Stories

Marie Watson: Die “Opstropelis Maria”

Ek is gebore op 7/7/1964 op Vryheid in KwazuluNatal as enigste dogter en, veronderstel om te wees, ‘n laatlam vir my moeder, toe 44 en liewe vader van 55. Dit was my nie beskore nie want my moeder wat veronderstel was om ouma te wees vir my oudste boetie van 21 se eersgeborene se vrou het besluit om hom te verlaat en hy het nie kans gesien om die seuntjie van 7 maande groot te maak nie en het hom by my ma kom aflaai. Nodeloos om te sê het ons as boetie en sussie grootgeword en het hy vir Ouma begin Ma sê en vir my Sussie. Middelkind, Boetie, soos ons hom genoem het, het natuurlik nog meer middelkind gevoel, nog meer aandag gesoek en onttrek. Pa was kondukteur op die treine en het 18 ure skofte gewerk. Ma het klere gemaak en was tuisteskepper met die blinkste stoepe op die dorp. Op 5 het ons Louis Trichardt toe getrek. Traumatiese kinderjare, dink ek. Kan nie so mooi onthou wat alles met my gebeur het nie. Baie baklei, boeties wat voorkeur kry, ek wat slae kry vir hulle part. Toe ek groter word raak “aanneemkind” die pad byster, verlaat skool, gaan tronk toe. Sy pa sterf geweldadige dood. Ander boetie gaan Durban toe, raak betrokke met dagga, alkohol. Ek besluit ek moet uit die huis kom. Maak nie my studies klaar nie – verlief, dom, onnosel, trou vroeg. Hê my kinders vroeg. Twee pragtige seuns, slim, talentvol, van kleins af gewild, sportief, leiers, maak hulle so te sê alleen groot, pa in lugmag – baie weg van huis. Toe, 2006, Tommie (18) in matriek, hoofseun, speel rugby na hoofbesering tel weer hoofbesering op na ‘n duikslag. Hy word breindood verklaar en ‘n dag daarna skakel ons die masjiene af. Ons het hom nie ‘n kans gegun nie! ‘n Maand na hom val (of slaan my “mal” middelbroer my ma met sy driepootkiere oor haar kop – ek weet tot vandag toe nie wat het gebeur nie) van ‘n stoel af en doen ook ‘n breinbesering op en sterf. Ek neem my broer wat tien jaar terug ‘n beroerte op 42 gehad het in my sorg. Hy begin my ook aanrand. Ek laat hom opneem en in ‘n tehuis plaas want ek is nie in staat om na hom om te sien nie. Tussenin teister die aangenome “boetie my want hy wil nie werk nie, hy het ‘n vrou en ‘n kind maar hy wil nie werk nie. Hy was gewoond daaraan dat my ma (sy ouma) vir hom kos en blyplek gegee het as dit nou regtig moeilik gegaan het en middelkind boetie nie te erg daaroor gekla het nie. Hy wil ook sy pond vleis van my he en ek kan net nie meer gee nie. Ek het niks om te gee nie. My kind is dood, My ma is dood, Ek voel dood. Ek rou, ek is seer, ek is leeg, ek besef nie eers ek het nog ‘n seun wat lewe nie en toe, en toe ‘n jaar en ‘n maand na sy boetie, spring ouboet (21) by ‘n bewegende motor uit, sy vriende neem hom nie na die naaste hospitaal, kom by ‘n hospitaal, hulle dink hy het net te veel alkohol ingeneem, doen geen noodbehandeling, hy sterf binne drie ure aan ‘n ernstige hoofbesering. Niemand doen iets daaromtrent. Ek is in ‘n waas, weet niks van sy begrafnis. Ek en my man gaan aan vir nog twee jaar. Sy broer gaan oral saam ons, met vakansie, ons deel ‘n karavaan, ons deel alles, het geen privaatheid, ons praat nie oor ons verlies, ons verstaan nie mekaar se verlies. Sy broer beheer ons lewens, hy besef dit nie. Tot op ‘n dag – ons hou nog vakansie in die karavaan wat sy pa vir ons agtergelaat het. Sy broer verkoop die karavaan aan mense terwyl ons nog vakansie hou en se vir die vrou sy kan alles neem wat daarin is. My ma se goed is daarin se ek, kan ek ten minste ‘n se daarin he, vra ek. Hy begin my vloek, my man vat sy part. Toe besluit ek, ek het my man ook afgestaan, nie aan die dood nie maar aan sy broer. Toe besef ek ek moes seks he met my man terwyl sy broer in dieselfde karavaan as ons geslaap het, hoe siek was dit nie? Hoeveel keer het dit nie gebeur nie? Is dit waaraan ek myself blootgestel het? Ek besef toe ek kan nie meer nie, ek wil nou net allleen wees, ek het niks en niemand nie. En nog teister aangenome boetie my. En nog is die egskeiding nie afgehandel nie want mnr X het besluit hy koop sy polisse af. Sy kan maar nog swaarder kry. Hoekom sal hy nou vir die nuwe liefie wat so vinnig daar was afskeep. Ek wat maar altyd moes sorg vir alles in die huis. Wat maar skuld moes aangaan sodat daar kos, vleis, skoonmaakgoed, en al die ander dinge in die huis gedoen word. Hoekom sal hy dan nou vir haar sorg. Die kinders is in elk geval weg. En weet julle ek is so kwaad want Tommie moes nie daardie verskriklike dag rugby gespeek het nie, want weet julle ek het geweet hy het seergekry die week voor daardie verskriklike dag en almal het dit geweet maar hulle het hom laat speel!! Hulle het hom wragtig laat speel! En nou is my kind dood en ek is opstropelis daaroor! Ek is na 6 jaar en amper twee maande wragtig opstropelis en dis daaroor dat my oudste kind ook aan depressie gely het en die verdomde deur oopgemaak het en uit die verdomde motor geklim het en op die verdomde rotse wat op die eiland in die middel van die pad gepak was geval het en sy breinstam so erg beseer het dat hy aan die bloei gegaan het en doodgebloei het en ‘n dokter wat te dom was om dit raak te sien het dit nie gekeer nie!!!! En ek was te laat om die laaste keer te groet en vir hom te sê hoe lief ek hom het en hoe jammer ek was dat ek vir ‘n jaar nie gelewe het en daar was vir hom nie. Hoe jammer ek was dat ek hom nie ondersteun het soos ek moes nie en dat as dit waar was soos sy pa in ‘n brief aan hom gesê het ek hom dalk “geteister” het, ek verskriklik jammer was daaroor en dat ek dit onbewustelik gedoen het. Daar is so baie om te sê oor wat met my gebeur het in 48 jaar van my lewe. Ek wil eintlik ‘n boek skryf, maar weet nie waar of hoe om te begin nie. Al wat ek weet is dat as ek dit doen ek dalk bevry gaan wees van alles wat ek in my ronddra, al die swaarkry, al die vernederings, al die vertrap. Ek wil net nie vergeet van die twee wonderlikste ervarings van my lewe en dit was die geboorte en grootmaak van seker die twee mooiste seuns in die wêreld nie. Hulle was so spesiaal, het soveel mense aangeraak, het soveel liefde gehad en uitgedeel. Ek mis hulle ongelooflik en wil so graag hulle storie met mense deel. Ek moet ook vertel dat die laaste jaar van my lewe het ek sterker geword en na my egskeiding het ek besef dat ek ‘n mens in eie reg is en dat ek nie onderdanig hoef te wees nie en dat ek ‘n mens is wat ook standaarde het en het ek weer in myself begin glo. Sodanig dat ek ‘n spanleier kon word in direkte bemarking en weer die selfvertroue kon ontwikkel om voor mense te kan praat. Iets wat doodgedruk is vir jare veral die laaste 6 jaar want dit was begrawe saam my seuns. Ek wil vertel van vrouwees, van nie hoef in te gee wanneer daar aangedring word op gemeenskap binne ‘n beperkte ruimte waar daar ander mense ook in die prentjie is nie. Wanneer jy gedwing word om toe te gee aan dinge waarvan jy nie hou nie anders word daar vir jou gesê jy is nie lief nie. Of jy word eenvoudig net oorheers omdat jy nie sterk genoeg is om te keer nie. Dan kry jy die volgende oggend net ‘n sms wat sê “ek is jammer, dis nie hoe dit behoort te wees nie” en alles verder is maar “OK”. Ek wil vertel van vakansies wat so verkeerd uitdraai dat daar nie een woord met jou gepraat word vir 1500 km nie. Net omdat jy gesê het jy het lankal gehoor daar is ‘n moontlikheid van ‘n buite egtelike kind en as dit so is, gaan soek na hom, jy sal hom aanvaar en jy gun hom dit want dan is daar ten minste vir hom die moontlikheid van ‘n kleinkind. Onthou ek gaan niks hê nie, het niks nie… Hoe en waar begin hierdie opstropelis Maria om haar verhaal te woord te bring? Hoe en waar vertel hierdie moeder Maria van haar Thomas Ignatius en Jacobus Cornelis kinders? Miskien kan Janie my hiermee help – ek het soveel om te vertel