via logo
VIA

VIA TV praat met ons mense

Media24 se nuwe TV-kanaal, VIA, is Maandag op DStv-kanaal 147 bekend gestel. Die kanaal is gemik op Afrikaanse vroue en hul gesinne en wentel om kos, styl en verhoudings. Met 3 ure se vars inhoud elke weekdag tussen 16:00 en 19:00 word kykers getrakteer op programme wat hulle inspireer en laat lekker kry.

Kykers kan uitsien na 22 nuwe en oorspronklike programme – en ná slegs 3 dae lyk dit asof kykers reeds hul gunstelinge het.

Ons eie kosredakteur Herman Lensing is op soek na ons beste bestanddele. Hy ontmoet die passievolle persoonlikhede agter die bestanddele – en kook dan ’n feesmaal! Inspirasiekos met SARIE word op Maandae om 17:30 uitgesaai.

herman inspirasiekos via

Herman het Maandag gaan kyk hoe waterblommetjies geoes word en deel 3 heerlike resepte met ons – klik HIER.

herman inspirasiekos via

Kykers is geïnspireer deur die dapper diëters van Die Eet Oorlog wat elke weekdag om 16:30 uitgesaai word. In dié program gaan drie vroue elk op ’n ander dieet met die doel om hul leefstyl te verander en natuurlik om ’n paar kilogramme te verloor. Met die leefstylmentor dr. Albert Viljoen as hul raadgewer is die maand wat voorlê g’n grap nie.

“Vroue identifiseer met wat ons deurmaak en sê hulle sien ons as ’n inspirasie,” vertel Ernusta Wyngaard, die deelnemer wat die Banting-dieet volg. “Woorde soos ‘ons bewonder jou’ laat my sommer bloos.’’

Al die deelnemers se eetplanne is beskikbaar op viatv.co.za.

Nog ’n program wat kykers gaande het, is Zavion wat Dinsdae om 18:00 uitgesaai word (herhalings is Dinsdagaande asook Woensdae en naweke te sien). Zavion het bekend geraak as Survivor-deelnemer op M-Net en is nou die ster van sy eie werklikheidsprogram. Hy het ’n ongekende lewenslus en sy dae is gevul met sy take as glansgeselligheid-koördineerder. Daarby probeer hy ook vir die Olimpiese Spele as tienkampatleet kwalifiseer.

‘’VIA se inhoud draai om regte mense met wie ons kan identifiseer of na wie ons kan opsien. Maar ons benader alledaagse dinge op onverwagse maniere. Programme is ’n spieëlbeeld van ons kykers se werklikhede,’’ sê Cheryl Uys-Allie, VIA se kanaalhoof.

VIA spog elke weekdag met drie ure van splinternuwe episodes. Die kanaal is op DStv Premium-, Compact, Family- en Extra-pakkette beskikbaar. TV-programme is in Huisgenoot en tvplus asook op viatv.co.za beskikbaar. Volg VIA TV op Facebook, @viatv op Twitter om op datum te bly met al die nuutste verwikkelinge.

Lees oor al die programme hier: