ’n losboom-koekpan van 30 cm, gespuit met kleefwerende kossproei, met die deeg uit. Laat rus in yskas vir 20 minute. Prik die koue deeg met ’n vurk en bak blind (sien wenk) vir 10 minute of tot dit begin verkleur. Verwyder waspapier en bak kors tot goudbruin, sowat 10 minute. Verhit olyfolie tot warm in middelslag-pan.

Voeg uie by en braai tot begin verbruin. Voeg spek by en braai tot goudbruin, sowat 5 – 8 minute. Kap helfte van sampioene grof en voeg by. Braai tot sag. Voeg spinasie by en braai vir sowat 5 minute of net tot sag en gemeng. Roer tiemie by en verwyder van hitte. Geur goed met sout en peper. Skep mengsel in gaar kors. Plaas res van heel sampioene bo-op. Meng eier en melk. Giet oor tert. Bak vir 40 – 45 minute of tot goudbruin en gestol. Laat afkoel en sit voor.

Wenk: Blind bak beteken jy voer die kors met waspapier uit en sit dan rou rys of bone daarin. Dit voorkom dat die kors rys terwyl jy dit bak. Jy kan die rys of bone bêre en weer gebruik.

BLOU FLUWEELKOEK

(1 groot koek – 4 lae)

• 700 g (1 250 ml) koekmeel
• 20 ml bakpoeier
• 5 ml sout
• 60 ml kakaopoeier
• 2 x 30 ml-botteltjie bloukoskleursel
• 260 ml kanola-olie
• 10 ml vanieljegeursel
• 630 g (750 ml) strooisuiker
• 4 eiers
• 700 ml karringmelk
• 10 ml asyn
• 10 ml koeksoda

Basiese Roomkaas-versiersel

• 2 x 500 g sagte botter
• 2 000 g (2 kg) versiersuiker, gesif
• 2 x 250 g-houers roomkaas
• 125 g vars kersies

Verhit oond tot 180 °C.

Voer twee 30 cm-losboom-koekpanne met bakpapier uit en spuit goed met kleefwerende kossproei. Sif meel, bakpoeier, sout en kakao saam. Klits kleursel, olie, vanieljegeursel en strooisuiker saam. Voeg eiers een-een by en klits goed ná elke byvoeging. Voeg karringmelk by en meng goed.

Voeg droë bestanddele by en meng tot gladde mengsel. Roer laastens asyn en koeksoda by.Verdeel mengsel tussen panne. Bak in warm oond vir 30 – 35 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom.

Laat effens afkoel, keer op draadrakkies uit en laat heeltemal afkoel.

Roomkaas-versiersel

Klits botter in elektriese menger tot lig en romerig, sowat 5 – 8 minute.Voeg versiersuiker en roomkaas by. Meng goed.

 

Kyk voorskou hier: