Instagram/ryankelly

Instagram/ryankelly

Wat mense sê

Soek jy te hard na ‘die een’?

Jy’t nog altyd geweet iewers is daar ’n sielsgenoot vir jou. Daardie een man wat vir jou bestem is, die rede hoekom jou ander verhoudings nooit uitgewerk het nie. Maar pas op vir so ’n benadering.

Aspoestertjie se prins het die hele koninkryk gefynkam op soek na die een meisie wie se voet perfek in ’n glasskoen sou pas. Sneeuwitjie kon net gered word deur die soen van een spesifieke held.

Die boodskap word dikwels van kleintyd af by jou ingeprent: ons het almal één kans op ware liefde, daardie een wat jou “voltooi” soos geen ander.

Maar as jy ’n slag rasioneel daaroor dink, wonder jy of dit regtig waar kan wees dat daar net een liefde vir jou is onder die aarde se sewe miljard mense.

Glo jy die noodlot sal julle twee bymekaar bring? Of glo jy jy kan dit máák werk met byna enigiemand?

Hoewel die meeste mense se denkwyse iewers tussen dié twee uiterstes val, lyk dit asof diegene wat hul toekoms aan die “noodlot” oorlaat, se liefdesbootjies later onstuimige waters tref. ’n Studie deur die Universiteit van Virginië in die VSA het in 2010 bevind mense wat in “sielsmaats” glo en dan met dié persoon trou, is 150% meer geneig om te skei.

Tog glo 60% van Amerikaners in “die een”, het die navorsers bevind, berig die webwerf Psychology Today.

HOE MOET ‘DIE EEN’ EINTLIK LYK?

Baie vroue dink hulle sal dadelik weet as hulle die “regte een” ontmoet, maar die waarheid is jy sal nie, sê Lu-Anne, ’n bekende Kaapse verhoudings- afrigter. “Jy laat glip dalk iemand deur jou vingers omdat jy nie onmiddellik smoorverlief is op hom nie, terwyl julle met ’n bietjie werk van albei se kant af dalk baie gelukkig saam kan wees.

“Moenie wag vir iemand om jou gelukkig te maak nie. Leer hoe om jouself só te laat voel. Dan dra die regte maat net by tot jou geluk, maar hy is nie verantwoordelik daarvoor nie.”

Moet ook nie te hard soek nie. ’n Studie wat in 2002 in die Amerikaanse Journal of Personality and Social Psychology gepubliseer is, sê mense gebruik dikwels een van twee strategieë wanneer hulle ’n besluit oor hul toekoms moet neem. Die eerste groep sal so hard en lank as moontlik na die perfekte maat soek, baie ondervinding opdoen, en elke keer probeer om te verbeter tot hulle tevrede voel met iemand. Die tweede groep besluit eers wat hulle nodig het om gelukkig te wees, en soek dan iemand wat aan daardie vereistes voldoen – en dan volstaan hulle by die besluit.

Die tweede groep, wys navorsing, is gelukkiger in hul verhoudings. “Hulle kies ’n paar noodsaaklike eienskappe wat hulle voel ’n maat behoort te hê, en is dan tevrede as hulle iemand kry wat almal het. Hulle bekommer hulle nie oor die ‘meer ideale maats’ wat
hul vriende dalk het nie, terwyl die eerste groep altyd op die uitkyk bly vir iemand beter – selfs al is hulle taamlik gelukkig,” sê die navorsers.

Tamarin sê in die algemeen is iemand “reg” vir jou as julle dieselfde dinge van ’n verhouding verwag, bereid is om daaraan te werk, eerlik kommunikeer, en dieselfde waardes het.

“Vra jouself of hy jou waardevol, geliefd en gerespekteer laat voel – en of jy ook só oor hom voel. Kyk of jy bereid en in staat is om aan sy verwagtinge van ’n maat te voldoen, met al die verantwoordelikhede, moeite en sorg waarna hy vra, en andersom.”

Ons moenie so daarop fokus om ‘die een’ te vind nie, maar eerder om iemand te kry wat ‘goed genoeg’ is en dan die verhouding in stand hou- Andrew Burnard, sielkundige van Durban

Natuurlik moet julle ook aangetrokke wees tot mekaar, sê Andrew. Dis belangriker vir sommige mense as vir ander, maar jy moet ook jou maat aantreklik vind – hetsy die persoonlikheid, lyf, intelligensie, wat ook al – om ’n intieme verhouding te kan hê. Dit is die gom wat julle deur die moeilike tye sal dra.

Moenie wag vir die regte persoon om jou te vind nie, soos die flieks jou wil laat glo nie, sê hy. “Gaan uit en doen lewenslustig mee aan die dinge wat jy geniet. Mense sal natuurlik tot jou aangetrokke wees. Dan moet jy eenvoudig daardie mense ’n kans gee, hulle leer ken, en kyk of julle pas.”

Om iemand dié kans te gee is belangrik – selfs as hy nie van die begin af vlinders op jou maag veroorsaak nie. ’n Studie deur die Waterloo Universiteit in Kanada (2013) het bevind die gelukkigste paartjies is dié wat nie noodwendig baie gemeen het en uit die staanspoor gekliek het nie, maar eerder mekaar aanvul.

Al die verskillende studies wys uiteindelik dat daar nie uit die bloute ’n sielsgenoot gaan opdaag wat in al jou behoeftes gaan voorsien nie. En uiteindelik bly die belangrikste boodskap dat jy aan ’n verhouding moet werk, jonk of oud. Niemand – ook jy – is perfek nie.

Rosamund Pike se karakter Amy Dunne som dit goed op in die fliek Gone Girl: “People have ridiculous expectations of a mate. In my grand- mother’s day you wouldn’t expect
your husband to fulfil the same need
in you as your sister, or girlfriends, or colleagues at work. You’d have different needs met by different people. Now we want all our needs met by one person, and I don’t believe it’s possible.”

TOETS JOUSELF

Vra jouself die volgende vrae. As jy met die meeste daarvan saamstem, glo jy moontlik té veel in sielsgenote en kan jy gerus jou strategie heroorweeg, sê Andrew:

• Wanneer iets in die verhouding jou pla, neig jy om te dink julle is dus nie reg vir mekaar nie?
• Sê jou naaste vriende en familie gereeld vir jou jy is te kieskeurig?
• Glo jy dis byna onmoontlik om iemand te vind wat reg is vir jou?
• Sien jy uit na die dag dat jou droomman jou uiteindelik vind?
• Beskou jy vorige verhoudings as mislukkings? (Of eerder as ’n groeiproses?)

Andrew Burnard, sielkundige van Durban

VIR HULP

Lu-Anne: www.lu-anne.co.za

Tamarin Epstein: 011 450 3576, www.psychmatters.co.za

Andrew Burnard: 076 490 6704, practice@andrewburnard.co.za