Stories

Corne Basson: Depressie & Uitbranding

My Facebook inskrywing, sms en WhatsAp na familie en vriende lees as volg op 20 Augustus 2012: “1 Jaar, 1 Dag later. Ek leef uit dankbaarheid. Dankie aan my familie – julle is die heel beste. Dankie aan my kosbare vriende. Dankie aan die Engele by Serino. www.lifepathgroup.com “God’s grace is always on hand to help us handle whatever we’re dealing with now, at this moment. His grace for tomorrow will arrive tomorrow – when we need it.” Joyce Meyer Ministries as per 7 August 2012 Ek loop ‘n pad met depressie, maar 2011 was ‘n besondere moeilike jaar. Daar was baie dae wat ek gedink het ek nooit sal beter raak nie, nooit sal oorleef nie. As ek terug kyk sien ek hoe Hoop en Genade soos ‘n goue draad deur my 2011 geloop het en dit gemaak het dat ek aangehou het en nie opgegee het nie. Ek is diep aangeraak. Vandag is Hoop en Genade meer as ooit deel van my lewe en probeer ek ook Hoop aan ander bring. Om met depressie gediagnoseer te word is nie ‘n doodsvonnis nie, en met die regte behandeling en nodige hulp kan ‘n mens leer om daarmee saam te leef. My depressie, en daarmee saam ook uitbranding, het meegebring dat ek vir 3 maande op tydelike ongeskiktheidsverlof was en vir 3 weke opgeneem is in Serino Kliniek (19 Augustus 2011 ontslaan – vandaar bogenoemde inskrywing). Gelukkig was my werkgewer baie simpatiek. Ek is in die bevoorregte posisie om ‘n wonderlike Psigiater en Sielkundige te hê met wie ek die pad loop. Hulle is baie ondersteunend. Die ondersteuning van my familie en vriende is steeds oorweldigend en daarvoor is ek baie dankbaar. Dit is hartseer as mense met depressie nie die nodige ondersteuning kry nie. Daar is al baie gesê oor depressie medikasie. Ons moet onthou dat ‘n Psigiater ‘n spesialis is in ‘n siektetoestand wat baie kompleks is. Hulle weet die beste wanneer dit by die voorskryf van medikasie kom. Dis belangrik om die medikasie te neem soos voorgeskryf en dit nie net sommer te los nie. Die brein is baie kompleks, en neem dit soms ‘n tyd voor ‘n sekere kombinasie werk of sekere medikasie die regte uitwerking het. In my geval het dit ook ‘n tyd geneem voordat dit gewerk het. Ja, daar is newe effekte aan die begin, maar so is daar ook newe effekte wanneer ‘n mens ander tipe medikasie gebruik. Uitbranding het my tot stilstand geruk en moes ek herbesin oor my leefwyse en prioriteite. Te veel stres oor ‘n lang tydperk het my siek gemaak. Ek was boonop meer as gewoonlik geïrriteerd, ongeduldig en vreeslik moeg. Ek moes leer dat 80% ook goed genoeg is – dat ek nie alles teen 120% hoef te doen nie. Ek het geleer wat dit is wat my siel gelukkig maak. Vir my, hoofsaaklik om tyd in die natuur deur te bring, te kamp, tyd in die Karoo, na mooi musiek te luister, naby water te wees, om tyd in stilte deur te bring. Ja, soms moet ‘n mens net stil wees / raak. Nou sorg ek dat daar genoeg geleenthede is / dat ek genoeg geleenthede skep om my siel te voed. Ek het rebelleer teen oefening, maar besef nou hoe belangrik oefening is, al beteken dit om net om die blok te gaan stap. Elke persoon moet uitvind wat hom / haar gelukkig maak. Dit is belangrik dat elkeen van ons tyd met onsself deurbring (al beteken dit jy moet ‘n afspraak met jouself in jou dagboek maak). Die kwaliteit tyd wat jy met jouself deurbring sal tot voordeel van jouself en die mense rondom jou wees. Ons is te hard op onsself. Ons moet saggies met onsself omgaan, onsself pamperlang en lief hê. Koester jouself. Leef jou eie lewe. Jy is belangrik en ‘n baie unieke persoon. Ons moet mekaar waardeer. My droom bly dat Depressie as ‘n siektetoestand erken en aanvaar sal word – nie soos tans waar daar steeds ‘n stigma aan kleef nie. Ek sien depressie as ‘n siekte van die brein. ‘n Mens is nie mal nie en jy kan jouself nie net sommer regruk nie. Oktober is Wêreldgeestesgesondheidsmaand (World Mental Health Awareness Month). Ek hoop dat daar meer bewustheid geskep sal word vir Depressie. Deur my storie te vertel hoop ek dat ek ‘n positiewe en opbouende bydrae kan lewer. Dankie Sarie vir wat julle reeds vir ons doen. Dankie Janie vir jou program. Dankie vir die deernis waarmee julle moeilike onderwerpe aanpak. Dankie aan mense soos Prof Lizette Rabe en Jeanne Els wat openlik oor Depressie praat. ‘n Mens besef nooit hoe sterk jy regtig is nie, totdat jy deur ‘n krisis gaan. Soms moet ‘n mens 1 tree op ‘n slag neem, ander tye 1 dag op ‘n slag. Deur al die krisisse leer ‘n mens, wat jou dan weer help wanneer ‘n volgende krisis jou pad kruis. My reistog gaan voort. Soms sal ek in die stroomversnellings van die lewe vasgevang word, maar nie ophou baklei nie. Ek weet waar my hulp vandaan kom. Daar is altyd Hoop.

  • Ma Marie

    So trots op jou!
    Soms gedink ons gaan nooit ons kind terug kry nie! Dankbaar om te kan sê ons het ‘n nuwe kind terug gekry,wat nou na die wêreld kyk met ander oê, steeds omgee vir almal rondom haar, maar ook weet wanneer om nee te sê!

  • Janie du Plessis

    Corne, jou storie gaan beslis baie ander mense help. Baie dankie. Dis so waar…80% is genoeg – (dis nog steeds ‘n onderskeiding!) Die raad wat jy gee is prakties en werklik die eerste treetjies na gesondheid. Voorspoed.

  • Lois

    Corne, my vriendin, jy het deur n moelike jaar nog steeds n ware, lieflike vriendin gebly, en is nog steeds! Ek bewonder jou krag, moed en jou wonderlike menswees, mag almal in hul lewens geseend wees met n vreindin soos jy… jy is voorwaar n insperasie!

  • Michelle

    Dankie Corne dat jy jou storie met die publiek deel. Ek hoop en vertrou dat dit gee MOED vir ander.

  • Alexandra Wium

    Corne, jy is n ware inspirasie. Jou woorde oor dat n mens moet tyd maak vir n "my" en dat 80% partykeer ook genoeg is, is net weer n bevestiging vir my. Dankie dat jy jou storie gedeel het almal kan iets leer uit jou ware woorde. X