Stories

Anoniem: Ek het bipolariteit en selfdood eers verwerk nadat ek self die paadjie geloop het.

Sarie se Julie artikel oor die ma met die bipolere seun en die Augustus artikel oor Kolletjie se sussie se klipperige pad met geestesgesondheid het my baie diep geraak. Soveel meer so Janie se artikel oor die mense wat vertel van vrede maak na geliefdes hulle eie lewens geneem het. My pa het in op 1 Okt ’97 sy lewe met ‘n pistool geeindig. My dogtertjie was vyf weke oud. Sy het rooi hare gehad. My pa wou baie graag ‘n rooi kop dogtertjie hê, want my ma is ‘n vurige rooi kop. Ek het gedink dit kon hom gelukkig kon maak. My pa se dood het baie meer as net die mat onder my uitgetrek. Dit het my hele verwysings raamwerk stukkend geslaan. My pa was vroeër as maniese depressief gediagnoseer. Ons het dit nie bespreek of verstaan nie. Hy was ‘n volbloed patriaag en alhoewel hy seker gematig aangetas was, was ons verhouding geweldig gekompliseerd. Hy was die persoon vir wie ek die liefste en sielsgewys die naaste aan was. Hy was egter ook ongenaakbaar en onvoorspelbaar in sy optrede. As kind was ek bang vir hom, niemand anders nie. Onderliggend was ek altyd op my hoede by hom. Vandag weet ek dit was intuitief omdat hy werklik met tye irrasioneel opgetree het. Dit was gewoonlik as dinge vir hom verkeerd was, werksgewys of persoonlik gewys. Dan het ons dit ongeld. Ek onthou hy het ek en my klein boet een maal geroep. Ek was tien of twaalf. My boetie vier of ses. Hy het gesê my ma het te veel hooi op haar vurk. Ons behandel haar soos ‘n bediende. Hy het egter die neerhalende woord gebruik. Hy het gesê ons moet net daar vir haar sê: “Jy is ons ….”. Ek het geweier. Hy het gesê hy sal my slaan tot ek so sê. My boetie het agter my weggekruip. Ek het hom altyd beskerm en getroos as dit woes was. Soos ek ouer geword het het ek hom meer begin teë staan. Dit het glad nie goed afgegaan nie. Ek het jonk getrou om onder sy voete uit te kom. Ek kon nooit bande met my ouers sny nie, want ek is ‘n familie mens en ek is regtig lief vir my ouers. Daar was egter baie wat ek onderliggend nie verstaan het en logies nie kon verklaar nie. My broer is op een-en-twintig Taiwan toe, hy vir my gesê dit is nie ver genoeg nie. Kort voor my pa dood het ek vir my man gesê ek wil voorstel dat ek en my pa vir berading gaan. Die ondelinge strominge in ons verhouding het my ontstig en ons kan nie op die trant aankarring nie. Na sy dood het ek in sy dokumentasie uitgevind hy is ook met hoe graad van narsasisme gediagnoseer. Hoe hy die inligting bekom het is ‘n ander storie. Ek besef vandag bipolariteit en narsasisme gaan hand aan hand. Hierdie mense moet soveel energie insit om dinge vir hulle self reg te maak dat die verhoudinge met mense om hulle verskeef en afgeskeep is. Die verwerking van sy dood, as daar so iets bestaan,het jare in beslag geneem. Pynvolle jare, genoeg trane om die see vol te maak. Ek kan daaroor self ‘n boek vol skryf. Dit is egter nie wat ek vandag met Sarie wil deel nie. My werklike genesing van sy dood het egter gekom toe ek drie jaar gelede self met bipolere depressie gediagnoseer is. Dit opsigself was vir my ‘n geweldige krisis. Ek was sewe en veertig jaar oud. Ek was suksesvol in my werk, familie en persoonlike lewe. Ek het my eie lewensuitdagings, meestal met ‘n gesonde en gedissiplineerde leefstyl, bestuur. Ek het, ten spyte van my gebrekkige insae in my pa se uitdagings, geweldige deernis vir mense se psige en emosies gehad. As ek nou terug kyk het ek wel geestes en gesondheids krisissse beleef. Ek het dit oorkom omdat ek ‘n rotsvaste man het. Hy is psigies ongekomplieerd en emosioneel baie gelykmatig. Ek is ook psigies en emosioneel meer wys en weerstandig. Dit het egter nie die onderlinge siekte genees nie. Ek was in my motor kort nadat ek ‘n skaapnek gereg verbrand het. ‘n Gereg wat ek wou maak om gekoestertheid te skep en normaliteit te bewerkstellig. Ek het agter ‘n groot trok gery. Ek het gedink as ek my voet hard neer sit kan ek in die trok jaag en dan is alles wat pla weg en verby. Ek het gelukkig ook in daardie oomblik besef daar is ‘n reuse krisis. Ek het geweldig gehuil. Ek was emosioneel moeg en broos. Tuis het my man my probeer kalmeer en my van agter af vasgehou. Ek het met soveel geweld losgeruk, ek het ‘n paar van sy ribbes afgeruk. Ek het om daai trok krisis my man se braaipan (Franse ontwerpers item) met skaap en al in die asblik gegooi na ek dit teen die muur geslaan het. Ek het die tennis rakket verwoed teen die muur geslaan tot my man dit weggeneem het. Ek wou die bal teen die muur by die skool se tennisbaan gaan uit slaan maar die baan was gesluit. Ek het om en om die atletiekveld gehardloop om die water uit die oorvol dam te kry. Ek het deure in die huis tot in hulle koesyne geskud deur deure te slaan. Party koesyne is vandag nog los. Ek het my pa in myself erken, ‘n onaanvaarbaee optrede wat ek altyd teëgestaan het, wat ek nie as ‘n mens was of wou wees nie. My dokter het my na ‘n psigiater verwys. Die antidepressante wat sy ‘n paar maande tevore voorgeskryf het het my wawyd wakker en hiper skerp gemaak. Die psigiater het bipolariteit gediagnoseer, my pille verander, my vir twee weke afgeboek en my ‘n 24 uur nommer gegee om te bel. Sy het duidelik nie die vak “bedside manners” geneem of geslaag nie. Ek was weereens in ‘n krisis. Ek het my kar teen haar hek gestamp. Nie aspris nie. Sy het pas die doodvonnis oor my uitgespreek. Bipolariteit en selfdood was vir my een en dieselfde ding. My werknemer se “wellness” sielkundige het my na ‘n tweede psigiater verwys. Ek is vir twee weke opgeneem op my eie versoek. My medikasie moes vining onder observasie verander word. Ek was so sielsmoeg ek het gevoel die dokter moes my eerder in ‘n koma sit om my kop af te skakel. Ek was saam met dwelm en alkohol verslaafdes in ‘n 24 uur sekuriteit fasiliteit opgeneem. Een man is met ‘n polisie vangwa ingebring. Hoe risiko pasiente is in ‘n spesiale area geobserveer en kritiese pasiente is oorgeplaas na ander hospitale. Verskeie van die pasiente het tevore selfmoord pogings uitgevoer. Jy kon net die perseel verlaat as jy jouself medies uitgeteken het. Selfone is beperk tot half uur per dag. Pille is gereguleer. Ons het almal die dokter daagliks gesien. Agtien van die twintig pasiente het gekettingrook. ‘n Omgewingsfaktor wat my geweldig ontstig. Ek het afstand gehou en vriende gemaak met die ou oom wat nie rook nie. Ek wat ses weke va die werk af. Toe ek terugkeer werktoe was daar ‘n snaakse wolk om my afwesigheid. Niemand het iets gesê of gevra nie. Maar ‘n lekker storie loop mos maar. Een kollega het gesê: “Ag nee wat man jy lyk spek vet en gesond.” My werk het gely. Ek het my werklikke diagnose aanvanklik van my baas weerhou. Ek het so bes moontlik probeer herstel. My stresvolle werksomstandighede het die teen uitwerking gehad. Ek was in ‘n senior verkoopsposisie in die inligtingsgedryf. Op ‘n vergelykingskaal soortgelyk aan beleggingsbankiers in die bankwese. My werk het top prestasie, kompeterendheid en toegewydheid behels. Ek is twee jaar later ten spyte van ‘n dapper poging die keuse gegee tussen ‘n dissiplinêr vir onderprestasie en ‘n vier maande skikkingsoffer. Die psigiater het tydelike ongeskiktheid voorgestel maar die mergeling tussen ‘n onsimpatieke baas wat sy pond vleis wou hê en my gesondheid, het ek helaas die skikking aanvaar. Dit skikking opsigself vir my moeilik. My pa het drie jaar voor sy dood op ongeskiktheidpensioen gegaan – hy was drie en vyftig. Ek het nog een keer ‘n selfmoord impuls gehad – ek wou by ons kamer se ballon uithardloop en die ewige vrede in vaar. Ek het nog een groot geestelike krisis beleef toe ek my eie skilderye stukkend gesny het, my goed gepak het en verwoed die nag ingevaar het. Ek het besluit om te ry tot ek by die see kom. Miskien sou ek in die Karoo stop en net wegraak. Ek het gespark op ‘n kleinigheid. Weereens druk verwant. Ek het tot insig gekom toe ek besef hoe donker is die hoë weg buite Johannesburg in die middel van die nag en hoe gevaarlik die vele padwerke is. Vandag is dit drie jaar na my diagnose, dertien maande nadat ek uit my pos bedank het. Ek het Desember besef ek is gesond – in remissie soos die kanker pasiente sal se. Ek was verlig en verheug, die Here ewig dankbaar. Daar was ‘n tyd wat ek in my lyf kon voel en in my kop geglo het ek gaan nie beter kan word nie. Dit het my ‘n goeie twee jaar geneem om die diagnose te aanvaar en seker ‘n jaar om daarby te berus. Ek drink nou pligsgetrou my medikasie – antidepressant, slaappil en lithium. Ek het eers kort gelede berus dat dit so moet wees. Ek het besef my pogings om my pille aft e skaal of te los is vrugteloos. As mens op ‘n goeie plek is is dit maklik om te dink jy is ok en dat jy daarsonder kan regkom. Ek sal nou met die medikasie se newe effekte saam lewe, al maak dit my emosioneel apaties en minder gedrewe. Die Here het my vrede gegee oor my pa al was dit ‘n kameel deur ‘n naald se oog. Ek het in my pa se skoene geloop vir n wyle en ek weet nou waar hy was. Ek oordeel nie meer nie, ek is nie meer kwaad of seer of teleurgesteld nie. Ek verstaan net. Ek het aanvaar en berus. Ek wens ek kan, met vandag se insae, met hom gesels. Sê ek verstaan en dat ek steeds en nog altyd lief sal wees vir hom. Daar is baie oordele. Ek sal ook nooit publiek gaan terwyl ek nog my brood moet verdien nie. Net vriende wat ek vertrou en wat my werklik ken weet van my toestand. Ek dink nie eers my broer verstaan nie. My ma is meer aanvaardend want sy het al die pad geloop. My man is lief vir my. Die laaste paar jaar het hom en ons getoets. Hy kan nie alleen onse kruis dra nie. Hy het nog nooit gekla of veroordeel nie. Hy was al op en baie bekommerd. Soos diabete van suiker moet wegbly moet ek stress bestuur. Ek verduidelik dit bes aan die hand van ‘n person met ‘n sensitiwiteit vir son. Hulle moet dit liefs vermy anders word hulle bloedrooi en brand blase. Hulle kan pille drink en son faktor aansit maar hulle bly nog sensitief en moet liefs die son vermy. Ek reageer dieselfde op eksterne stress faktore: gemorskos, slegte of ongereelde slaappatrone, ooroefening, oorsee vlieg, tydsones, oormatige dieët, wisselende suikervlakke, koue, winter, negatiewe mense en omstandighede en ja emosionele lewenskrisisse. Die medikasie help om my response af te plat – beter hanteerbaar te maak. Ek kan alles in my lewe redelik effektief bestuur. Ek kan net nie die invloed van eksterne faktore – mense en situasies meestal – onverpoos hanteer nie. Ek kan ook nie van die wêreld onttrek nie, want ek moet my brood verdien. Ek hanteer wel moeilike mense en situasies al baie beter. Wat sê ek vir die mense wat vrede soek. Ek weet hoe erg dit is vir die wat agter bly en met die pyn deel . Maar weet asseblief een ding – dit gaan nie oor jou nie. Eers as mens regtig daar is weet mens wat dit is. ‘n Persoon met depressiewe of bipolêre depressie of selfdood gedagtes (self al is dit net vlieende impulse) is siek. Hulle kan optrede of reaksies net tot ‘n mate beter bestuur. Vergelyk dit met ‘n diabeet wat al omgekap het of die bleek velletjie wat verbrand het. Sterk karakter, dissipline en geloof gaan daai persoon nie deurtrek nie. Ten spyte van wat mense dink is hierdie nie ‘n swakheid of gebrek aan dissipline nie. Ek gaan haal of soek nie ‘n hoog of laag nie. In teen deel ek sal albei teen alle koste vermy. Dit is nie lekker soos ‘n regte rollercoaster nie. Party mense glo dit is ‘n beroerte op ‘n senuwee sel vlak. Ek relate nogals want na ‘n high is mens depressief moeg en dit neem soms lank om te herstel. Ek kon jare nie regtig rooi hanteer nie. Dit was ‘n kleur wat my emosioneel ontstig het. Ek en my ma het albei rooi aangetrek met my pa se begrafnis in eer tot sy nagedagtenis. Dit was sy geliefde kleur. Desedae trek ek baie rooi aan, nie vir hom nie, omdat ek dit nou sonder omstuimigheid kan omhels. Ek sluit af met wat ‘n jarelange vriendin gesê het nadat ek haar vertel het van my diagnose. Sy het self ‘n werker gehad wat lithium moes gebruik en sy het die onderwerp goed nagevors. Sy’t gesê: “Ek het nog altyd die wêreld se respek vir jou gehad – persoonlike en werksgewys. Nou dat ek weet teen watter odds jy jou suksesse bereik het ag ek jou net soveel te meer”. Ek kan dieselfde sê oor my pa.

  • Elbie Parsons

    SHOE !!!!!! Ek bewonder jo dat jy dit oorkom het en dink jy is baie baie gelukkig om n man te he wat geduldig eenkant v jo gewag het en wat jou vandag verstaan. Nou lyk my BP na n vulletjie.

  • Janie du Plessis

    Baie dankie dat jy jou storie met ons gedeel het!

  • Elrika Claassen

    Sterkte vriendin! Hou jou kop bo die water n Ongelooflike verhaal – jy het jou pa vergewe en nou aanvaar jy jouself en vergewe ook jouself. Nou kan jy opkyk en vorentoe beweeg. Ek hou vir jou duim vas….