VIA
VIA

Snoesig in Mei met sewe nuwe progamme op VIA

Hoe laer die temperatuur buite daal, hoe lekkerder raak dinge op VIA (DStv-kanaal 147). Dié Afrikaanse kanaal spog met sewe splinternuwe programme in Mei, so trek jou kombers en pantoffels nader en maak jou tuis op die rusbank.

Vanuit hierdie snoesige posisie neem Daneel van der Walt jou op ’n kuberreis. COZA verken die buiteland deur die oë van Suid-Afrikaners wat oorsee woon. Die virtuele reise begin op Maandag 23 Mei om 16:00 en ons vind uit of Suid-Afrikaners werklik sonder braai en biltong kan oorleef.

Kry troukoors op Otto wanneer ons die funksie-koördineerder Otto de Jager volg terwyl hy ’n rits indrukwekkende geleenthede organiseer. Skakel in op Maandag 23 Mei om 17:00 en deel in die aksie agter die skerms van dié bedrywige partytjieprins.

Maandae word afgerond met Driekuns, ’n intieme kletsprogram waar drie bekendes wat naam gemaak het in dieselfde bedryf, stories oor hul lewens en loopbane deel. Driekuns begin Maandag 23 Mei om 18:00.

Kry ’n blik in die operasiesaal op Ure, die werklikheidsprogram waar jy die internasionaal beroemde hartspan van die Christiaan Barnard-hospitaal volg terwyl hulle hartoorplantings op kinders doen. Dr. Susan Vosloo is die chirurg wat jou sal begelei deur die daaglikse lewe in dié hospitaal, vanaf 24 Mei, elke Dinsdag om 17:00.

Kinders spring in die kollig op Dinsdag 24 Mei om 17:30 op Raai wat is toegedraai?. Op dié speletjiesprogram gee kleuters hul ouers leidrade oor sekere pryse wat toegedraai is. Net as die ouers regraai, wen die gesin die pryse. Met die aanbieder Quanita Adams.

Jou storie met Nina, ’n kletsprogram met ’n kinkel, begin Woensdag 25 Mei om 17:30 en bring die geliefde Nina Swart terug op ons skerms. Nina besoek bekendes en gesels oor onderwerpe waaroor sy wonder. Dan neem sy dit strate toe om die publiek se mening kry.

Ons viervoetige vriende sal selfs dieper in jou hart kruip op Dieredokters. Dié werklikheidsprogram speel in die Oaklands-dierekliniek af waar die veeartse Jacques Visser en Roxy Olivier jou inlaat op die lief en leed in die praktyk. Dieredokters begin Donderdag, 26 Mei om 17:00.

VIA

Tweede seisoene

Asof dít nie genoeg aksie vir Mei is nie, is drie van ons gewildste programme ook terug vir tweede seisoene. Zavion (begin 24 Mei om 18:00) beplan nou nie meer net ander se troues nie, maar ook sy eie.

Deur dik en dun (begin 24 Mei om 16:00) ruil die rolle om en die mans moet dié keer gewig verloor.

In My droom-trourok (begin 27 Mei om 17:30) help die mode-ontwerper Diaan Daniels amper-bruide om die perfekte trourok vir hul groot dag uit te kies.

Hou SARIE.com op Maandae dop vir die heerlike resepte wat SARIE se kosredakteur, Herman Lensing, op Inspirasiekos met SARIE maakEn Woensdae gesels ons saam met die glanspaneel van Sieners oor die nuwe en varste trends.

herman inspirasiekos via