kar

FOTO: Justin Badenhorst

VIA

Via se Sieners gesels karre & kar-apps!

Millennials, millennials, millennials. Dit voel asof dié ouderdomsgroep nou oral invloed het, en die motorbedryf is geen uitsondering nie. Lees hier vir interessante karfeite en die apps wat jou ritte makliker, korter en goedkoper kan maak.

Elke week deel die program Sieners op Via die nuutste tendense en interessante feite oor ’n verskeidenheid onderwerpe. Dié week het hulle oor motors gesels. Lees tot heel onder vir die stappe om jou eie lugverfrisser te maak!

Het jy geweet?

Volgens Bibi Slippers, die digter, skrywer en joernalis, het millennials, oftewel die diegene wat nou tussen 20 en 35 jaar oud is, nooit voorheen karre gekoop nie. Dit het eers betreklik onlangs begin gebeur. Die afgelope jaar het motor-aankope net in dié ouderdomsgroep met 28% gegroei. In Amerika is 4 miljoen motors deur mense van dié ouderdom gekoop.

Dit maak dus sin dat motorvervaardigers na hierdie ouderdomsgroep kyk om te sien hoe hulle karre kan verbeter. Om in jou kar na musiek te luister en om steeds “connected” te voel is vir hierdie groep belangrik.

Die Mercedes GLC: ’n heerlike alledaagse ryding met luukses

Topverkopers van April 2015 tot Maart 2016?

• VW Polo Vivo
• Toyota Hilux
• Ford Ranger
• VW Polo
• Toyota Corolla

kar

Kar-apps

1. Carma Carpooling
Die app tref vir jou die administratiewe reëlings as jy saam met ander mense wil werk toe ry. Gebruik dit om te sien wie in jou omgewing ry in dieselfde rigting werk toe as jy.

2. Uber
Ek is seker jy ken al hierdie app en gebruik hom reeds. Indien nie, laai dit af en probeer dit. Met dié app bestel jy ’n kar om jou op te laai en na punt B te vat. Jy sien die bestuurder se naam, kar-registrasienommer en kan selfs bel om seker te maak jy klim in die regte kar. Jy betaal ook nie met kontant nie; die geld word deur jou kredietkaart betaal (jy gee die inligting sodra jy die app op jou slimfoon laai). Dis baie makliker as wat jy dink!

3. Waze
’n Wonderlike konsep en ’n app wat al deur baie Suid-Afrikaners afgelaai is. Hier gee ander bestuurders raad oor die roete wat jy huis toe of werk toe ry omdat hulle ook op die pad is of reeds daardie roete gery het.

4. Good Fellas
Het jy die aand uitgegaan en ’n drankie gedrink? Nou wil jy huis toe gaan, maar hoe nou gemaak met jou kar? Bestel op Good Fellas ’n chauffeur om jou in jou kar huis toe te neem.

Ons ry SA se Motor van die Jaar – Volvo XC90

Doen dit self: Lugverfrisser vir jou kar

Benodig:
Viltmateriaal
• Gare
• Skêr
• Potlood
• Bamboes-sosatiestokkies
• Essensiële olies (kies sommer jou gunsteling-geure)
• Baba-olie
• Toutjie
• Bakkie

Stap 1: Teken 2 driehoeke met jou potlood op die vilt. Knip uit.

Stap 2: Knip nog 2 driehoeke uit. Sny hulle bietjie kleiner as die eerste 2 sodat daar ’n randjie uitsteek.

Stap 3: Knip jou laaste 2 driehoeke uit. Hierdie 2 driehoeke moet kleiner wees as dié in “Stap 2″.

Stap 4: Lê jou driehoek van “Stap 1″ neer sodat sy punt na bo wys. Sny die bamboesstokkies, sodat jy die driehoek van onder na bo met hierdie stokkies kan vul. Jy lê dus die stokkies horisontaal op die driehoek neer soos jy die stokkies knip om al hoe kleiner na bo te word.

Stap 5: Gooi genoeg baba-olie in jou bakkie om al daardie gesnyde stokkies nat te maak. Gooi jou gekose essensiële olies by. Jy kan ook self besluit op hierdie hoeveelheid. Speel met geure en hoeveelhede tot jy ’n reuk kry waarvan jy hou. En laastens, gooi jou stokkies in die bakkie. Hoe langer jy die bamboestokkies in die olie laat lê, hoe langer gaan die reuk in die verfrisser hou. Jy kan dit maar oornag week.

Stap 6: Plaas jou groot driehoek plat neer en begin jou bamboestokkies daarop neersit. Plaas jou ander driehoek op die stokkies neer en werk die kante met gare aanmekaar vas. As versiering en sodat die nat kolletjies nie so duidelik is nie, plaas die ander driehoeke ook op en werk vas.

Stap 7: Werk jou toutjie aan die boonste hoek van die driehoek vas sodat hy aan jou karspieëltjie kan hang.

Lees ook

Via se Sieners deel reiswenke

Inspirasiekos met SARIE: Olyfolie + 5 dinge oor olyfolie

5 wenke om kop te hou as geldsake knyp