FOTO Unsplash (Kris Atomic)

FOTO Unsplash (Kris Atomic)

VIA

Via se Sieners en Gert-Johan gesels trends!

Die wêreld verander heeltyd. Jy kan angstig daaroor voel, of jy kan probeer bybly, of die een wees wat die reëls maak. Maar dat trends konstant rondom ons te sien is, bly ’n feit. So wie is verantwoordelik vir die trends en waarna kan ons uitsien in die wêreld van boeke, musiek, klere en kuns?

Via se Sieners gesels vandeesweek elkeen oor hul eie veld, boeke, kuns en musiek. Dié week se spesiale gas is Gert-Johan Coetzee, by wie kers opgesteek word oor die trends vir die herfs/winter 2016-seisoen.

Wat is die verskil tussen ’n toonaangewer en iemand wat nuwe tendense volg?

Bibi Slippers, digter, skrywer en joernalis, verduidelik die grootste verskil tussen toonaangewers en dié wat trends volg, is dat toonaangewers absoluut vreesloos moet wees. Jy as die skepper van ’n nuwe tendens moet met oortuigende selfvertroue bereid wees om iets te doen wat die wêreld nog nie gesien het nie.

trends

FOTO Unsplash (Mariya Georgieva)

Wees op die uitkyk vir hierdie baanbrekers en tendense in Suid-Afrika

Musiek

In Suid-Afrika is daar ’n groei onder kletsrymers en “hip-hop”- kunstenaars soos Kwesta en Cassper Nyovest. Pulane Sekepe, vermaaklikheidsomroeper en aktrise, meen dat Afrikaanse musiek ook van krag tot krag gaan met groter produksies en al hoe meer maniere vind om musiek ten toon te stel.

Pulane sien uit na Zayn Malik (voormalige lid van One Direction) se nuutste CD en na alles wat Karen Zoid, Francois van Coke, Brendan Peyper, Bobby van Jaarsveld en Karlien nog in Suid-Afrika gaan vermag!

10 dinge wat jy van Brendan Peyper moet weet

Kuns

Steven Bosch, visuele kunstenaar en kommunikasie-spesialis, meen dat die kunste eerste sal wees om driedimensionele drukwerk in Suid-Afrika te omarm. Sosiale media word ook ingespan deur kunstenaars wat self hul kuns op verskillende platforms soos Instagram verkoop. Kuns word dus meer alledaags en meer binne die bereik van die meeste mense. Laastens sal openbare kuns al hoe meer toeneem. Stellenbosch het byvoorbeeld kuns in byna al sy strate.

Steven sê jy kan uitkyk vir die kuns van Banele Khoza, asook die wenners van die Turner-kunstoekenning. Hierdie prys is gewoonlik ’n goeie maatstaf vir wat in die kunswêreld gebeur.

FOTO’S: William Kentridge verf Rome

Boeke

Bibi Slippers, digter, skrywer en joernalis, meen dat grafiese romans en strokiesprente meer algemeen gaan word in ons Afrikaanse literatuur. Boeke is nie meer net gevul met woorde nie, maar stories gaan nou anders aangebied word met baie meer visuele elemente.

Bibi verwys na die Hertzog-prys as een van die grootste literêre pryse en dat hierdie prys die laaste jare baie jong wenners het. Tertius Kapp, wat in 2014 met die prys vir drama weggestap het (Rooiland en Oorsee), en Willem Anker se Buys, wat in 2015 die Hertzog-prys vir prosa gewen het, getuig van die fokus op jong skrywers.

Gert-Johan Coetzee

Modetendense hierdie winter

• Vanjaar gaan alles oor die 70’s

• Karamelkleure, donkergroen, wit op wit en kleure vanuit die 70’s sal in die winkels wees

• As dit by rokke kom, gaan jy baie valle en tierlantjies sien wat drup na die vloer

• Suède

trends

FOTO Phyllis Green

’n Eerste vir Suid-Afrika was Gert-Johan en Spree se samewerking met Spree Shop The Ramp. Met die bekendstelling van Gert-Johan Coetzee se Lente/Somer 2015-reeks by die SA Modeweek in Johannesburg, kon die gehoor van die klere wat op die loopplank te sien was, dadelik aanlyn koop. Gaan kyk op Spree na sy reeks!

Gert-Johan se gunsteling-ontwerper is Suzaan Heyns en hy sê jy kan uitkyk vir Prudence Kau.

Hoe om ’n baanbreker te wees in 5 stappe

1. Wees sigbaar daar buite. As mense nie van jou weet nie, kan hulle nie reageer op wat jy doen nie.

2. Stap jou eie pad.

3. Doen jou bes.

4. Kom uit jou gemaksone; die hol kol wat jy op jou maag gaan kry, behoort daar te wees, want dan weet jy jy doen iets anders en jy is besig om jouself te druk.

5. Gebruik die geleenthede rondom jou.

Lees ook

Waarskuwing: Dié 1980’s-baadjie is terug!

5 moet-hê’s vir jou herfskas