Kos

’n Plaaskuier vir ’n huweliksherdenking

Natahli Magalie van Ceres en haar man is vanjaar 10 jaar getroud en sy wil dit vier met ’n Amerikaanse plaaskuier. Daar moet sonneblomme wees en hooibale vir sitplek. Gaste kan sit en eet waar hulle wil en die spyskaart moet informeel wees. Helder vlaggies en groot oop vure laat die okkasie spesiaal lyk en voel.

Nathali se spyskaart:

• Mielie-vetkoek
• Vuurwarm hoender op die kole
• Suikerbekkiekoek

MIELIE-VETKOEK

genoeg vir 6-8

280 g (500 ml) koekmeel
• 20 ml bakpoeier
• 2 ml sout
• 15 ml botter
• 250 ml melk
• 1 blik (410 g) mieliepitte, gedreineer
• sowat 500 ml sonneblomolie

Sif droë bestanddele saam. Vryf botter daarby in. Voeg melk by en meng goed. Voeg mielies by en meng goed. Verhit die olie. Skep ’n klein stukkie deeg in die warm olie om te toets of dit gereed is. As die deeg mooi stadig bruin braai, is olie reg. Draai die temperatuur laer wanneer vetkoeke begin verbruin. Dit braai sowat 10 minute om dwarsdeur gaar te word. Dreineer op kombuispapier.

Wenk: Gebruik twee eetlepels om deeg in die olie te skep, en doop die lepels voor elke skep in die warm olie.

VUURWARM HOENDER OP DIE KOLE

genoeg vir 6

• 1 groot hoender
• 4 knoffelhuisies
• 2 rooi brandrissies
• vars gemmer
• sap en skil van suurlemoen
• 250 ml jogurt
• 10 ml kaneel
• 15 ml komyn
• 10 ml koljander
• 15 ml gerookte paprika

Verhit jou oond tot 180 °C. Gebruik ’n skerp mes en sny die hoender-ruggraat só uit: Plaas die hoender met borskant na onder op ’n houtbord. Gebruik ’n skerp mes en maak twee diep snye aan weerskante van die ruggraat – dis die harde been wat dwarsdeur die hoender se rug loop. Sny dit versigtig los. Draai die hoender om met snykant na onder en druk dit heeltemal plat.

Meng res van bestanddele vir sous saam. Plaas plat hoender in oond-roosterbak. Gooi sous bo-oor. Geur goed met sout en swartpeper. Draai bak toe in tinfoelie en bak vir 25 minute. Verwyder uit oond en plaas halfgaar hoender in toeklaprooster.

Braai verder oor warm kole vir sowat 30 – 35 minute of tot goudbruin en gaar. Verf die hoender heeltyd met die sous.

Wenk: Jy kan ook die hoender op jou oond se rooster spit braai as jy so een het. Plaas aartappels onder die hoender soos hy braai om al daai geur en smaak te vang.

SUIKERBEKKIEKOEK

genoeg vir 1 koek

• 400 g (500 ml) suiker
• 4 eiers
• 375 ml sonneblomolie
• 280 g (500 ml) koekmeel
• 10 ml bakpoeier
• 5 ml koeksoda
• 10 ml fyn kaneel
• 750 ml gerasperde wortel
• 200 ml fyn klapper
• 1 x 410 g-blik fyn pynappel, gedreineer

Versiersel

• 2 x 250 g-houers roomkaas
• 100 g versiersuiker
• sap en gerasperde skil van 2 suurlemoene

Verhit oond tot 180 °C. Spuit 30 cm-losboompan met kleefwerende kossproei en voer met bakpapier uit. Klits suiker, eiers en olie saam. Voeg meel, bakpoeier, koeksoda en kaneel by eiermengsel en roer tot glad. Voeg die wortel, klapper en pynappel by. Gooi in pan en bak vir 1 uur of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat afkoel in die pan.

Versiersel

Meng roomkaas, versiersuiker, sap en skil van suurlemoen saam tot gladde mengsel. Plaas afgekoelde koeke op opdien bord en skep versiersel oor.

Kyk voorskou hier: