Stories

AMANDA ERASMUS: MY KIND GEBORE OP DIE HERE SE TYD EN NIE MYNE NIE

Ek wou baie graag na my seun se geboorte dadelik weer swanger raak sodat my kinders kan maatjies wees maar die Here het ander idees vir my gehad wat ek toe nie verstaan het nie. Ek was op vrugbaarheidsbehandelinge verskeie kere en het omtrent maandeliks terug gegaan na my ginekoloog vir hulp maar niks wou werk nie. Na 10 jaar was ons met vakansie toe ek baie siek geword het en my man het my op Kersdag van 2005 na die noodgevalle afdeling geneem in Rustenburg. Na ‘n ondersoek en bloedtoetse het die dokter aan diens terug gekom en vir my gesê baie geluk. Ek en my man was stomgeslaan want ons het nie ‘n idee gehad waarvoor sê die dokter geluk nie. Sy het ons verwardheid gesien en vir my gesê ek is omtrent 5 weke swanger. Ons was uitbundig van vreugde maar die vreugde was van korte duur want ek het 7 weke later ‘n miskraam gehad agv te veel skokke op 1 slag. My niggie het dood verongeluk en die dag na haar begrafnis is my oom vermoor in sy huis. Weer het die maandelikse behandeling begin by die ginekoloog maar teen hierdie tyd was my dr. al baie mismoedig. Nog ‘n vriendin van my wat saam met my swanger geraak het en dieselfde tyd as ek ‘n miskraam gehad het was ‘n jaar later op kraamverlof en ek was baie depresief en sy het my na ‘n homopaat toe verwys in Florida wat haar gehelp het. Ek en my man het besluit ons kan niks verloor deur hom te gaan besoek nie en tot vandag toe het daardie man nie eers ‘n idee wat my naam is nie want hy het my dadelik toe hy my sien gevra wat die probleem is en hy het nadat ek verduidelik het dat ek nie kan swanger raak my ‘n lang ruk aangestaar en toe vir my gevra wanneer laas het ek gebid. Ek was sprakeloos en het gesê maar ek bid elke dag hy het sy kop geskud en weer gevra maar wanneer laas het ek opreg gebid en toe vir my gesê die oomblik toe ek by die winkel se deur instap het die Here my aan hom uitgewys om mee te praat. Hy het vir my gesê hy is ‘n groot christen en dat my baba wat ek verloor het tussen my en die Here staan en dat ek moet vrede maak dat my seun gelukkig is by die Here. Hy het weg gestap van my af want op daardie stadium het alle mure wat ek in my opgebou het stukkie vir stukkie gebreek en ek was buite myself. Na ‘n rukkie het hy terug gekom en vir my gesê hy gaan my nie behandel nie ek moet eers gaan regmaak met die Here en dan terug kom vir behandeling. Ek was vir dae daarna in ‘n toestand en iemand het vir my Facing the Giants gebring om te kyk. Ek en my man het die DVD saam gekyk en dit was asof my lewe voor my afgespeel het. Ons het so gehuil en terwyl ek nog trane afgevee het, het ek verby my kerk almanak gestap en die volgende woorde daarop gelees wat ek nog nooit van te vore raak gesien het nie: “Here maak my hart stil dat ek na U influisteringe kan luister.” Ek het terug gegaan na my man en vir hom gesê dat ek gereed is om te bid. Hy het die Bybel gevat langs my kom sit en vir my gesê ek moet kyk op my dagstukkies sodat ons kan sien waar in die Bybel moet ons lees en ek het my kop geskud en gesê NEE vandag maak ek net die Bybel oop en daar lees ek. Ons het oopgemaak by Joh. 16 vers 23 en 24 Daardie dag sal julle nie meer vrae aan My stel nie. “Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. 24 Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” Ek het vir my man gesê dit is die Here se belofte dat ek wel nog ‘n kind sal hê. Maar soos die mens maar is het ek weer in my geloof begin wankel en is weer terug ginekoloog toe en hierdie keer was die uitslae nog minder bemoedigend want my dr het my na ‘n firtiliteitskliniek in Pretoria verwys omdat hy niks meer vir my kon doen nie. Daar gekom het die dr. my op firtiliteits inspuitings gesit en na ‘n maand wat ek hom geskakel het wat ek reeds op die behandeling was vir my gesê hy sit met sy hande in sy hare want my liggaam reageer glad nie op die behandeling nie. Ek het vir my man gesê dit is klaar dis al 12 jaar. As die Here dan wil hê dat ek nog ‘n kind moet hê dan moet Hy dit vir my gee. Ek gaan nie meer 1 dag verder gaan vir behandeling nie want teen daardie tyd was ek al so depresief ek wou al selfmoord pleeg. Dit was Desember en ons is met vakansie. Na die vakansie het ek besluit nou gaan ek op my ligaam konsentreer en begin gewig verloor. Ek het by Weigh Less aangesluit maar is daar ook ontnugter want ek kon nie gewig verloor nie. Die leidster het vir my gevra of ek nie swanger is nie en ek het histeries aan die lag gegaan en vir haar gesê DIT is die 1 ding wat ek beslis nie is nie. Sy het gesê as ek die volgende week weer nie verloor het nie gaan sy aandring op ‘n swangerskaptoets. By die huis het ek en my man besluit ons gaan solank ‘n toets doen net om vir haar te bewys dat dit nie die probleem is nie en toe word ons verkeerd bewys want die urientoets het omtrent dadelik positief gewys. Ek wou dit steeds nie aanvaar nie en het dadelik gery om bloed te gaan trek. Ek het skaars gesit nadat hulle die bloedtoetse gedoen het toe die dame vir my kom sê het dit is positief ek is swanger. Ek het gejubel en het dadelik daaraan gedink dat die Here ‘n belofte aan my gemaak het en dit nagekom het. Nog altyd het ek gesê as ek eendag ‘n dogter gaan hê gaan haar naam Melandie wees. Net nadat ek uitgevind het dat dit ‘n dogter is het ek besluit haar naam moet ELZAAN wees. Almal wou weet hoekom nou die naam verandering en ek het net gesê daar is geen rede dis ‘n naam wat by my opgekom het en ek hou daarvan. ‘n Vriend het vir my gesê om die naam se betekenis te gaan oplees want hy glo ‘n naam beteken baie. Ek het internet gaan fynkam en kon nie die naam ELZAAN vind nie maar wel ZAAN wat afgelei word van die naam HANNA wat verhoorde gebed beteken. Toe ons gaan om ons doopbeleidenis te doen en dit met die dominee bespreek het hy dit baie interesant gevind en vir my gesê dat die woord EL beteken GOD so die naam ELZAAN beteken GOD SE VERHOORDE GEBED. My dogtertjie is Oktober al 4 jaar oud en sy is ons sonstraal die lig in ons lewe.