Wat mense sê

17 JULIE se ‘Wat mense sê met Janie du Plessis’: As jou kind vermis word

Dit het destyds die hele land geruk . . .

Vandag, meer as 20 jaar later, kan baie van ons steeds hul name onthou en die onskuldige gesiggies in ons geestesoog oproep van die ses skoolmeisies wat van
1988 tot 1989 spoorloos verdwyn
 het – Tracy-Lee Scott-Crossley, Anne-Marie Wapenaar, Odette Boucher, Fiona Harvey, Yolanda Wessels, Joan Horn . . .

Maar min mense onthou die sewende meisie, die 16-jarige Joan Booysen wat dit reggekry het om uit die Pretoriase huis van die pedofiel Gert van Rooyen en sy houvrou, Joey Haarhoff, te ontsnap.

Waar die ander meisies vandag is, bly ’n raaisel. Gert en Joey is dood voor die waarheid uitgekom het. Oor die jare heen het baie mense antwoorde probeer kry, van waarsegsters wat kontak gemaak het met die meisies “aan die ander kant” tot ’n vrou wat beweer het Tracy-Lee was in ’n stadium ’n gesellin in Benoni.

In die eerste episode van Wat mense sê, Janie du Plessis se geselsprogram op kykNET, praat sy met Joan Booysen-Seyffert oor hoe dié ervaring haar lewe beïnvloed het.

Joan is een van die gelukkige ontvoerde kinders wat met haar ouers herenig is. Baie ander ouers bly hoop dat hulle hul kind weer gaan sien, al het baie tyd reeds verloop . . .

Ná 24 jaar onthou Ian Wood van George nog die presiese datum:
19 Julie 1988. Dít is die dag waarop sy 14-jarige seun, Glenn, weggeraak het. Die laaste keer dat Ian sy laatlammetjie met die mooiste blou oë gesien het.

Hulle sou daardie koue winteraand gaan muurbal speel het. Maar toe Ian vyfuur ná werk tuiskom, het Glenn hom nie soos gewoonlik ingewag nie. Ian het gehoop Glenn is saam met sy ma, Britha, dorp toe.

Maar toe sy sowat ’n uur later by die huis kom
– sonder Glenn – het hulle geweet
 hul saggeaarde seun is weg . . .

“Glenn was ’n baie verantwoordelike seun,” vertel Ian. “Toe hy daardie aand nie by die huis is nie, het ek geweet hier is groot moeilikheid.”

Ian is nog dieselfde aand na die polisie om Glenn as vermis aan te meld en ’n geselskap het na hom begin soek.

“Daardie eerste aand . . . al wat jy dink, is dit is onmoontlik dat jou seun weg is. Ek het in ’n stadium na al die polisievoertuie en -honde gekyk en kon nie glo wat besig was om met ons te gebeur nie. Dis onmoontlik om te beskryf hoe jy voel.”

Die dae sonder Glenn het gekom en gegaan. “Jy probeer aangaan met jou lewe, maar daar is elke dag iets wat jou aan hom herinner,” vertel Ian. “Dit was aanvanklik vir my baie moeilik om in Glenn se kamer in te gaan, want ek kon sy teenwoordigheid ruik. Ek het soms in die middel van die nag wakker geword en besef my seun is weg en hy gaan dalk nooit terugkom nie.”

Vir jare het Ian en Britha geglo hulle gaan Glenn weer sien, maar sewe jaar ná daardie donker nag het ’n man erken hy het Glenn ontvoer en verwurg, hoewel geen oorskot ooit gevind is nie.

Voordat Glenn vermis geraak het, was hy besig om ’n radiobeheerde vliegtuig te bou en hy het onderdele nodig gehad vir die vliegtuig se enjin. Die man het glo vir Glenn gesê hy kan die onderdele vir hom kry en hom oortuig om saam met hom te gaan.

“Dit is vandag 9 046 dae sedert Glenn verdwyn het,” sê Ian tydens ons onderhoud. “Dit is iets wat jy nooit 100% hanteer nie.”

Wanneer Ian aan Glenn terugdink, onthou hy nog sy seun se blou oë.
“Hy was kleinerig gebou,” mymer hy. “En baie slim. Sy laaste skoolrapport was so goed . . .”

’n Paar foto’s is van die min herinneringe wat Ian en Britha nog van hul seun het. “En ’n paar kledingstukke waarvan ek nie ontslae wil raak nie,” sê Britha.

“Ons sal hom nooit,
 ooit vergeet nie,” sê Ian.

Die verlange na jou kind gaan nooit weg nie, al is dit twintig jaar sedert hy weggeraak het, vertel ’n ma in die Britse tydskrif Easy Living (Junie 2012).

Kerry Needham se 21 maande oue
seuntjie, Ben, het in Julie 1991 tydens ’n vakansie in Griekeland vermis geraak.

“Soms wonder ek of Ben regtig bestaan het. Jy wonder of dit nie alles net ’n droom was nie,” het sy in die onderhoud gesê.

Sy vertel ook roerend hoe sy kort ná Ben se verdwyning in die aande by sy kamer ingestap het omdat sy gedink het sy hoor hom huil. “Maar natuurlik was hy nie daar nie.”

Sy sal haarself 
nooit oortuig Ben
is dood nie, sê sy.
“Ek weet hy lewe
 nog omdat daar iets in my is wat nie toelaat dat ek ophou soek na hom nie.”

Ook die ouers van Madeleine McCann sal nooit ophou soek na hul dogter nie. Madeleine, oftewel Maddie, het vyf jaar gelede in Portugal weggeraak terwyl sy saam met haar ouers, Kate en Gerry, en haar jonger broer en sussie, Sean en Amelie, ’n tweeling, daar vakansie gehou het. Maddie was toe byna vier jaar oud. Haar verdwyning is een van die sake oor vermiste kinders wat die meeste media-aandag nog in die wêreld gekry het. “Ons weet nie wat gebeur het nie, maar ons weet daar is ’n goeie kans dat sy nog leef – daar is niks wat die teendeel bewys nie,” het Kate vanjaar, volgens die Britse koerant The Guardian, gesê.

“Ons weet dat vermiste kinders, kinders wat ontvoer is, jaar ná jaar lewend gevind word.”

Ouers se eerste reaksie wanneer hulle besef hul kind is weg, is skok, sê Judy Olivier, nasionale koördineerder van Missing Children SA. “Hulle is dikwels in so ’n toestand dat hulle nie met jou kan praat nie. Soms kan hulle nie eens onthou watter kleur hul kind se hare of oë is nie. Dit is hoekom dit so belangrik is om altyd ’n onlangse foto van jou kind by jou te hê, soos op jou selfoon of in jou beursie.

Baie ouers is ook aanvanklik in ’n ontkenningsfase en dink dis onmoontlik dat hul kind weg is, dit kan nie met hulle gebeur nie.”

Sommige ouers verwyt hulself oor wat gebeur het en voel skuldig omdat hulle byvoorbeeld hul kind alleen laat stap het, sê Nicky Rheeder, ’n berader by Missing Children SA.

Iets wat ouers nooit verloor nie, is hoop, sê sy. Judy beaam dit: Ouers wie se kinders vermis word, gaan nooit afsluiting kry voordat hulle nie met hul eie oë gesien het hul kind is dood nie.

“Dit is hoekom ons nooit vir ouers sê hulle moet ophou hoop nie, want dis eintlik nie vir hulle moontlik nie.”

Net so kan Britha tot vandag toe nie aanvaar Glenn is dood nie. “Ek het al getreur omdat Glenn weg is, maar ek het nog nooit getreur omdat hy dood is nie.”

WAT MENSE SÊ: HET JY ‘N STORIE OM MET JANIE EN SARIE TE DEEL?

[box:full:grey:both]

WAT JANIE SÊ

Janie du Plessis

“Dit het my veral geraak hoe Joan Booysen-Seyffert as volwasse vrou die detail van haar ervaring kon onthou en so aangrypend kon oorvertel. Sy’t dikwels na Joey verwys as ‘die tannie’, asof sy vandag steeds die herinneringe as dogtertjie beleef, al het sy aanbeweeg met haar lewe.

“Toe ek met Joan begin gesels het oor wat sy dink en hoe sy voel oor die ander meisies en al die onbeantwoorde vrae, het sy merkbaar weerloos geword. Ek het besef haar eensaamheid nadat sy weggekom het, is ’n pad wat sy self moes stap.

“Ek het sedertdien baie opgelees oor vermiste kinders. In my onderhoud met Joan, waarin die kind se ervaring uitgebeeld word, is die kwessie van kinders wat verdwyn iets wat my diep ontstel. Ek wens ons kon meer doen.

Ons het nogal hieroor gepraat, want haar kinders is juis so oud soos wat sy was toe dit gebeur het. Die ongelooflike ding is dat sy nie vrees dat dieselfde met hulle sal gebeur nie. Sy is in staat om haar ervaring as haar eie te sien en dit nie op haar kinders te projekteer nie. Dis ’n belangrike les.”

[/box]

Kyk hier na eksklusiewe, ekstra beeldmateriaal van Wat mense sê

 

  • Rene Brooks

    Good Day

    I just want to enquire as to where or who is the supplier of your sets furniture.I really want those red chairs so where can i possibly purchase them from.